Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe internasionale internskap vir meesterstudente in Verpleegkunde ’n sukses
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 24/05/2019

Die voorkeurvennootskap tussen Universiteit Stellenbosch (US) en die Katholieke Universiteit Leuven in België is versterk met 'n internskap vir meesterstudente in Verpleegkunde by die FGGW se Departement Verpleeg- en Verloskunde.

Die meestersgraad internskap vir studentemobiliteit is in 2018 ingestel met een meestersgraad in bestuur onder leiding van dr Guin Lourens van die FGGW en Philip Moons, 'n professor in Gesondheidsorg en Verplegingswetenskap by KU Leuven se Departement van Openbare Gesondheid en Primêre Sorg. Aansoeke by die US het sedertdien toegeneem.

“Ons eerste student was Yasmina Bellon, wat dapper genoeg was om by die nuwe vennootskap aansoek te doen," sê Lourens. “Sy het 'n nie-kliniese meestersgraad in Verplegings- en Gesondheidsdiensbestuur gedoen en ek is as haar mentor aangewys. Die uitplasing het een module van haar meestersgraad gedek. Vanjaar het ons die program uitgebrei om ses week lange internskappe in bestuur, verloskunde en primêre sorg in te sluit, wat ek saam met dr Doreen Kaura en Danene Kitshoff, albei van die Departement Verpleeg- en Verloskunde, koördineer.

“Vier meesterstudente – een in Verloskunde, een in Primêre Sorg (kliniese meestersgraad), en twee in Verplegings- en Gesondheidsdiensbestuur (nie-kliniese meestersgraad) – het die jaar vir die program ingeskryf.

“Die studente het op 29 Januarie hier aangeland en op 16 Maart na België teruggekeer."

Volgens Lourens het die studente 'n internskap van 30 werksdae voltooi, wat as 'n module van 15 krediete tel tot die voltooiing van hul meestersgraad in Verpleegkunde aan die KU. “'n Mentor is vir hulle aangewys en doelwitte is gestel in lyn met die ervaring wat ons hulle kon bied in die onderskeie verplegingsvelde. Hulle moes verskeie aktiwiteite bemeester, soos voorleggings doen, beleid ontwikkel, en hulp verleen by praktiese eksamens in hul veld. Hulle kon mentors en ander rolmodelle in verpleegkunde werkskadu. Hulle het ook gehelp om die departement se ope dag te reël.

Wannneer hulle nie gewerk het nie, het die studente dit geniet om Kaapstad se toeriste-aantreklikhede te verken.

Lourens sê die interns se terugvoer toon hulle het 'n uitstekende ervaring by die universiteit gehad.

“Die eerste internskap in 2018 het goed afgeloop en dit was wonderlik om in 2019 twee internskappe vir meestersgrade in Primêre Sorg en Verloskunde te hê."

Daar was talle hoogtepunte, soos om te sien hoe studente se selfvertroue groei en hoe hulle moontlike dissiplines vir die toekoms identifiseer.

“Die Suid-Afrikaanse braai was ook 'n sosiale hoogtepunt. Die interns het elke Woensdag 'n braai by die koshuis vir internasionale studente op die Tygerberg-kampus gehou. Daar was ook 'n afskeidsfunksie aan die einde van hul internskap."

Soos een van die terugkerende interns dit gestel het: “Dis al meer as 'n week sedert ek Suid-Afrika verlaat het en dit was moeilik om afskeid te neem. Ek het my internskap en jul mentorskap geniet. Dit was regtig 'n wonderlike geleentheid!"

Volgens Lourens hoop die departement om die internskappe in samewerking met KU Leuven voort te sit en is daar samesprekings om die program uit te brei.


Onderskrif: Dr Guin Lourens saam met studente-interns van die Katholieke Universiteit Leuven in België tydens die FGGW se opedag.