Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spelers kom weg met onwettige, gevaarlike spel by losskrums
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/06/2019

Superrugby-ondersteuners en -kenners skud elke naweek hul koppe in ongeloof en frustrasie wanneer nog 'n onwettige en gevaarlike skoonmaak (of te wel cleanout) van spelers uit 'n losskrum nie gestraf word nie. En wanneer 'n mens na verlede jaar se statistieke kyk, wil dit lyk asof hierdie tendens gaan voortduur.

“Ons navorsing oor die straf van die onwettige en gevaarlik skoonmake gedurende die 2018 Superrugbyreeks het getoon dat skeidsregters nie soveel van hierdie voorvalle gestraf het as wat hulle moes nie," sê dr Wilbur Kraak van die Departement Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het die navorsing in samewerking met kollegas van dieselfde departement asook van die Departement Gesondheid aan die Universiteit van Bath in Engeland gedoen. Hul bevindinge is onlangs in die ooptoegang-vaktydskrif Frontiers in Psychology gepubliseer.

Kraak en sy medenavorsers het met behulp van die videoredigeerprogram 'Nacsport Basic plus' video-opnames van 120 rondomtaliewedstryde gedurende die reeks gekodeer en ontleed om die koers waarteen die onwettige en gevaarlike skoonmaak van losskrums deur skeidsregters gestraf is, te bepaal. Hulle het ook die hulp van 'n internasionale skeidsregter en 'n rugbybeseringspesialis ingeroep. Die Westelike Provinsie Rugbyunie se video-analise-afdeling het die video-opnames verskaf.

Kraak sê dit is volgens hul kennis die eerste keer dat gevalle van die gevaarlike onwettige skoonmake van losskrums wat nie deur skeidsregters op die veld gedurende 'n wedstryd gestraf is nie, ondersoek is. Die losskrum is 'n fase van die spel waar een of meer spelers van elke span, wat op hulle voete en in fisieke kontak is, meeding om die bal wat op die grond is.

Onwettige skoonmake

Die navorsers het bevind dat daar 22 281 skoonmake van losskrums gedurende die 2018 Superrugbyreeks was teen 'n gemiddeld van 186 per wedstryd.

“Ons navorsing het bevind dat 2 111 (9%) van hierdie skoonmake volgens die 2018 Wêreldrugby (WR) se Reëls van die Spel onwettig was teen 'n gemiddeld van 18 per wedstryd. Skeidsregters het 1 953 (93%) van hierdie onwettige skoonmake van losskrums ongestraf gelaat, wat 'n gemiddeld van 16 per wedstryd is."

Verder, sê Kraak, was 1 087 (57%) van hierdie onwettige skoonmake wat nie deur skeidsregters gestraf is nie, gevaarlik. Dit is gemiddeld tien per wedstryd.

Hy wys daarop dat die meerderheid onwettige skoonmake van losskrums wat nie deur skeidsregters gestraf is nie, vir “nie eie gewig ondersteun nie" (624 of 32%) was, gevolg deur 'van die kant af-aansluitings' (318 of 16%), 'skouerloop' (317 of 16%) en 'kontak bo die skouer' (247 of 13%).

“Die aanvallende span is nie vir 'nie eie gewig ondersteun nie' (599 of 96%) en 'van die kant af-aansluitings' (303 of 95%) gestraf nie, in vergelyking met die verdedigende span vir 'skoonmaak van 'n speler wat nie by die losskrum betrokke is nie' (12 of 27%) en 'aansluiting by die losskrum vanuit 'n onkant-posisie (22 of 12%).

Skeidsregters het nie die aanvallende span vir 95% (1 037 uit 1 087) van die gevaarlike onwettige skoonmake van die losskrum gestraf nie en die meerderheid van die gevaarlike onwettige skoonmake wat ongestraf gebly het, was vir 'skouerlope', 'nekrolle' en 'kontak bo die skouer'."

Kraak sê hul bevindinge behoort uit 'n foutkoers-oogpunt 'n bekommernis vir skeidsregter-belanghebbers te wees.

“Die feit dat 1 087 van die ongestrafte skoonmake as gevaarlik beskou kan word, behoort nog 'n groter bron van kommer vir rugbyveiligheid- en rugbyskeidsregter-belanghebbers te wees, aangesien dit 'n moontlikheid van besering vir spelers wat by die losskrum betrokke is, inhou.

“As 'n mens in ag neem dat sowat 10% van alle beserings in 'n wedstryd met die losskrum verbind word, is dit beslis iets wat aangespreek behoort te word."

Kraak sê skeidsregters kan die risiko van spelers wat beseer word, verminder deur op 'skouerlope', 'nekrolle' en 'kontak bo die skouer' te fokus as 'n mens in ag neem hoeveel van hierdie oortredings as gevaarlik beskou word.

“As daar op wettige en onwettige (gevaarlike en veilige) skoonmake van losskrums en strafskoppe deur skeidsregters gefokus word, kan dit help om vas te stel of skeidsregters regtig die wette toepas soos uiteengesit in die WR Reëls van die Spel."

Losskrumoefeninge

Kraak en sy medenavorsers het ook raad vir afrigters. “Omdat die losskrum 'n dinamiese situasie is, moet afrigters nie die skoonmaak van die losskrum in isolasie vir spelers aanleer nie omdat dit die besluitnemingsvermoëns van die spelers beperk. 

“Die aanvanklik doodvat, die baldraer se stryd vir beheer, die plasing van die bal en skoonmaaktegnieke moet almal gelyktydig by losskrumoefeninge ingesluit word omdat dit die spelers sal help om aan te pas en goeie besluite oor die situasie te neem."

Die navorsers moedig afrigters aan om skeidsregters na oefensessies te nooi om as skeidsregters aan oefeninge deel te neem en die huidige rugbyreëls toe te pas, aangesien skeidsregters se insette aan beide spelers en afrigters duidelikheid sal gee.

Kraak sê skeidsregters, spelers, afrigters en ander rugbybelanghebbers sal beslis baat vind by hul navorsing.

“Ons bevindinge kan lei tot die ontwikkeling en inwerkingstelling van verdere strategieë wat beserings voorkom ten einde die spel veiliger vir almal te maak."

  • ​BRON: Kraak, WJ et al 2019. 'Sanctioning of Illegal and Dangerous Ruck Cleanouts During the 2018 Super Rugby Competition'. Frontiers in Psychology, Vol 10.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Wilbur Kraak

Department Sportwetenskap

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Sel: 0835910321

Tel: 021 808 2379

E-pos: kjw@sun.ac.za / rugbyresearch@sun.ac.za

             UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za