Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US hematoloog blink uit
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/08/2019

Prof Resia Pretorius, a hematoloog in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe, is benoem as die naaswenner in die Departement van Wetenskap en Tegnologie se Vroue in Wetenskap-toekennings (WiSA) in die kategorie “Uitsonderlike Vroue Navorsers in die Natuurwetenskap en Ingenieurswese".

Die toekennings is tydens 'n glansseremonie op Donderdagaand, 15 Augustus 2019, oorhandig. Prof Pretorius was ook 'n finalis in die Standard Bank Top Women Awards in die kategorie “Top Women in Science" – dié funksie het ook gisteraand plaasgevind.

WiSA erken en beloon uitsonderlike vroue wetenskaplikes en navorsers, en gebruik hulle as rolmodelle vir jonger vroue. Die fokus van die 2019-toekennings is hoe die vierde industriële revolusie tot voordeel van vroue benut kan word.

Die drie WiSA-wenners is Prof Michele Ramsay van die Universiteit van die Witwatersrand, Prof Lunic Khoza van die Universiteit van Venda, en Prof Tania Douglas van die Universiteit van Kaapstad.

Professor Louise Warnich, Dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, sê Pretorius het verskeie konstruktiewe en innoverende bydras tot haar vakgebied gemaak, en sy is 'n ware inspirasie en rolmodel vir studente en kollegas.

Meer oor Prof Pretorius

Professor Resia Pretorius is hoof van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die US. Oor die afgelope twee dekades het sy verskeie betekenisvolle bydras gemaak tot ons verstaan van die meganismes van sekere siektes, soos trombose en bloedstollingsprobleme. In die proses het sy groot vooruitgang gemaak in die gebruik van gevorderde elektronmikroskopie-tegnieke om verskillende bloedselle te bestudeer.

Sy volg 'n geïntegreerde benadering wat mikrobiologie en neurodegenerasie kombineer, en het daarin geslaag om te bewys dat daar 'n verband bestaan tussen die bloed mikrobioom en inflammasie in kroniese toestande soos Alzheimer se siekte, Parkinson se siekte en ander gevorderde neurologiese toestande. Haar werk het 'n wesentlike impak op die gesondheids- en ekonomiese sektore. Dit sluit in ses patente vir behandelingsmetodes en 'n biosensor vir die voortydige opsporing van inflammasie.

Met meer as 260 postuur-geëvalueerde artikels in hoë-impak joernale op haar kerfstok, word sy hoog aangeslaan deur haar eweknieë.

Vorige toekennings is die Afrika Unie se Kwame Nkrumah Wetenskaplike Toekenning in die kategorie Basiese Wetenskap en Tegnologie: Afrika vroue in Wetenskap (2011); en 'n NSTF-BHP Billiton-toekenning (2018).