 Eredoktorsgraduandi is kampvegters vir transformasie Outeur: Corporate Communications Gepubliseer: 04/04/2019 Die Universiteit Stellenbosch vereer vanjaar by sy April-gradeplegtighede vier kampvegters vir transformasie in onderwys en menseregte wat ook almal reusebydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en opvoeding in Afrika gemaak het, met eredoktorsgrade.
Die vier wat vereer word, is: - Dr Jan Boland Coetzee is vereer met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe in Landbou (DScAgric), honoris causa, op 2 April 2019.
In die aanvaardingstoespraak het Coetzee het sy dankbaarheid en waardering vir die toekenning uitgespreek. Hy het nie net die Universiteit nie, maar sy vriende, alma mater, personeel en sy gesin bedank vir die waardevolle rol wat hulle in sy lewe speel en gespeel het.Coetzee het in die woorde van die Franse skrywer Marcel Proust – “Die ware ontdekkingsreis lê nie daarin om nuwe landskappe te soek nie, maar om met nuwe oë te kyk," – sy alma mater en die mense by die Fakulteit AgriWetenskappe geloof vir die jare se werk om die Fakulteit te kry waar dit vandag is. Ter afsluiting het hy aan al die graduati by die gradeplegtigheid gesê dat hulle lewens nou begin en hulle sal soos die ander voor hulle, besef watter eer dit was om aan die Universiteit Stellenbosch te kon studeer. “Aan al die jongmense met die groen bande, onthou die woorde van 'n Franse vriend: “Wat in 'n man tel, is sy drome."
Mense met selfone kan hier klik om die video te sien.
Die inhuldigingswoord wat gelees is by gradeplegtigheid is: Met meer as 50 Stellenbosse druiwe-oeste agter die rug, het Jan Boland Coetzee hom as 'n leier in die tegnologiese, maatskaplike en bestuursontwikkeling van die Suid-Afrikaanse wynbedryf bewys. Hierdie voormalige Springbokrugbyspeler is ook 'n gewaardeerde alumnus en vriend van die Universiteit Stellenbosch (US). Coetzee, 'n boorling van Porterville aan die Weskus, verwerf in 1968 sy BScAgric met Wingerd- en Wynkunde en Chemie as hoofvakke nadat hy reeds die vorige jaar sy eerste oes as wynmaker op die Stellenbosse plaas Kanonkop beleef het. In 1980 koop hy die plaas Vriesenhof in Paradyskloof, waar hy sedertdien van die beste wyne maak wat Suid-Afrika al ooit opgelewer het.Tog strek Coetzee se bydrae tot die wynbedryf ook veel verder. Afgesien van sy uitgebreide kennis van terroir in Suid-Afrika en Europa, het hy 'n unieke vermoë om die oorsprong van wyne te identifiseer. Hy het 'n leeftyd daaraan gewy om voorspraak te doen vir Suid-Afrikaanse wyne wat die streek en die vasteland van Afrika weerspieël en het 'n kernrol gespeel in die internasionale erkenning wat ons wyne deesdae geniet. As een van die stigterslede van die Kaapse Wynmakersgilde het hy sy wynmaakkennis onbaatsugtig deur die Gilde se protégé-programme vir wingerd- en wynkunde gedeel. Sodoende het 'n aantal jongmense internskappe by lede van die Gilde bekom en die geleentheid ontvang om by die beste in die bedryf te leer. Omdat hy die waarde van 'n gelukkige, gesonde arbeidsmag verstaan, het Coetzee die Landelike Stigting in die 1970's help skep. Saam met ander toonaangewende wynboere het hy hierdie platform gebruik om die werks- en leefomstandighede van werkers op plaaslike wynplase te verbeter. Dit was so suksesvol dat die konsep oor die res van die land versprei het. Toe die Stigting sy deure sluit, het Coetzee sy maatskaplike opheffingsinisiatiewe vir plaaswerkers deur bedryfsprogramme en privaat pogings op Vriesenhof voortgesit.Op sportgebied het hy Matie- en Stellenbosse rugby uiteindelik langer as 50 jaar gedien – eers as 'n hoog aangeskrewe Matiespeler en toe -afrigter, en later as ondervoorsitter van die Stellenbosse Rugbyklub, die tweede oudste in die land. Coetzee het die groen-en-goud die eerste keer op 29 gedra en hy vergestalt steeds die waardes van Springbokrugby en word sy insig in die spel wyd geloof.As een van die aanvoorders van die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe – 'n samewerkende projek tussen die bedryf en die US – werk hy onverpoosd om te sorg dat die Instituut onafhanklik bly dog ook die voorpuntnavorsingsvermoëns van sy alma mater benut. Hy was ook al 'n waardevolle mentor vir opeenvolgende AgriWetenskappe-dekane en -departementsvoorsitters. Sy spesiale vriendskap met die US en die Fakulteit AgriWetenskappe duur voort. Jan Boland Coetzee is die toonbeeld van die werksetiek, ondersoekende gees en betrokke burgerskap waarmee die US sy graduandi wil toerus. Sy strewe na uitnemendheid op sy gebied én sy ruimhartigheid is die Universiteit se hoogste eerbewys waardig.
