Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe melkontleder ʼn hupstoot vir babas en navorsing
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 09/07/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die eerste universiteit in Afrika geword om ʼn MIRIS- menslike melkontleder te bekom.

Die toestel word in neonatale eenhede gebruik en ontleed die voedingsamestelling van borsmelk, wat van deurslaggewende belang is vir vroeggebore babas met spesifieke voedingsbehoeftes.

Personeellede van die Tygerberg-hospitaal het onlangs spesiale opleiding by die Sweedse verskaffers ontvang en die melkontleder kan nou ten volle benut word.

Dr Evette van Niekerk, senior lektor in die Afdeling Menslike Voeding van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het gesê sy is baie opgewonde oor die verkryging van dié nuwe toestel.

“Tot op hede moes ons monsters van borsmelk stoor en dan na ander plaaslike en internasionale fasiliteite vervoer om ontleed te word," verduidelik Van Niekerk.

“Die MIRIS-ontleder bied ʼn unieke geleentheid om die voedingsinhoud van borsmelk dadelik te bepaal. Die ontledings word sonder chemikalieë gedoen en die resultate is binne minute beskikbaar."

Die instrument is klein, robuus en kan maklik hanteer word. “Dit is draagbaar en kan in hospitale, melkbanke en vir navorsingsdoeleindes gebuik word," het Van Niekerk gesê.

“Ons het navorsing oor menslike melk gedoen, veral melk vir vroeggebore babas en hoe die gehalte daarvan hul groei en ontwikkeling raak. As jy nie die geriewe en toerusting het om die ontledings te doen nie, moet jy dit ten duurste laat doen. Ons het sowat 110 vroeggebore babas op ʼn keer by die Tygerberg-hospitaal, dus sal dit baie help om die toerusting byderhand te hê. Dit sal die gehalte van ons sorg verbeter omdat ons voldoende voedingsintervensie vir die babas sal kan verskaf. Omdat hulle so klein is, het vroeggebore babas veel groter voedingsbehoeftes. ʼn Ma van ʼn vroeggebore baba se melk is gewoonlik van ʼn hoër gehalte, maar dit is dikwels nog nie genoeg vir die baba nie en moet met bykomende voedingstowwe aangevul word.

“Met die MIRIS-toestel kan ons die ma se melk ontleed om te sien presies wat sy gee en dit dienooreenkomstig aanvul. Dit beteken die babas sal vinniger groei, beter neuro-ontwikkelingsuitkomste hê en vroeër ontslaan word."

Van Niekerk sê sy beplan ʼn paar navorsingstudies oor die volgende maande om die impak van die ontleder te toon.

“Omdat ons die eerste instelling in Afrika is wat hierdie toestel bekom het, beteken dit voorts ons het die geleentheid en die verantwoordelik om ons mede-dokters en -instellings te help om die borsmelk vir hul vroeggebore babas te ontleed."

Volgens Van Niekerk het Suid-Afrikaners nog nie die belang van borsmelkinhoud besef nie. “Ons borsvoedingskoers verbeter, maar dit is belangrik dat met geïndividualiseerde aanvulling aan die behoeftes van pasgebore babas voldoen word. Die verkryging van hierdie toerusting is ʼn groot stap in die regte rigting."


 

Onderskrif: Dr Evette van Niekerk

Foto-erkenning: Wilma Stassen