Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kry ritme, jou hartritme!
Outeur: Dr. Jo-Anne Kirby and Sr. Erika Botha
Gepubliseer: 04/06/2019

Suid-Afrika vier Wêreld-Hartklop-Week van 4-10 Junie 2019. 'n Probleem in hartritme kom dikwels voor met hartkloppings.

Wat presies is hartkloppings? Hartkloppings is die gevoel van 'n vinnig kloppende, fladderende of dawerende hart. Dit kan veroorsaak word deur stres, oefening, medikasie, of uiters selde, deur 'n mediese toestand. Alhoewel hartkloppings jou kan kwel, is dit gewoonlik onskadelik. Gedurende oefening is dit normaal dat jou hart vinniger en harder klop, maar jy moet besluit of dit buite beheer of net ongewoon vinnig klop.

Wat veroorsaak hartkloppings?

Die meeste hartkloppings is nie gevaarlik nie en kan dikwels met eksterne faktore verklaar word. Hierdie eksterne faktore kan oefening, stres of angs, of verhoogde hoeveelhede nikotien of kafeïen insluit. Sekere medikasie kan hartkloppings tot gevolg hê, insluitend inasemtoestelle vir asma en verkoue middels wat oor die toonbank gekoop word. Raadpleeg jou dokter oor die potensiële newe-effekte van medikasie as jy bekommerd is.

Wanneer hartkloppings deur hierdie faktore veroorsaak word, sal dit voel of jou hart vinniger en harder as gewoonlik klop. Jy kan selfs fladderings ervaar of dit kan voel of jou hart amper gaan staan. Hierdie simptome word gewoonlik in die bors gevoel, maar moet egter nie ontsteld wees as jy ook simptome in jou keel of nek ervaar nie.

Net soos hierdie eksterne faktore, kan hartkloppings deur 'n wye reeks abnormale hartritmes veroorsaak word. Sommige van hierdie kom eintlik algemeen voor en is glad nie gevaarlik nie. Hierdie hartkloppings sal slegs 'n paar sekondes duur en nie met enige ander simptome gepaardgaan nie. Indien hartkloppings vir 'n paar minute of langer duur, of met ander simptome gepaardgaan, is dit moontlik dat daar groter onderliggende probleme mag wees. Dit kan beteken dat jy komplikasies soos hartversaking of hartstilstand onder lede kan hê. Dit is belangrik om die waarskuwingstekens vir ernstige probleme te verstaan. Verminder jou risiko vir hartprobleme deur 'n gesonde lewenstyl te handhaaf. Hou op rook, eet 'n gebalanseerde dieet en mik daarna om ten minste vyf dae per week 30-60 minute te oefen.

Wanneer moet ek 'n dokter raadpleeg oor hartkloppings?

Wanneer hartkloppings langer as 'n paar sekondes duur, of met ander simptome geassosieer word, mag daar onderliggende mediese probleme wees. As jou hartkloppings gepaardgaan met duiseligheid, floute, aamborstigheid, of borskaspyn, moet jy mediese aandag kry.

Luister na jou hart en raadpleeg 'n dokter wanneer jy enige van die volgende simptome het:

  • Meer as 3 onewe hartslae in 10 sekondes of 12 onewe hartslae in 'n minuut
  • Jy onlangs nuwe medikasie begin gebruik of medikasie verander het
  • Saam met hartkloppings:
    • Jy voel duiselig en wil flou val of het flou geword
    • Jy het borskaspyn of drukking op jou bors
    • Jy voel ongewoon kortasem.

Wat kan ek doen om my dokter te help om by die regte diagnose uit te kom?

Vind uit of daar enige bekende oorerflike hartprobleme is en die diagnose daarvan.

Bring 'n lys saam van enige medikasie en dosering, asook enige aanvullings wat jy inneem.

Tel jou hartklop wanneer dit ongewoon vinnig klop. Jy kan die hartklop op jou pols of langs jou adamsappel neem, die aantal slae in 10 sekondes tel en dan met 6 vermenigvuldig om die aantal slae per minuut te kry.

Indien moontlik, probeer om jou dokter of ten minste 'n verpleegsuster te raadpleeg terwyl jy hartkloppings ervaar. 'n Elektrokardiogram (EKG) van die hartkloppings sal van nut wees. Moet egter nie wegbly wanneer dit opgeklaar het nie – 'n rustende EKG sonder hartkloppings kan genoeg inligting aan jou dokter gee, selfs as daar geen simptome is nie!

Moenie Dr. Google raadpleeg nie, dit sal jou afskrik!

Wat sal die dokter moontlik doen?

Die dokter sal 'n geskiedenis neem, uitvra oor jou huidige mediese toestand en kontroleer watter medikasie en aanvullings jy inneem (bring 'n lys saam na jou afspraak).

'n Mediese ondersoek van jou hart en bloeddruk sal gedoen word.

'n Rustende EKG (en in sommige gevalle 'n spannings-EKG – waar jy oefen en jou hartspoed verhoog terwyl jy aan 'n EKG gekoppel is).

Daar kan moontlik ander toetse gedoen word, soos suiker- en hemoglobientoetse (vir anemie), of bloed getrek word vir 'n skildkliertoets.

Hoe vinnig kan my hartklop wees terwyl ek oefen?

Trek jou ouderdomsjare af van 230 en jy sal jou maksimum hartspoed kry. As jy 50 is, byvoorbeeld, is jou maksimum hartspoed 230 – 50 = 180, maar as jy 20 jaar oud is, is jou maksimum hartspoed 210 slae per minuut. As jou hartspoed vinniger is gedurende oefening, raadpleeg jou dokter.

Wat van stadige hartspoed?

Die gemiddelde normale hartspoed is 60-80 slae per minuut, maar vir baie fikse individue, kan die rustende hartspoed so laag as 40 slae per minuut wees. As jou hartspoed baie stadig is en jy voel sleg, raadpleeg eerder jou dokter.

As jy bekommerd is oor jou hartritme, of as jy hartkloppings ervaar en graag 'n dokter wil raadpleeg, kontak asseblief Kampusgesondheidsdiens hier en maak 'n afspraak. Kampusgesondheidsdiens het die toerusting om 'n normale EKG en 'n spannings-EKG (op 'n oefenfiets) te doen.