Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Agtste Winterskool by Teologie
Outeur: Helette van der Westhuizen
Gepubliseer: 06/08/2019

Die Winterskool van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch is onlangs vir die agtste keer aangebied. Die Winterskool is ‘n inisiatief van die fakulteit, Communitas, Ekklesia en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, wat fokus op dialoog oor hedendaagse kwessies wat gemeenskappe en veral gemeentes raak. Dit bied ook ‘n ruimte vir verdere teologiese opleiding van geestelike leiers, asoook die bemagtiging van gemeentelede.

Prof Anita Cloete, koördineerder van die Winterskool, vertel: “Hierdie jaar het ons reflekteer op 25 jaar van demokrasie in gesprek met religie. Die hoofsprekers het die tema vanuit verskilende perspektiewe belig en veral die publieke rol van die kerk beklemtoon.  Op die eerste dag het Prof Nadine Bowers-du Toit gefokus op identiteitspolitiek en hoe dit enersyds polarisasie bevorder, en andersyds dikwels verweef is met religie. Dr Pali Lehohla, voormalige Statistiek-generaal, het op dag twee die verhaal van demokrasie geskets met die hulp van statistieke oor Suid-Afrika. Prof Allan Boesak het die Winterskool afgesluit met die klem op die sentrale plek wat geloof gespeel het in die stryd teen apartheid, asook die noodsaaklikheid daarvan vir die toekoms van demokrasie. “ Klik op die skakel vir 'n kopie van sy voordrag. ProfAllanBoesak.pdf

“Die oggend- en middag paralelle sessies het grootliks by die hooftema aangesluit. Die Winterskool was soos in die verlede, baie goed bygewoon met meer as 200 deelnemers. Een van die groot winspunte van die Winterskool is dat dit mense bymekaar bring vanuit verskillende denominasies, kulture en generasies.  Hierdie diversiteit verleen ook diepte aan ons saamwees en gesprekke omdat ons oor grense van mekaar kan leer.  Elke dag het begin met ‘n saam stilword rondom die Woord voordat die onderskeie sessies begin het – met die terugvoer het deelnemers dit deurgans as een van die mees gewaardeerde oomblikke van die Winterskool beskryf. “

“Ons hoop dat hierdie insiatief sal bly voortleef as ‘n manier om hoop te kommunikeer aan ons gemeentes en gemeenskappe. “

Die datums van die 2020 Winterskool sal binnekort aangekondig word.