Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Baderoon ontvang Media24 Elisabeth Eybers Prys
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/07/2019

'n 2019 Media24 Boeke Literêre Prys is toegeken aan buitengewone professor Gabeba Baderoon van die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch. Die prys erken die beste werk gepubliseer by uitgewerye in die Media24-stal tydens die voorafgaande jaar. 

Baderoon ontvang die Elisabeth Eybers Prys vir Afrikaanse en Engelse gedigte vir The History of Intimacy, uitgegee deur Kwela Boeke. 

The History of Intimacy, waaraan sy 12 jaar gewerk het, is benoem as Boek van 2018 van die Sunday Times. Die bundel se vreemde intimiteite sluit in wat swart-en-wit foto's oordra oor lief wees vir twee mense terselfdertyd, bepeins 'n handgeverfde “Slegs Blankes" bord wat langs die spoorlyn gelaat is in 1988, en onthou die gedoemde liefdesverhale van die 1990's.

Volgens prof Sally Murray, voorsitter van die Departement Engels, was die beoordelaars veral beïndruk deur die beheerste liriese styl en kalm volwassenheid van die gedigte in The History of Intimacy

"Die werk beeld die oorgange in Baderoon (self 'n figuur van oorgang) se wêreld uit, en doen dit in 'n grammatika wat hoofsaaklik steun op die krag van sy beelde. Dit is 'n boek van tegniese gemak en linguistiese subtiliteit van die hoogste graad," het die beoordelaars gesê.

“Gabeba se jongste literêre toekenning getuig van haar bestaande roem as digter, en as akademikus. Haar kreatiwiteit en kritiese vernuf is 'n bate vir die Departement Engels, en tydens haar besoeke aan ons is sy veral vrygewig in haar mentorskap van die aspirant-skrywers onder ons studente," sê prof Murray.

Baderoon, wat 'n doktorsgraad in Engels behaal het aan die Universiteit van Kaapstad, is 'n bekroonde skeppende skrywer wie se gedigte en kortverhale wyd bekend is. Voor die publikasie van The History of Intimacy in 2018, het sy drie bundels gedigte die lig laat sien –The Dream in the Next Body enThe Museum of Ordinary Lifein 2005, en A Hundred Silencesin 2006. The Dream in the Next Body,haar debuutbundel, is benoem as 'n “Notable Book" van 2005 deur die Sunday Independent, terwyl A Hundred Silencesop die kortlys was vir die 2007 Universiteit van Johannesburg Prys en die 2007 Olive Schreiner Prys. In 2014 is een van haar kortverhale gekies vir die bundel "Twenty Best Short Stories of South Africa's Democracy". 

Haar akademiese werk fokus op die uitbeelding van Islam, slawerny, ras en seksualiteit, met sommige van haar artikels wat verskyn het in vaktydskrifte soos Feminist Studies, Social Dynamics, en die Journal for Islamic Studies.   

Sy het lesings gelewer by universiteite regoor die wêreld insluitend Europa en die Verenigde State, sowel as plaaslik. Tans is sy 'n medeprofessor van Vroue Gender en Seksualiteit Studies en Afrika-studies in die Fakulteit Lettere aan die Penn State University en doseer ook Vergelykende Letterkunde aan dié instelling. Sy is ook mede-direkteur van die “African Feminist Initiative" by Penn State saam met Alicia Decker, en is 'n lid van die redaksie van die African Poetry Book Fund.  

Baderoon het al verskeie toekennings en genootskappe ontvang, onder andere die Daimler Chrysler toekenning vir Suid-Afrikaanse digkuns in 2005, 'n Gasskrywer Genootskap van die Nordic Africa Institute in Swede (2005), en in 2008 'n Genootskap van die Civitella Ranieri Stigting. Sy het ook genootskappe ontvang van die Andrew W. Mellon Stigting, die Sainsbury/Linbury Trust, sowel as 'n skrywersverblyf aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daar is ook 'n Bellagio kunstenaarsverblyf vir 2020 aan haar toegeken.

Haar grondverskuiwende akademiese werk, Regarding Muslims: From Slavery to Post-apartheid (Wits UP, 2014), was op die lang lys vir die 2015 Sunday Times Alan Paton Toekenning vir Nie-fiksie en verower dieNational Institute for the Humanities and Social Sciences (NIHSS) prys in die kategorie Boek: Nie-Fiksie Monografie in 2017.

Regarding Muslims spreek die onsigbare geskiedenis van Islam se impak op die moderne Suid-Afrikaanse samelewing aan, asook sy bande met slawerny. Die boek kyk na 'n reeks afbeeldings in die Suid-Afrikaanse argief van “Kaapse Maleiers" in “reisbeskrywings, spotprente, skilderye, karikature en kookboeke" sedert die 18de eeu, verduidelik Baderoon. 

“'n Uitgebreide rekord van spotprente, populêre skilderye en kookboeke het 'n bekende repertoire van Moslem-figure in die Suid-Afrikaanse verbeelding geskep, 'n repertoire verweef met groter politieke betekenis," het Baderoon geskryf.

Baderoon sê sy voel ontsettend geëerd om die Elisabeth Eybers prys te ontvang. “Vir my is poësie 'n kuns wat 'n andersins ontoeganklike interne wêreld verbind met die wyer wêreld; om vir hierdie woorde met hierdie toekenning erken te word deur medeskrywers is vir my baie roerend."

“Ek is diep dankbaar aan die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en veral die Departement Engels dat hulle die departement en die universiteit 'n gasvrye en skeppende ruimte vir my gemaak het. Ek het weergawes van hierdie boek aan die departement voorgelees tydens die skryfproses en reaksies en vrae van mede-akademici het ontsettend gehelp om die finale manuskrip te vorm, wat by STIAS voltooi is. Dit behou die afdruk van daardie voorlesings," sê Baderoon.

Foto: Prof Gabeba Baderoon tydens 'n voorlesing uit een van haar digbundels, The Dream in the Next Body, tydens 'n besoek aan die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch  in 2017. (Anton Jordaan, SSFD)​