Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hernude MBChB-kurrikulum toegespits op die behoeftes van Suid-Afrikaners
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 10/07/2019

Personeel en studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het geesdriftig omgegaan met die voorgestelde ontwerp van die hernude MBChB-kurrikulum tydens ʼn ekspo wat onlangse by die Tygerberg-kampus gehou is.

“Ons wil ʼn maatskaplik-verantwoordbare MBChB-kurrikulum hê wat toegespits is op die behoeftes van Suid-Afrikaners," het prof Hennie Botha, ʼn lid van die kurrikulum-hernuwingspan gesê tydens ʼn interaktiewe sessie by die ekspo. Hy het verduidelik dat die motief vir die hernuwingsproses is om ʼn kurrikulum te ontwerp wat spesifiek die siektelas en realiteite van die Suid-Afrikaanse bevolking aanspreek.

“Die hernude MBChB-kurrikulum sal baie van dieselfde inhoud as die huidige kurrikulum bevat, maar ons sal moderne nuwe maniere van onderrig en leer toepas wat student-gesentreerd is en wat ons onderwysers op die beste moontlike manier aanwend," het Botha gesê. Hy is ook die hoof van die FGGW se Departement Verloskunde en Ginekologie.

Die voorgestelde kurrikulum sal opwindende veranderinge maak aan die manier waarop geneeskunde onderrig word. Studente sal vanaf vroeg in die program deurlopend blootgestel word aan die primêre gesondheidsorg-omgewing, en onderhandelings met die Provinsiale Gesondheidsdepartement is tans aan die gang om die kliniese onderrigplatform uit te brei om meer geskikte persele in te sluit.

Interprofessionele leer sal ook ʼn sterk fokus wees van die hernude kurrikulum. Die kurrikulum-hernuwingspan is besig om ondersoek in te stel oor hoe studente van die verskillende gesondheidsberoepe saam kan leer – nie net in die klaskamer nie, maar ook op die kliniese platform. “Ons is opsoek na sinergieë tussen die verskillende programme wat studente die geleentheid sal bied om blootstelling te kry aan samewerking in die praktyk," het prof Julia Blitz, die FGGW se Visedekaan: Leer en Onderrig, gesê. Sy is aan die stuur van die MBChB hernuwingsproses.

Die welstand van die gesondheidswerker is ʼn belangrike aspek van die voorgestelde program. “Ons wil die studente toerus met die kennis en vaardigheid wat hulle in staat sal stel om selfversorging toe te pas, en om veerkragtigheid en robuustheid te ontwikkel wat hulle deur hul mediese loopbaan sal dra," het dr Kerrin Begg gesê. Sy is ʼn openbaregesondheid-spesialis en is aan die stuur van die “Being and Becoming in Healthcare" modulespan.

“Ons wil ons studente in staat stel om agente vir verandering te wees vir beter gesondheid, en om klinici te wees met die vermoë om deurlopend te leer en die weetgierigheid te hê van klinici wat in ʼn veranderende omgewing werk," het Botha gesê.

Die hernuwingsproses vir die FGGW se MBChB-program het in 2017 begin, en dit word voorsien dat die hernude kurrikulum in 2021 in werking gestel sal word – onderhewig aan akkreditasie van die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika.

Studente wat ingeskryf het vir die MBChB-program voor 2021 sal die huidige kurrikulum deursien en daar sal ʼn oorvleueling wees van beide die huidige en hernude MBChB-programme van 2021 tot 2025.

 

Onderskrif: Dr Liezl Smit, prof Julia Blitz en me Mariette Volschenk is deel van die kurrikulum-hernuwingspan.

Foto-erkenning: Wilma Stassen