Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US help bou aan jong entrepreneurs
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 12/07/2019

Jong entrepreneurs van die Stellenbosch-omgewing het weer eens die geleentheid gekry om hul ondernemers- en sakevaardighede te slyp by die tweede Jongentrepreneurskapprojek (YEP) wat verlede week by die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is.

En te oordeel aan die beoordelaars se reaksie, lyk dit of daar reusepotensiaal tussen die jong sakebreine skuil. Die beoordelaars het tydens die aankondiging van die wenners aan die einde van die program te kenne gegee hoe moeilik dit was om 'n wenner uit soveel briljante idees van die leerders te kies.

“Ons het gevind dat baie van die idees en konsepte van al vyf spanne baie goed was. Die leerders se idees was innoverend en toepaslik op die konteks van hul gemeenskappe waar hierdie besighede ten uitvoer gebring moet word, so dit was geen maklike taak nie," het een van die beoordelaars, Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak en Hoof van die Matie Gemeenskapsdiens aan die US, gesê. Marlie Goussard, Enterprise Ontwikkelingsbestuurder by Ranyaka en mede-aankondiger van die wenners, het dit beaam.

Judging Panel.jpg

(Die beoordelaars bo.)

YEP is 'n gesamentlike inisiatief van die US, die Hoogeschool Utrecht (HU)-universiteit vir Toegepaste Wetenskappe in Utrecht in Nederland en die Michigan Staatsuniversiteit om entrepreneurs- en besigheidsvaardighede by jong leerders van skole in die omliggende Stellenbosse gemeenskap te kweek. Studente het in spanne saamgewerk om die kursusmateriaal vir 'n entrpreneurskap-werksessie te skep wat spesifiek op hierdie hoërskoolleerders gemik is. Dit is die tweede jaar dat die program aangebied is.

Studente van die HU-universiteit en die US se Departement Sakebestuur het die kursus vir leerders van Hoërskool Kayamandi, Makupula Hoër en Hoërskool Lückhoff aangebied.

Die werksessie het afgeskop met 'n dinkskrum om idees te ontwikkel wat op 'n voorlegging aan die paneel beoordelaars op 5 Julie uitgeloop het. Vyf spanne leerders van die drie skole het verskeie innoverende sakeplanne vir die paneel aangebied wat hul aanbiedinge op grond van 'n wye reeks kriteria beoordeel het. Die kriteria het gewissel van die missie en waardes van hul sake-idee tot die verwesenliking en die langtermyn-volhoubaarheid daarvan.

Afgesien van Hector-Kannemeyer en Goussard, het die paneel beoordelaars ook bestaan uit Sarina Nooitgedacht ('n intern by die Nederlandse Konsulaat se Departement Ekonomie van die Universiteit van Amsterdam), Nichola Walker-Woodard (Adjunk-konsulgeneraal by die Nederlandse Konsulaat) en Bianca Leonhardt (bemarkingsbestuurder by die Backsberg Landgoed Wynkelder).

Die wenvoorstel, getiteld Siblam Bracelets, het van Hoërskool Lückhoff gekom. Hul innoverende idee was om plastiek en ander afvalmateriaal te herwin en dit tot armbande te verwerk. Die bandjies kan gebruik word om inligting van die draer, veral jong kinders, te bewaar om te help om hulle op te spoor wanneer hul dalk sou afdwaal of verlore raak of van hul geliefdes geskei sou word.

Winning Team.jpg

(Die suksesvolle groep van Hoërskool Lückhoff.)

Volgens mnr Aubrey Adonis, 'n onderwyser in Sakestudies by Hoërskool Lückhoff, voel hy ongelooflik trots op sy leerders omdat hulle so ver gevorder en uiteindelik die eersteprys vir hul sakevoorstel ingepalm het. Adonis het twee jaar gelede 'n hoogsbetaalde beroep in die sakesektor vir die onderwys verruil sodat hy in die gemeenskap waar hy grootgeword het, kon terugploeg. “Dit maak my so trots, veral as 'n groentjie-onderwyser. Dit is hoekom ek die loopbaanskuif van rekenmeester na onderwyser gemaak het. Ek is regtig gelukkig met ons skool se span en ek sien daarna uit om aanstaande jaar na die YEP-program terug te keer. Hierdie program het ons leerders se selfvertroue 'n hupstoot gegee en het hulle selfs aangemoedig om harder te leer en om in die toekoms aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, so ek is regtig opgewonde om hulle te help om hierdie doelwitte te bereik," het Adonis gesê.

Die wenspan ontvang saaibefondsing van plaaslike borge op Stellenbosch, asook mentorskap van studente in Sakebestuur om die leerders te help om hul sake-idee 'n werklikheid te maak.

Beide mnre Adolph Neethling, YEP-programkoördineerder en dosent by die Departement Sakebestuur aan die US, en Paul Jaspers van die HU-universiteit, het hul opgewondenheid uitgespreek oor die positiewe uitwerking wat die program op leerders het.

“Dit was duidelik uit die voorleggings dat die YEP-program die leerders se selfvertroue – en daarom ook hul vermoëns om geleenthede te identifiseer en om 'n sakeplan rondom 'n maatskaplike probleem te ontwikkel – verbeter het," was Neethling se slotsom.

Vir verdere inligting oor die YEP-program, besoek https://yep.works/.​


Fotos deur Hennie Rudman.