Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties onder SA se jong baanbrekers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/07/2019

Drie huidige en vyf eertydse Maties is onder vanjaar se 200 merkwaardige jong Suid-Afrikaners (jonger as 35) wat deur die Mail & Guardian in sy jaarlikse uitgawe van '200 Young South Africans' uitgelig word as presteerders op gebiede soos opvoeding, gesondheid, kuns en vermaak, geregtigheid en die reg, politiek en sport. Die 2019-uitgawe is Vrydag (28 Junie 2019) in die Mail & Guardian gepubliseer. Dié agt Maties verteenwoordig vanjaar die Universiteit Stellenbosch (US) in die volgende kategorieë:

WETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Zipho Tyoda (32) is die adjunkdirekteur van aardwaarnemings by die Departement van Wetenskap en Tegnologie, waar hy opsig hou oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap en Suid-Afrika se aardwaarnemingslandskap koördineer deur die Genève-gebaseerde organisasie, die Suid-Afrika-groep oor Aardwaarnemings (SA-GEO). Hy monitor ook aspekte soos die watervlak van damme om belanghebbendes (soos die regering) te help om beleidsbesluite te neem. Waarnemings van SA-GEO is gebruik om belangrike besluite te neem tydens die onlangse droogte in die Wes-Kaap.

GESONDHEID

Dr Xanthe Hunt (27) is 'n navorser by die Instituut vir Lewensgang Gesondheidsnavorsing in die US se Departement Globale Gesondheid. Sy is ook verbonde aan die Universiteit van Kalifornië en Harvard-universiteit. Haar werk fokus op die verbetering van moeder- en kindergesondheid, veral wat betref dienste vir jong kinders wat deur MIV geraak word sowel as dienste vir hul versorgers in Kenia, Mosambiek, Malawi, Zambië en Tanzanië. Sy doen ook navorsing oor seksuele en reproduktiewe gesondheid onder persone met gestremdhede en werk aan 'n boek oor hul ervarings van toegang tot seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste.

​OPVOEDING

Nondumiso Phenyane (28) is een van die jongste swart dosente by die US se Fakulteit Regsgeleerdheid waar sy Bewysreg en Handelsreg doseer. Voordat sy haar by die US aangesluit het, het Nondumiso as 'n regsnavorser by die Appèlhof uitgeblink waar sy aan hoë-profiel sake soos die Direkteur van Vervolging, Gauteng teen Oscar Pistorius en Van Breda teen Media24 Beperk gewerk het. Sy beplan om in die loop van die volgende paar jaar haar meesters- en doktorsgraad te voltooi en wil spesifiek fokus op navorsing oor die toegang tot die reg in stedelike townships.

Dr Lieketseng Ned (30) het onlangs haar doktorsgraad aan die US behaal en is die jongste dosent by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Sentrum vir Rehabilitasiestudies, waar sy die sameroeper van die nagraadse diploma-program is. Lieketseng dien ook in die raad van die South African Christian Leadership Association en is die adjunkvoorsitter van die Wes-Kaapse Rehabilitasiesentrum. Sy is passievol oor die bevordering van inheemse kennis in gestremdheid- en rehabilitasiestudies.

KUNS EN VERMAAK

Renaldo Schwarp (27) is 'n radio-aanbieder en die digitale hoof by Jacaranda FM. Voordat hy hom by Jacaranda FM aangesluit het, het hy by MFM, VIA TV en CapeTalk gewerk. Renaldo het ook 'n Afrikaanse dokumentêr, Skeef, vervaardig wat handel oor die realiteit van gay-wees in Suid-Afrika en die kwessies wat die LGBTI+-gemeenskap moet trotseer.

SPORT

Omphile Ramela (31) is 'n professionele krieketspelers wat tans vir die Bizhub Hoëveld Leeus speel. Hy het ook vir Maties, die Kaapse Kobras en Suid-Afrika A gespeel. Omphile is ook die president van die Suid-Afrikaanse Krieketvereniging en die uitvoerende direkteur van die Thuto Trust. Hy beskou sport as 'n invloedryke krag wat die lewens van talle jongmense verander.

SAKE EN ONDERNEMINGSKAP

Wandile Sihlobo (28) is die hoofekonoom by die Landbousakekamer (AgBiz) en is ook die kommissaris van die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie van Suid-Afrika. Verlede jaar was hy lid van 'n raadgewende paneel oor grondhervormingdeur wat deur president Cyril Ramaphosa aangestel is. Wandile is ook 'n gereelde rubriekskrywer vir Business Day, Fin24 en Farmer's Weekly.

POLITIEK EN STAATSBESTUUR

Aakanksha Malik-Nair (35) is die waarnemende direkteur van Toerisme by die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme waar sy toesien dat hierdie bedryf werk skep en help om die land se ekonomie te bevorder. Sy is passievol oor die bemagtiging van minderheidsgroepe en werk aan die uitwissing van ongelykheid en ongeregtigheid.

Aangesien die nominasies vir die '200 Young South Africans' nie direk aan Korporatiewe Kommunikasie verskaf is nie, mag daar moontlik nog ander huidige en oud-Maties op die lys verskyn waarvan ons nie tans bewus is nie. Die beskrywings van die ses Maties op Mail & Guardian se lys is effe vir hierdie berig aangepas.

  • ​Klik hier om die volledige lys van die Mail & Guardian 200 Young South Africans 2019 te sien.