Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Pumla Gobodo-Madikizela ontvang derde eredoktorsgraad
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/04/2019

Professor Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die navorsingsleerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Vrydag (12 April 2019) 'n eredoktorsgraad van die Rhodes-universiteit in Grahamstad ontvang. Dit is haar derde eregraad nadat sy op soortgelyke wyse deur Holy Cross College in Massachusetts, Amerika, en die Friedlich Schiller Universiteit Jena in Duitsland vereer is.

Gobodo-Madikizela, ʼn alumna van die Rhodes-universiteit, het die graad Doktor in die Regte honoris causa ontvang vir haar uitstaande werk oor temas soos skuld, versoening, vergifnis, die dialoog tussen oortreders en slagoffers, asook die manier waarop trauma deur individue en in politieke stelsels ervaar word.

Die Rhodes-universiteit het haar geloof vir die bydrae wat sy gemaak tot traumanavorsing en haar pogings om slagoffers se stories te vertel, oortreders te vermenslik en ʼn boodskap van hoop, empatie, dialoog, vergifnis en versoening te verkondig in ʼn samelewing wat deur geweld en konflik gekenmerk word.

Gobodo-Madikizela het in haar aanvaardingstoespraak ​gesê sy neem die eregraad met groot dankbaarheid in ontvangs, en is ten volle bewus van die eer en uitdaging wat die titel verteenwoordig, afkomstig van ʼn universiteit wat sy alumni aanmoedig om te lei en ʼn helder lig te wees.

Sy het die graduandi aangemoedig om hul plek as leiers in die samelewing in te neem en hulle vir geregtigheid en regverdigheid te beywer.

Gobodo-Madikizela is ook vroeër deur die Rhodes-Universiteit vereer. In 2010 en 2017 het sy onderskeidelik die instelling se Social Change- en Distinguished Old Rhodian-toekenning ontvang.  

Sy was ʼn lid van die Waarheid-en-Versoeningskommissie se Komitee oor Menseregteskendings. Benewens verskeie internasionale en nasionale toekennings, het sy ook erkenning van die Nasionale Navorsingstigting ontvang as ʼn navorser wat internasionaal deur haar eweknieë gereken word.

Sedert 2017 dien Gobodo-Madikizela as navorsingsadviseur en wêreldwye akademikus by die Queen's Universiteit in Belfast. Dié posisie is by die Senator George Mitchell-Instituut vir Wêreldvrede, Veiligheid en Geregtigheid geaffilieer.

Gobodo-Madikizela was ook ʼn navorsingsgenoot by onder meer Harvard Universiteit se Radcliffe Instituut vir Gevorderde Navorsing, die Carr-sentrum vir Menseregtebeleid by die Harvard Kennedy-skool en die Claude Ake Besoekende Leerstoel by die Uppsala-universiteit in Swede in samewerking met die Nordiese Afrika-instituut.

By dieselfde gradeplegtigheidseremonie is eregrade aan proff George Ellis, Ian Scott, Glenda Gray en me Okunike Monica Okundaye-Davis toegeken. Gray het ook in 2017 ʼn eregraad van die US ontvang.

Foto: Professor Pumla Gobodo-Madikizela ontvang haar eregraad van die Rhodes-Universiteit se registrateur, Dr Adele Moodly.

  • Die Universiteit van Kaapstad sal in Desember 2019 ʼn eredoktorsgraad aan prof Jonathan Jansen, Uitgelese Professor by die US se Fakulteit Opvoedkunde, toeken.