Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gevierde feministe besin oor geslagsgelykheid tydens Vrouedaggeleentheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/08/2019

​Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Vrouemaand gevier met die tema Against All Odds in die JS Gericke Biblioteek van die Universiteit Stellenbosch.

In haar openingsrede het prof Pregala Solosh Pillay, vise-dekaan: sosiale impak en transformasie, die gassprekers, Dekaan Ingrid Woolard en die aanwesiges verwelkom.

Sy het gesê dat vooruitgang in die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid in Suid-Afrika ontstaan het as gevolg van swaargewonne oorwinnings en opofferings. Daar lê egter nog 'n lang pad voor om hindernisse en struikelblokke, patriargie, armoede, skending van regte en vryhede, uitsluiting, diskriminasie, geweld, geslagsvooroordeel en ongelykheid te oorkom.

“Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is daartoe verbind om as 'n klinkende stem te dien vir die ontwikkeling en bevordering van geslagsdiversiteit en billikheid, en het doelwitte gestel om dit te bereik, het sy gesê.

Vuyiseka Dubula-Majola, vigsaktivis en direkteur: Afrika-sentrum vir MIV-/Vigsbestuur, het gesê Vrouemaand bied 'n periode van besinning oor die status van vroue - waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

“My beginpunt is in 1956, toe vroue teen alle verwagtinge die Uniegebou in Pretoria betree het om die weg te baan en hoop en 'n stem vir baie vroue te gee. Hierdie vroue het my generasie idees gegee oor moontlikhede van vryheid. Ek staan op die skouers van reuse en moet nog die hoogtes bereik wat my feministiese voorouers bereik het."

Sy sê feminisme vir haar beteken gelykheid en vryheid vir almal; daarom het sy haar frustrasie uitgespreek dat gelyke lone vir gelyke werk vir vroue steeds 'n probleem is in 2019, soos in 1956.

“Wat moet gebeur vir vroue op plase en fabrieksvloere wat dieselfde werk doen as mans om dieselfde betaling te kry?" vra sy.

Maar selfs meer relevant vir vroue, sê sy, is hulle reg op werkruimtes wat vry is van teistering en geweld, sowel as die reg om te doen met jou liggaam wat jy wil en om lief te wees vir wie jy wil.

Dubula-Majola, wat sedert 2001 met MIV leef, het gesê haar droom is om eendag sosiale geregtigheid die lig te laat sien.

​“Hierdie droom dryf my om elke dag aan die werk te kom. Dit motiveer my om myself elke dag af te vra: 'Wat het jy gedoen om daardie droom te verwesenlik?'" het sy gesê.

Dr Mamphela Ramphele, 'n voormalige aktivis en visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, meen die kanse is goed dat vroue op die langtermyn beter daaraan toe sal wees.

"Ons swem teen die gety, maar die strome draai in ons guns. Ons is miskien nie so suksesvol as wat ons kon gewees het in 'n samelewing wat nie deur 'n manlike kulturele-oriëntasie oorheers is nie, maar tog het ons baie hindernisse oorkom. Baie negatiewe energie word bestee en nie om groter uitnemendheid te beywer nie, maar net om oorlewing te verseker. Die verloorder is die samelewing, die toekoms en die volgende generasies."

Sy het egter gesê die hantering van onnodige afleidings bied geleenthede om te leer hoe om die waargenome wenners en verloorders in die transformasieproses te hanteer.

Ramphele het gesê  ter viering van Vrouemaand moet vroue hulself daaraan herinner dat die eienskappe wat binne-in hulle is en vroue al eeue-lank en oor baie generasies in staat stel om doelgerig te leef, nou gesog is in the 21ste eeu.

“Daar is gevind dat hierdie eienskappe deur suksesvolle entrepreneurs, leiers, organiseerders en innoveerders uitgestal word. Dit is: eerlikheid, empatie, koestering, om ander voor jouself te stel, inklusiewe besluitneming, geduld en die vermoë tot kommunikasie en samewerking, " het sy gesê.

Prof Josephine Musango, bekleër van die trilaterale SA-AFRIKA-VK-navorsingsleerstoel oor die insluiting van gender by die hoofstroom ter wille van energiesekuriteit in arm stedelike omgewings: Skool vir Publieke Leierskap, het haar begrip en interpretasie van sukses op grond van haar ervaring gedeel wat, volgens haar, van toepassing is op die Against All Odds-tema. Dit is gebaseer op haar ervarings en bydraes op die gebied van stelseldinamika, wat haar gelei het om op haar grootste doel te fokus.

Sy het meer oor nege suksesbeginsels, wat in 'n nuwe verskyn boek wat sy tans skryf, uitgebrei.

Colette Clark, adjunkdirekteur-generaal vir navorsing en beleidsanalise: Departement van Staatsdiens en Administrasie, het  gereflekteer op die gebrek aan vroue in senior poste in die Suid-Afrikaanse staatsdiens en hoe hul gesag deur mans ondermyn word.

“Ons kan nie inklusief raak as ons fokus op andersheid nie. Ons kan niks herstel as ons nie die hindernisse, wat ons verhoed om te doen wat ons veronderstel is om te doen, beskaam nie. Na 25 jaar (van demokrasie) het ons geen verskonings om nie die veranderinge wat ons in ons omgewings wil sien, te bewerkstellig nie," sê Clark.

Dit is duidelik dat hierdie vroue hul gesamentlike pogings om verandering in elke faset van die lewe te bevorder, sal voortsit.

  • Foto deur Anton Jordaan: V.l.n.r. is die organiseerders van die Vrouedagviering, mev Lesinda Daniels en prof Solosh Pillay, visedekaan: sosiale impak en transformasie, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; by die sprekers, dr Mamphela Ramphele, voormalige aktivis en visekanselier van die Universiteit Kaapstad; prof Josephine Musango van die US Skool vir Publieke Leierskap; mev. Vuyiseka Dubula-Majola, Vigs-aktivis en Direkteur: Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur by US; me Colette Clark, adjunk direkteur-generaal: navorsing en beleidsanalise, Departement van Openbare Diens en Administrasie; by die US dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Ingrid Woolard.​