Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hipermoderne studente-inligtingstelsel plaas die US op ’n hoër vlak
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 07/05/2019

 Die implementering van SUNStudent, die nuwe voorpunt-tegnologiese studente-inligtingstelsel (SIS) van die Universiteit Stellenbosch (US), het vandeesweek afgeskop. Die nuwe stelsel sal die studente-administrasie en akademiese kurrikulumbestuur op 'n hoër vlak plaas.

“Dit is 'n groot mylpaal vir ons. Administratiewe stelsels en rekords is die fondament waarop die Universiteit gebou is," het prof Wim de Villiers, Visekansellier en Rektor, by die bekendstellingsgeleentheid Maandagaand (6 Mei) op Stellenbosch gesê.

SUNStudent, 'n omvattende en hipermoderne sagtewarepakket van die diensverskaffer Serosoft Solutions, se implementering gaan nou afskop en die stelsel sal na verwagting oor 'n tydperk van twee jaar lewendig gemaak word. Die maatskappy Eiffel Corp se veranderingsbestuurkonsultante gaan saam Serosoft werk om personeel en studente met die oorgang vanaf die bestaande stelsel na die nuwe SUNStudent te help en te ondersteun.

Volgens prof De Villiers is SUNStudent een van die instaatstellers wat gaan bydra tot die verwesenliking van die Universiteit se Visie 2040 om as Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit gesien te word wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word, terwyl die Universiteit kennis tot diens van die samelewing bevorder.

“Dit is die groot prentjie van waar ons onsself in die toekoms wil sien. Ons wil relevant vir die mense van ons land, Afrika en die res van die wêreld wees en betekenisvolle bydraes van die hoogste gehalte maak," het prof De Villiers gesê.

Volgens die Rektor is dit waar SUNStudent inpas. Die nuwe SIS is belyn met die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024.

“Die harde werk gaan nou begin om die nuwe stelsel te bou en te implementeer. Dit gaan 'n ingewikkelde proses wees om van die bestaande stelsel na die nuwe SUNStudent oor te skakel – 'n bietjie soos om die vliegtuig te bou terwyl jy in die lug is!" het prof De Villiers gesê.

ʼn Projekbestuurkantoor is reeds gevestig, en die Registrateur van die US, dr Ronel Retief, sal die SUNStudent-projek lei. Sy sal deur ʼn sterk beheerkomitee en projekbestuurspan, met kundige verteenwoordiging uit ons afdelings Informasietegnologie en Inligtingsoorsigbestuur, bygestaan word en die relevante funksionele areas sal ook deurlopend betrek word om insette vanuit gebruikersgeledere te gee.

Dr Retief het in haar verwelkomingstoespraak gesê die studente is die belangrikste belanghebbendes. “Ons glo regtig die studente sal die vrugte pluk van die nuwe SUNStudent-stelsel. Sy het ook 'n spesiale woord van dank aan prof Ian Cloete, die voorsitter van die bestuurskomitee vir die stelselvernuwingsprojek waarvan die uitkoms tot die huidige implementering van 'n nuwe SIS gelei het, gerig.

Die hoofuitvoerende beampte van Eiffel Corp, mnr Ian Light, het sy opgewondenheid oor hul vennootskap met die Universiteit uitgespreek. “Hierdie projek is vir ons as 'n maatskappy een van die belangrikste in ons geskiedenis van 21 jaar. Dit is 'n eer om die Universiteit se vennoot te wees. Stellenbosch is een van die beste universiteite ter wêreld," het Light gesê.

Mnr Arpit Badjatya, stigter en hoofuitvoerende beampte van Serosoft Solutions, 'n Indiese sagtewareverskaffer, het vertel dat werknemers van Serosoft SUNStuden as 'Project Sunshine' beskryf. “Ons is opgewonde oor die tyd wat ons hier in Suid-Afrika en op Stellenbosch gaan spandeer. Ons weet dat die Universiteit in 'n transformasieproses is. Die transformasie sal onvolledig wees as dit nie ook digitaal gedoen word nie. Ons is oorgehaal om ons beste te lewer," het Badjatya gesê.

SUNStudent sal bestaan uit die Academia SIS-produk van Serosoft wat die administrasie van elke fase van die student se lewensiklus vanaf werwing tot graduering en daarna sal ondersteun. Vir meer inligting oor SUNStudent klik hier.

Mnr Batjatya het met verwysing na die implementering wat voorlê sy toespraak afgesluit in die woorde van Robert Frost:

The woods are lovely, dark and deep,
But I have promises to keep,
And miles to go before I sleep,
And miles to go before I sleep.

Sunstudent (3) - Copy small.jpg 

Foto: Mense teenwoordig by die afskop van SUNStudent is, van links, mnr Ian ​Light, (Hoofuitvoerende beampte van Eiffel Corp), mnr Siddharth Badjatiya (hoofdirekteur van Serosoft Solutions) , Prof Ian Cloete (voorsitter van die bestuurskomitee), Dr Ronel Retief (Registrateur),  Prof Wim de Villiers (Rektor en Visekanselier), mnr Attie Juyn (Senior-direkteur: Inligtingstegnologie) en mnr Arpit Badjatya (Stigter en hoofuitvoerende beampte van Serosoft Solutions). Fotograaf: Stefan Els

Sunstudent (2) - Copy small.jpg 

Gaste by die bekendstelling van SUNStudent, studente-inligtingstelsel. Fotograaf: Stefan Els​

​Hooffoto: Mnr Ian Light, prof Wim de Villiers en mnr Arpit Badjatya​​. Foto: Stefan Els