Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser bekyk die bosluise en vlooie wat Afrika-pikkewyne pla
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 18/06/2019

Dr Marcela Espinaze van die Universiteit Stellenbosch weet meer as die gemiddelde persoon oor die bosluise en vlooie wat 'n natuurlik deel is van 'n Afrika-pikkewyn se lewe. Dit is omdat pikkewynparasiete self ook die afgelope vier jaar deel van dié 36-jarige Chileense veearts se lewe was.

Dr Espinaze het gedurende haar doktorsgraadstudies parasietspesies gedokumenteer, en gekyk na watter faktore hul verspreiding op Afrika-pikkewyne (Spheniscus demersus) beïnvloed. Haar navorsing het oor vier jaar gestrek, in is gedoen onder leiding van personeel van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe. Dr Espinaze het in April 2019 haar PhD-graad in Bewaringsekologie van die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Haar navorsing het haar na vyf pikkewynkolonies langs die Suidwes-Kaapse kus geneem. Twee van die kolonies is op die vasteland en die res is op eilande. Sy het tot vyf dae op 'n slag op Dassen, Robben en Dyer-eilande spandeer. Die vasteland-kolonies wat ingesluit is, was Simonstad in die Kaap, en Stony Point naby Bettysbaai in die Overberg.

Sy het sodoende die eerste deeglike opname voltooi oor die voorkoms van eksterne parasiete (soos bosluise en vlooie wat op die pikkewyne se lywe self aangetref word) en interne parasiete (soos parasitiese wurms) wat te make het met Afrika-pikkewyne wat langs die Suid-Afrikaanse kuslyn broei. Die enigste ander soortgelyke studie oor wilde Afrika-pikkewyne is in die 1980's op 'n enkele kolonie in Saldanhabaai gedoen.

Dr Espinaze sê die hulp en ondersteuning van bewaringsinstansies soos CapeNature en SANParke, asook die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Seevoëls (SANCCOB) was van onskatbare waarde vir die projek.

"Vir elkeen van my besoeke aan 'n kolonie het SANCCOB, CapeNature en SANParke 'n opgeleide personeellid voorsien wat die pikkewyne hanteer het sodat ek die parasiete vinnig kon verwyder," verduidelik sy. "Die assistent se hooftaak gedurende die ses of so minute wat ek nodig gehad het om monsters in te samel was om die pikkewyn veilig en rustig vas te hou en te keer dat enigiemand dalk beseer word."

In die proses het sy vlooie en bosluise vanaf 210 volwasse pikkewyne en 583 kuikens gehaal, en 628 neste ondersoek – beslis nie 'n maklike takie nie!

"Ek het bosluise en vlooie op die meeste pikkewyne en in hul neste gevind," onthou dr Espinaze, wat onlangs van haar bevindinge in die wetenskaplike tydskrif Parasitology gepubliseer het.

Dr Espinaze was geensins verras deur die soorte vlooi- en bosluisspesies wat sy in die proses gevind het nie. Meeste spesies is in lyn met die soort parasiete wat normaalweg met pikkewyne verbind word. Verder is gevind dat kuikens, oor die algemeen, meer besmet was as ouer volwasse voëls.WorkingCreditMarcelaEspinaze.jpg

"Dis moontlik omdat hulle 'n swakker immuunstelsel as volwassenes het," reken sy.

Meer bosluise en vlooie is gevind op pikkewyne in kolonies op die vasteland as wat die geval was met die eilandvoëls.

"Sagte bosluise en vlooie is nesparasiete en dié patroon mag verband hou met die groter getal neste wat tans op die vastelandkolonies voorkom," verduidelik dr Espinaze.

Sy sê dat die seisoene 'n rol speel in die vermoë van parasiete om te floreer. Eksterne parasiete (ook bekend as eksoparasiete) soos vlooie en bosluise verkies warm en droë toestande. Daarom is daar 'n toename in hul getalle rondom die lentemaande.

"Kuikens is veral meer kwesbaar vir parasiete gedurende die warmer maande, omdat hulle so nesgebonde is en nie self lekker die parasiete met hul snawels uit hul vere kan verwyder nie," brei dr Espinaze uit.

Volgens dr Espinaze lyk dit nie of die huidige parasietgetalle enige negatiewe invloed tans op die oorlewing van Afrika-pikkewyne het nie. As 'n opgeleide veearts weet sy dat parasiete 'n natuurlik deel van 'n ekosisteem en 'n dier se lewe is. In lae tot matige getalle is parasiete dus deel van die normale omgewing en ekologie waarvan 'n spesifieke spesie deel is.

"As voëls gesond genoeg is en omgewingstoestande normaal is, kan die voëls die aantal parasiete wat op hulle voorkom heel maklik beheer," sê sy. "As daar egter 'n wanbalans in die natuur is, soos byvoorbeeld weens besoedeling, klimaatsverandering of as visbronne afneem, kan die voëls meer stres ervaar. Dan raak dit vir hulle moeiliker om parasiete teen te staan."

Dr Espinaze sit vanjaar haar navorsing voort deur die voor- en nadele van verskillende soorte pikkewynneste te ondersoek. Sy gaan veral kyk of verskillende soorte kunsmatige neste dalk 'n invloed op die seevoëls se welstand het.

Pikkewyne verkies om neste in guano te maak. Dik lae daarvan is egter oor die jare heen vanaf kolonies verwyder om in kunsmis te gebruik. Daarom het bewaringslui begin om verskillende soorte kunsmatige neste in pikkewynkolonies uit te sit sodat hulle daarin kan broei. Studies word nou gedoen om te kyk of dit suksesvol is.

"Elke tipe nes skep 'n ander soort mikroklimaat, en beïnvloed die temperatuur, ventilasie en vog wat die eiers, kuikens en volwasse pikkewyne in die nes ervaar. Hierdie mikroklimaat het egter ook 'n invloed op die getalle nesparasiete. Droër en warmer neste het tipies meer parasiete, byvoorbeeld, " verduidelik dr Espinaze. Sy gaan haar navorsing as nadoktorale genoot in die US Departement Wiskundige Wetenskappe voortsit.

Agtergrond oor die Afrika-pikkewyn

  • Die Afrika-pikkewyn (Spheniscus demersus) is 'n endemiese spesie en een van die mees charismatiese seevoëls wat mens in Suider-Afrika vind.
  • Teen die begin van die 1900's is die voëls se bevolking op miljoene individue geraam. Getalle het sedertdien drasties afgeneem. Deesdae word die pikkewyn as 'n bedreigde spesie beskou.
  • Die wêreldwye Afrika-pikkewynbevolking word tans geraam op minder as 25 000 broeipare.
  • ​Hulle word aangetref op 24 eilande en vier vastelandskolonies, van die kus van Namibië tot in die Oos-Kaap van Suid-Afrika. 

Meer inligting:

  • Dr Espinaze het 'n webartikel oor haar navorsing geskryf. Lees dit hier by Parasitology Parasitology Open.
  • Espinaze, M.P.A. et al (2019). Parasite diversity associated with African penguins (Spheniscus demersus) and the effect of host and environmental factors, Parasitology

​Hooffoto: 'n Afrika-pikkewyn oortrek met bosluise eie aan pikkewyne. Foto: Marcela Espinaze

Foto 1: Danksy die hulp van 'n assistent kon dr Marcela Espinaze (links) so gou moontlik bosluise en vlooie van pikkewyne versamel. Foto: Marcela Espinaze​​​​