Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Opvoedkunde neem afskeid van Prof Malan
Outeur: Prof Christa van der Walt
Gepubliseer: 15/08/2019

​Op 28 Julie het die Fakulteit Opvoedkunde afskeid geneem van Prof Johan Malan, wat vir 15 maande as dekaan waargeneem het. In die 15 maande het hy die fakulteit deur ʼn herstruktureringsproses, wat die positiewe vooruitgang van die fakulteit verseker het, gelei. Op sy kalm manier en met ʼn ervare oog het hy probleme en oneweredighede in die stelsel raakgesien. Onder sy leiding is nuwe stelsels en strategieë kollaboratief ontwikkel. Nie alleen het hy die bestuur oortuig daarvan dat die fakulteit op alle, buiten een, kern prestasie-areas die gemiddelde prestasie van die Universiteit oorskry het nie, hy het ook nuwe energie om ou probleme op te los laat ontluik. Prof Malan se sin vir humor en bereidheid om te luister was van sy uitstekende kwaliteite wat in moeilike situasies ʼn groot aanwins was. Hy laat ʼn sterk fakulteit agter wat gereed is om saam met die nuwe dekaan, Prof Mbulungeni Madiba, die toekoms tegemoet te gaan.