- Dr Shirley Ann Jackson het op 3 April om 17:00 die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa) ontvang :
In haar aanvaardingsrede het sy gesê: “Hoekom nie die wêreld verander nie?" is 'n vraag wat dr Jackson altyd aan haar studente in Amerika vra. Sy het Woensdagaand dieselfde vraag aan die graduati by die derde gradeplegtigheid van die US gestel. “Jul onderrig het julle die mag gegee om te ontdek en te innoveer. Maar die mag om die mensdom op te hef, is groter as dit. Die wêreld kan nie die groot bedreigings wat die mensdom in die gesig staar sonder revolusionêre ontwikkelinge, nuwe tegnologie en voorspellings aanspreek nie … “Julle gaan die geleentheid hê om dít wat onhoudbaar is vir die samelewing reg te maak. Julle moet almal saamwerk aan 'n vreedsame planeet Dit is die pad na 'n betekenisvolle loopbaan en lewe," het sy gesê. Volgens Jackson is die wêreld se bedreigings en probleme te ingewikkeld om net deur een mens of een dissipline opgelos te word. “Die mensdom se uitdagings vandag is globaal en dringend." Sy het gesê wêreldwye interdissiplinêre samewerking is die enigste manier om hierdie uitdagings die hoof te bied en die wêreld te verander.
Selfoongebruikers kan hier klik om die video te sien.
Die inhuldigingswoord gelewer voor die graadtoekenning: Shirley Ann Jackson het uitmuntende bydraes gelewer tot die wetenskap, ingenieurswese en onderwys. As hegte vriend en mentor van die voormalige Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), wyle professor Russel Botman, het haar ervaring en steun as 18de president van die Rensselaer Politegniese Instituut ook 'n kernrol gespeel in die ontstaan van die US se impakryke HOOP Projek en die oortuiging dat wat by die US gebeur, saak maak vir die wêreld. Jackson is in Washington DC gebore. Met ouers wat groot waarde aan 'n goeie opvoeding heg, matrikuleer sy in 1964 as topstudent in haar klas. Sy skryf in by die toonaangewende Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) – een van slegs 20 Afro-Amerikaanse studente daar, en die enigste wat teoretiese fisika studeer. Haar suksesvolle studieloopbaan by MIT loop uit op 'n PhD in kernfisika in 1973. So word sy die eerste Afro-Amerikaanse vrou wat 'n doktoraat in fisika in die Verenigde State verwerf, en is sy ook in dié opsig 'n pionier. Nadoktorale genootskappe by die Fermi Nasionale Versnellerlaboratorium in Batavia, Illinois, en die Europese Organisasie vir Kernnavorsing (CERN) in Genève, Switserland, word gevolg deur 'n aanstelling by AT & T Bell Laboratoriums in New Jersey. Hier doen Jackson 15 jaar lank navorsing oor die optiese en elektroniese eienskappe van gelaagde materiale, soos halfgeleier-superlatwerke met streslae. Gretig om haar kennis en vaardighede na 'n volgende geslag wetenskaplikes oor te dra, aanvaar sy later 'n pos as professor in fisika by Rutgers Universiteit, New Jersey. Jackson sit haar nou reeds gevestigde rol as baanbreker voort toe sy in 1999 die eerste vrou en Afro-Amerikaner word om die presidentsamp van die Rensselaer Politegniese Instituut te aanvaar. Haar visie was om Rensselaer in 'n tegnologiese navorsingsuniversiteit van wêreldgehalte te omskep – en dít het sy inderdaad gedoen: Met meer as $1,25 miljard se belegging die afgelope 15 jaar is die kampus met ultramoderne navorsingsfasiliteite getransformeer. Dít sluit in die Sentrum vir Berekeningsinnovasie, wat met die kragtigste superrekenaar van alle privaat universiteite in die Verenigde State spog. Rensselaer klim sedertdien die internasionale ranglyste, en sy eerstejaarsinname het verdrievoudig. Jackson voor kurrikulumtransformasie aan en bewerkstellig meer voorgraadse navorsing sowel as 'n radikaal veranderde studente-ervaring, waaronder die bekroonde CLASS- (“Clustered Learning, Advocacy and Support for Students"-)program. Die instelling, wat in 2024 sy tweede eeufees vier, bied 'n omvattende studente-ervaring, pedagogiese innovasies soos gemengderealiteit-klaskamers, en gevorderde navorsing in datawetenskap, kunsmatige intelligensie en kognitiewe wetenskap. Benewens 'n aantal poste as wetenskap-, tegnologie- en innovasieraadgewer vir staatsliggame, besorg haar kundigheid haar ook twee presidensiële aanstellings – voorsitter van die Verenigde State se Kernreguleringskommissie onder president Bill Clinton, en lid van president Barack Obama se Adviseursraad oor Wetenskap en Tegnologie. Die US verleen met trots graag die graad Doktor in die Ingenieurswese (Ding), honoris causa, aan Shirley Ann Jackson vir haar baanbrekersrol in die akademiese sfeer en haar toewyding aan die transformasie van die hoër onderwys; vir haar uitnemende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie; en vir haar leierskap wat die Universiteit Stellenbosch help vorm het as 'n universiteit ín Afrika, vír die wêreld.
