Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier US-navorsers ding mee om NWTF-toekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/06/2019

Vier navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) sal as finaliste om die jaarlikse Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekennings (of te wel die NSTF/South32 Awards) meeding. Die wenners word op Donderdag, 27 Junie by 'n glansgeleentheid in Gauteng aangekondig.

Die NWTF/South32-toekennings, ook bekend as Suid-Afrika se 'Wetenskap Oscars', gee erkenning aan, vier en beloon uitnemendheid en uitsonderlike bydraes tot die Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie en Innovasie (die sogenaamde WETI-omgewing) deur WETI-verwante beroepslui en organisasies in die land. Onder die mededingers is ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikasiespesialiste, ingenieurskapasiteitsbouers, organisatoriese bestuurders en leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om as finalis benoem te word, gegewe die gehalte van die nominasies wat elke jaar ontvang word, die felle mededinging en die toenemende belangstelling uit die WETI-gemeenskap.

Die US-finaliste (met departement of omgewing) en die kategorieë waarin hulle genomineer is, is soos volg:

TW Kambule-NSTF-toekenning: Navorser deur navorsing en uitsette daarvan (deur 'n individu wat tot 15 jaar al as navorser werk, hoofsaaklik in Suid-Afrika):

  • Prof Novel Njweipi Chegou (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)

​TW Kambule-NSTF-toekenning: Opkomende navorser deur navorsing en uitsette daarvan (deur 'n individu wat tot ses jaar al as navorser werk, hoofsaaklik in Suid-Afrika)

  • Dr Wynand J Goosen (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika /Sentrum vir Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulose-navorsing)

Data vir Navorsing-toekenning: vir die bevordering van die beskikbaarheid, bestuur en gebruik van data vir navorsing (deur 'n individu of 'n organisasie):

  • Die Sentrale Analitiese Fasiliteit-span onder leiding van Prof Anton du Plessis

Innovasietoekenning: Korporatiewe Organisasie vir innoveerders en hul navorsing en/of ontwikkeling (deur 'n span of individu die afgelope tien jaar):

  • Die Solar-termiese Engergienavorsingsgroep (of te wel die 'Solar Thermal Energy Research Group' (STERG) met Prof Sybrand Johannes van der Spuy as spanleier.