Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing behoort sosiale geregtigheid, menswaardigheid te bevorder
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/06/2019

Navorsing, veral sosiaal-wetenskaplike studies, moet daarop gemik wees om sosiale geregtigheid en menswaardigheid te bevorder.

Só het prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die navorsingsleerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Woensdag (12 Junie) gesê. Sy het die derde Stellenbosch Forum-lesing van 2019 by die US Museum gelewer. Die titel van haar aanbieding was Making the Invisible Visible: Rethinking Reflexivity in Research.

Die Stellenbosch Forum-lesingsreeks bied gereelde geleenthede aan US-personeel en -studente, sowel as belangstellendes uit die publiek, om meer te leer oor die relevante wêreldklas-navorsing wat by die US gedoen word.

Gobodo-Madikizela het in haar praatjie gesê “as ons navorsing relevant is, as ons aanvoer dat ons sosiaal-bewuste navorsing doen, dan moet ons oor die kwessie van sosiale geregtigheid nadink."Pumla1.JPG

“Die beginpunt van ons navorsing is om eerstens lief te hê en om te gee. As jy lief is vir ander mense en regtig vir ander mense as medemens omgee, dan is dit 'n bousteen vir  solidariteit met die ander. En as ons solidariteit met die ander bou, kan ons die beginsels van sosiale geregtigheid handhaaf."

Gobodo-Madikizela het bygevoeg dat wetenskaplikes nie die waardigheid van die mense waaroor hulle navorsing doen, moet skend nie.

Sy het gesê navorsers moet die kwessie van refleksiwiteit in hul werk ernstig opneem.

“As ons praat oor refleksiwiteit, praat ons oor wat navorsers na die studie bring, wat hulle na hul analise bring en hoe die navorsing hulle beïnvloed."

Gobodo-Madikizela meen navorsers moet bewus wees van die feit dat hulle hul eie geskiedenis na hul werk bring. “Ons bring ons witwees, ons swartwees na ons navorsing. Ons moet bewus wees van hoe hierdie kwessies in ons navorsing gestalte kry."

Sy het gesê dit is belangrik dat navorsers moet vra hoe hulle betrokke is by die werk wat hulle doen, wat die gevolge van hul werk is vir diegene oor wie daar navorsing gedoen word, of hul navorsing die waardigheid van hierdie mense bevorder en wat hul rol as getuies, dit wil sê, hul verantwoordelikheid is.

Gobodo-Madikizela het bygevoeg dat aangesien navorsers die wêreld beïnvloed, moet hulle hul opvatting oor etiek en refleksiwiteit herbedink.

  • Hooffoto met vergunning van Pixabay
  • Foto 1: Prof Pumla Gobodo-Madikizela aan die woord by die Stellenbosch Forum-lesing.