Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US enigste Afrika-lid van globale universiteitsalliansie oor klimaat
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 11/06/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n reusestap vorentoe geneem om die vasteland se leier op die gebied van klimaatsverandering te word. Die Universiteit is op grond van sy uitnemende navorsingsprestasies en uitstekende navorsingskapasiteit genooi om Afrika in die 'Global Alliance of Universities on Climate' (GAUC) te verteenwoordig. Die stigtingsvergadering van GAUC se uitvoerende bestuur is onlangs (28–29 Mei) in Beijing, China gehou.

GAUC is vroeër vanjaar by die jaarlikse vergadering van die Wêreld-Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, tot stand gebring. Die alliansie beoog om saam te werk aan die bevordering van maatreëls wat die Verenigde Nasies (VN) se konvensies oor klimaatsverandering en die doewitte vir volhoubare ontwikkeling ondersteun. Die stigterslede is die Australiese Nasionale Universiteit; die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; die Universiteit van Cambridge; Imperial College London; die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap; die Massachusetts Instituut vir Tegnologie; die Universiteit van Tokio en Tsinghua-universiteit in China. Die vier bykomende lede wat genooi is om deel te word van GAUC, is die Universiteit Stellenbosch, die Federale Universiteit van Rio de Janeiro, die Indiese Instituut vir Wetenskap en Sciences Po – hierdie 12 universiteite vorm nou GAUC.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het die US se deelname aan hierdie toonaangewende alliansie van navorsingsintensiewe universiteite oor klimaat as 'n bevestiging van die Universiteit se aansien onder die wêreldwye navorsingsgemeenskap beskryf. Hy sê dit hou opwindende geleenthede in vir die uitbreiding van die US se huidige navorsingsaktiwiteite en onderrigvermoë om sodoende “ons visie te kan verwesenlik om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder".

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, wat die Universiteit Stellenbosch by GAUC se stigtingsvergadering verteenwoordig het, sê die Universiteit beskik oor die kennis en kundigheid wat oor veelvuldige dissiplines strek. Die US se akademiese werk oor klimaat en volhoubaarheid, asook sy Groen Kampus-inisiatiewe, sal 'n groot aanwins vir die alliansie wees.

Die alliansie se missie is om oplossings vir klimaatsverandering deur navorsing, onderwys en openbare uitreikaksies te bevorder, en om in vennootskap met nywerhede en nie-winsgewende en regeringsorganisasies die oplossings op van 'n plaaslike tot 'n internasionale skaal vinnig te implementeer. GAUC sal hierdie missie nastreef deur uitruilooreenkomste en deur samewerking tussen liduniversiteite te bevorder, asook deur sy leiersrol in die wêreldwye hoëronderwyssektor se pogings om klimaatsverandering te bekamp.

GAUC sal onder sy lede gesamentlike bilaterale of multilaterale navorsing oor sleutel-wetenskaplike, tegnologiese en ekonomiese beleidsake wat met klimaatsverandering verband hou, aanmoedig en versterk om so wetenskaplike bewustheid, tegnologiese innovasie en beleidsontwikkeling te bevorder. GAUC gaan ook navorsing aanmoedig wat die uitwerking van klimaatsverandering op die internasionale volhoubare ontwikkelingsdoelswitte en op die wêreld se kwesbaarste bevolkings sal verminder.

Talentontwikkeling is 'n sleutelkomponent van die alliansie se missie. GAUC gaan sy lede aanmoedig om saam kundigheid op die gebied van klimaatsverandering te ontwikkel, en gesamentlike leergeleenthede, studente-uitruilprojekte, gedeelde kursusse, innovering, entrepreneurskap en ander verwante projekte te onderneem.

GAUC streef daarna om kampusaksies te bevorder deur groen en koolstof-neutrale inisiatiewe, ervaring en die beste praktyke te deel en om die koolstof-neutrale transformasie van die universiteit in sy bestuur, bedryfsaktiwiteite en finansies te bevorder.

Die alliansie sal verder ook op openbare deelname fokus deur sy leiding aan die internasionale hoëronderwysgemeenskap, onder meer deur aktiewe deelname aan pogings om klimaatsverandering te bevorder deur navorsing, onderrig en openbare diens te bekamp in samewerking met industrie, die burgerlike samelewing en verwante organisasies. GAUC wil ook openbare bewustheid verbeter en streef daarna om eenstemmigheid te bereik oor die transformasie na 'n wêreldwye en plaaslike koolstof-neutrale samelewing.

In die breër samelewing wil GAUC die spoedige implementering van tegnologiese en beleidsoplossings bevorder wat die vrystelling van kweekhuisgasse en die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering sal verminder.

Die Tsinghua-universiteit – die huidige gasheer vir GAUC – en die US is besig om 'n bilaterale ooreenkoms te sluit wat die weg sal baan vir meer uitgebreide samewerking tussen dié twee instellings. Tsinghua word as China se topuniversiteit beskou en is bekend vir die toonaangewende werk van sy Instituut vir Klimaatsverandering.

Prof De Villiers het sy waardering teenoor dr Tsakani Ngomane, Adjunkdirekteurgeneraal: Klimaatsverandering en Volhoubare Ontwikkeling en lid van die US-raad, uitgespreek vir die belangrike rol wat hy gespeel het ter ondersteuning van die US se toelating tot GAUC op grond van die instelling se navorsingsrekord en -vermoëns.


 

Onderskrif:

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering het die US by die stigtingsvergadering van die ‘Global Alliance of Universities on Climate (GAUC)’ se uitvoerende bestuur in Beijing verteenwoordig.