Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Thuli Madonsela ontvang Geregtigheidstoekenning in New York
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 30/04/2019

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regsfakulteittrust se navorsingsleerstoel in maatskaplike geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs nog 'n toekenning vir haar werk in die strewe na sosiale geregtigheid ontvang.

Prof Madonsela is vereer met die toekenning vir lewenslange leierskap vir geregtigheid van Shared Interest, 'n organisasie sonder winsoogmerk wat in New York gestig is deur die anti-apartheid-aktivis Donna Katzin. Sy het die toekenning op 25 April by Shared Interest se 25-jaar gala in New York ontvang. Hierdie gala-geleentheid vier 25 jaar van Suid-Afrika se demokrasie asook die organisasie se belegging in die toekoms van Suider-Afrika.

Shared Interest is gestig om toegang tot kommersiële krediet vir lae-inkomste swart leners te verbeter. Dit bied waarborge om plaaslike banke sover te kry om geld aan finansieel uitgesluite gemeenskappe te leen om sodoende kapasiteit vir kleinboere en opkomende entrepreneurs te bou. Tot dusver het Shared Interest $28 miljoen in waarborge gegee, wat $121 miljoen losgemaak het in lenings tot voordeel van 2,3 miljoen mense in Suider-Afrika. Gebaseer op hul suksesvolle model het hulle uitgebrei na Malawi, Mosambiek, Swaziland, en is nou besig om programme in Zambië voor te berei en binnekort ook in Tanzanië.

Professor Madonsela is in 2014 as een van TIME se 100 invloedrykste persone ter wêreld aangewys, en in 2016 as Forbes Africa se persoon van die jaar. Sy was een van die skrywers van die Suid-Afrikaanse Grondwet, en medeskepper van verskeie wette met die doel om die Suid-Afrikaanse demokrasie te veranker. Gedurende haar sewe jaar as Openbare Beskermer het advokaat Madonsela onverskrokke ondersoek ingestel na wanadministrasie, korrupsie, skendings van bestuursetiek en verbandhoudende ongerymdhede in staatsaangeleenthede. Sedertdien spits sy haar in haar werk by die Universiteit toe op die bevordering van goeie oorsigbestuur, geregtigheid en verantwoordbaarheid in die openbare lewe, en gee sy ook klas in staats- en bestuursreg.

"Dit is werklik 'n groot eer om hierdie toekenning te ontvang. Ek sal voortgaan om my deel te doen om die konstitusionele belofte van 'n inklusiewe samelewing wat gebaseer is op sosiale geregtigheid, gedeelde voorspoed, vriendskap en vrede, te versnel," het prof Madonsela gesê.

"Solank daar iewers onreg is, kan daar nie volhoubare vrede wees nie. Ons moet almal saamstaan - die wat historiese bevoordeel is, geen historiese voordeel gehad het nie, mans, vroue, kinders, oud en jonk. As 'n eenheid sal ons uitstyg, verdeeld gaan ons val," het sy bygevoeg.