Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-alumnus ontvang hoogste finansiële beplanningstoekenning
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 02/08/2019

'n Alumnus van die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wie se pad na sukses met tragedie in 'n afgeleë plattelandse dorpie begin het en by die US Bestuurskool (USB) tot verwesenliking gekom het, is met die 2019 Finansiële Beplanner van die Jaar-toekenning vereer.

Hardi Swart, gesertifiseerde finansiële beplanner en die besturende direkteur van Autus Private Clients, het dié toekenning onlangs tydens ˈn glansgeleentheid in Sandton, Johannesburg van die Financial Planning Institute of South Africa (FPI) ontvang.

Die toekenning word jaarliks deur FPI aangebied en is die hoogste eer wat 'n finansiële beplanner in Suid Afrika kan ontvang.

Volgens FPI is Swart as die wenner aangewys as gevolg van sy ontsaglike kennis, die enorme detail van sy finansiële planne en sy ongelooflike persoonlike toewyding aan sy kliënte.

Swart, 'n boerseun van die dorpie Naboomspruit in Limpopo, sê sy passie vir finansiële beplanning het jare gelede begin na sy pa se tragiese dood in 'n motorongeluk.

“My gesin was nie voorbereid op die swaar tye wat gevolg het nie. Toe ons uiteindelik ons plaas en besighede verkoop, het die slegte advies wat ons ontvang het, ons duur te staan gekom en het ons gesin 'n groot gedeelte van ons welvaart verloor.

“Dit was 'n moeilike maar uiters waardevolle les om op so 'n jong ouderdom te leer. Die gebeure het my belangstelling geprikkel in familiewelvaartsbeplanning oor meer as een geslag; dis waarom ek so passievol is om families te help om finansiële slaggate te vermy," sê hy.

Swart het sy BCom (Bestuursrekeningkunde) in 2009 by US voltooi, en die nagraadse diploma in Finansiële Beplanning in 2011 by USB. Hy het ook 'n internasionale diploma in besigheidskonsultasie aan Syracuse Universiteit in New York verwerf.

Hy sê dat sy studies aan USB die grondslag gelê het vir sy loopbaan as 'n finansiële beplanner en hom ook gehelp het om uiteindelik dié toekenning los te slaan.

“Met al die moeilike tye en finansiële onsekerheid wat mense vandag moet trotseer, is gekwalifiseerde finansiële beplanners in groot aanvraag. Dis egter belangrik om oor 'n stewige akademiese grondslag tesame met 'n internskap van hoë gehalte – waar jy die beginsels van finansiële beplanning kan leer – te beskik.

“USB met sy uitstekende programme en ervare dosente het my daardie grondslag gegee. Die programme stel studente in staat om die bevoegdheidseksamen vir gesertifiseerde finansiële beplanner suksesvol af te lê en om ˈn professionele gesertifiseerde finansiële beplanner en lid van die FPI te word."

Maar Swart se pad na sukses sou seker nie moontlike gewees het sonder 'n sekere persoon, sy vrou Anemike, in sy lewe nie. Gelukkig vir hom was sy met haar nagraadse diploma in Finansiële Beplanning aan US besig toe hulle ontmoet het.

“Sy is eintlik die een wat my oorreed het om Finansiële Beplanning te studeer," erken hy.

Swart en sy gesin woon op die Val de Vie-landgoed in die Paarlse wynland. Hy is al vir meer as 10 jaar lid van die Autus-span.

“Die toekenning bied erkenning dat finansiële beplanning meer as net uitstekende advies is; dit verg van jou om 'n lewenslange afrigter, raadgewer en vriend vir jou kliënte te wees," sê hy.

  • ​Foto (verskaf): Mnr Hardi en mev Anemike Swart by die glansgeleentheid in Sandton waar hy met die 2019 Finansiële Beplanner van die Jaar-toekenning van die Finansiele Beplanningsinstituut van SA vereer is.