Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Ek kan enigiets studeer wat ek wil' sê gehoorgestremde student
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 02/05/2019

Toe Jody Lee Bell 'n jong leerder was by die Carel du Toit Sentrum vir kinders met gehoorgestremdhede, het haar ma, dr Diane Bell, gaan luister na 'n praatjie deur 'n alumnus van die skool wat op die gronde van die Tygerberg-hospitaal geleë is.

"Hierdie alumnus het twee kogleêre inplantings gehad en het die klavier bespeel en gepraat oor hoe sy enigiets kon doen wat sy wou. Dit het my ma – wat destyds 'n hoërskoolonderwyseres was –laat besef dat ek enigiets kon doen. My ma het my in gewone skole ingeskryf en het die maatstaf bepaal dat  ek 'enigiets en nog meer kon doen'. As gevolg van daardie standaard en die gepaardgaande verwagting, het ek geleer om in myself te glo, en dit het my deur die lewe gedra."

Haar ma se filosofie het duidelik vrugte afgewerp. Jody Bell het onlangs 'n Meestersgraad in Patologie behaal aan die Universiteit Stellenbosch.

“As jy die perke ken van die dinge wat jy nie kan doen nie, dan besef jy dat daar aan ander dinge geen perke is nie. Dis my boodskap aan ander studente met gehoorgestremdhede," sê Bell.

Dr Diane Bell glo haar 26-jarige dogter – wat ook Tweede Prinses was in die Mej Dowe Suid-Afrika – is die eerste gehoorgestremde persoon in Suid-Afrika, indien nie op die kontinent nie, wat 'n Meestersgraad in Patologie behaal.

'n Verheugde Bell het gesê dat sy baie ingenome was daarmee om haar graad te behaal. "Ek het geweet dat ek dit kon doen as ek hard werk en vasbyt," het sy in 'n onderhoud gesê.

"Ek kan nie selfoonoproepe en ander oproepe hanteer nie, maar ek kan enigiets studeer waarop ek my toespits – en so kan ook almal anders met 'n gestremdheid."

Bell is gebore met ernstige gehoorverlies, wat ontdek is toe sy een jaar oud was. Sy het kogleêre inplantings ontvang – een in die linkeroor op ouderdom 16 en die ander in die regteroor op ouderdom 18 – wat haar geweldig baie gehelp het en ook daartoe gelei het dat haar gemiddelde punte op skool baie verbeter het. Sy gebruik gesproke taal wat deur middel van die gebruik van hierdie tegnologie opgedoen is, asook die Carel du Toit auditoriese/verbale metodologie wat gebruik word om dowe kinders taal aan te leer.

Om gehoorgstremd te wees het met baie akademiese en sosiale uitdagings vir Bell gepaard gegaan. Sy het ekstra lesse geneem beide op skool en op universiteit, maar sy sê om 'n gehoorgestremde student te wees was regtig moeilik op 'n voorgraadse vlak asook tydens haar Honneursjaar.

“Ek het meestal gesukkel tydens lesings en seminare, aangesien dit moeilik is om te hoor in sommige lesingsale. Ek is 'n student wat ingestel is op visuele leermetodes, nie metodes wat op gehoor gebaseer is nie."

Dinge was heelwat makliker tydens haar navorsings-meesters, en die enigste uitdaging daartydens was met haar skryfvaardighede.

"As 'n gehoorgestremde persoon, is ons grammatikale korrektheid dikwels 'n uitdaging. Party lande maak toelatings daarvoor dat gehoorgestremdes nie vir taalfoute gepenaliseer word wanneer 'n tesis/werk nagesien word nie. In Suid-Afrika is dit nog nie die geval nie – hopelik sal ons binnekort as 'n land ook daar uitkom."

Volgens Bell het die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Gestremdhede hulle uiterste bes gedoen om haar die nodige ondersteuning te gee, en so ook die Molekulêre Genetika Department en die NHLS/SU Biobank by die Tygerberg-hospitaal.

Bell sê die hoogtepunte oppad na die verwerwing van haar meestersgraad was om 'n werksetiek aan te leer en "om te streef na iets groter as ekself, en vir myself, in plaas van wat die wêreld van my verwag het."

Bell is tans in Melbourne in Australië en neem 'n verposing "om bietjie asem te haal" en sy geniet haar passies wat bestaan daaruit om te bak, te  kook en te hekel.

Sy hoop om vinnig te  begin werk – verkieslik in 'n bestuurspos by 'n navorsingsprojek – en sy beplan ook om verder te studeer en om of nog 'n meestersgraad te doen, of 'n doktorsgraad.