- Prof John Latham is op 3 April om 10:00 vereer met die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa:
In die aanvaardingsredee het hy gesê: “Daar is geen groter eer as om deur jou geesgenote erken te word nie." Hy het gesê Stellenbosch is 'n uitmuntende universiteit met 'n uitstaande nasionale en internasionale reputasie. “Dit is een van die hoogtepunte van my loopbaan om vandag hier vereer te word."
Selfoongebruikers klik hier om video te sien.
Die inhuldigingswoord by die gradeplegtigheid was: As 'n merkwaardige hoëronderwysleier het professor John Latham, visekanselier van Coventry Universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK), sy instelling behendig deur uitdagende tye gelei. Met 'n hoog aangeskrewe omkeerstrategie het hy Coventry as 'n toeganklike, studentegerigte en ondernemingsgesinde onderrig-en-leeromgewing gevestig. In 'n era waar hoëronderwysinstellings wêreldwyd met 'n behoefte aan groter studentetoegang en programrelevansie sowel as kwynende staatsfinansiering worstel, was Latham die regte leier op die regte tyd vir Coventry. Ná drie jaar as 'n sagteware-ingenieur sluit hy hom as 'n dosent in Rekenaarwetenskap by die universiteit aan. Hier maak hy kort voor lank naam as 'n inligtings-en-kommunikasiekenner op die gebied van die hoër onderwys, telekommunikasie en gesondheidsorg, sowel as 'n innovasieleier by universiteite én in die groter bedryf. Nadat hy 'n MBA aan Coventry voltooi het, het kommersiële en navorsingsontwikkeling vinnig sy verantwoordelikheid geword. Met die instelling wat al hoe verder teen die Guardian-universiteitsligaranglyste afgly, raak Latham – teen daardie tyd adjunkvisekanselier – ten nouste betrokke by die ontwikkeling van 'n omkeerstrategie wat om 'n ondernemingsetos draai. As visekanselier en uitvoerende hoof sedert 2013 staan Latham aan die stuur van die reusetaak om hierdie strategie in werking te stel, wat onder meer 'n herstrukturering van alle fakulteite en navorsingsentrums behels. Onder sy leiding oes Coventry sedertdien wyd lof in vir sy studentegerigte benadering tot onderrig en leer, uitmuntende studentetevredenheidsyfers, vernuwende metodes vir beter studentetoegang met sukses, bedryfsgerigte navorsingstrategie en veel groter internasionale voetspoor – en dít alles in rekordtyd. So vinnig het Latham sukses behaal dat Coventry in 2014 as moderne universiteit van die jaar op die ligaranglyste van The Times en Sunday Times aangewys is. In 2015 word die instelling die VK se universiteit van die jaar en verwerf hy lof vir sy “waagmoedige baanbrekerswerk om die uitdagings van die hoër onderwys die hoof te bied". Daardie selfde jaar wen die universiteit ook die Britse koningin se ondernemingstoekenning vir uitnemende prestasie in innovasie, internasionalisasie en volhoubare ontwikkeling. Coventry word in 2018 as die voorste nuwe universiteit (<50 jaar) in die Guardian University Guide sowel as die Complete University Guide aangewys. Daarbenewens plaas die VK-regering se Teaching Excellence Framework (TEF) die instelling tweede uit die 138 universiteite wat beoordeel is. Latham se visionêre leierskap en bekwame bestuur maak hom ook 'n gewaardeerde rolspeler in vele ander forums – onder andere as programadviseur vir die Europese Kommissie, 'n raadslid vir die National Centre for Universities and Business, 'n lid van die Universities UK Innovation and Growth Policy Network, lid van die VK-regering se National Growth Board, sowel as ondervoorsitter van die University Alliance. In sy hoedanigheid as buitengewone professor in ons eie Departement van Ondernemingsbestuur kon hy ook al die Universiteit Stellenbosch (US) help om by sy uitgebreide innovasiekundigheid baat te vind. Die toeganklike, relevante en studentegerigte onderrig-en-leeromgewing wat John Latham by Coventry geskep het, dien as 'n inspirasie vir die US. Sy voorbeeld van waagmoedige leierskap sal as 'n rigtingwyser dien op ons reis om wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken te word. Die US verleen graag die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, aan John Latham vir sy visionêre, waagmoedige en innoverende leierskap deur sy akademiese instelling behendig deur uitdagende tye tot groot hoogtes te stuur: en vir die oordrag van sy hoog aangeskrewe en gewaardeerde kundigheid in hoëronderwysbestuur in verskeie forums, ook as buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch.
- Prof Lloyd N Trefethen sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe Science (DSc), honoris causa op 5 April 2019 ontvang.
In sy aanvaardingsrede: “Ek is so bly om by hierdie blye geleentheid te wees," het Trefethen gesê nadat hy sy eredoktorsgraad in ontvangs geneem het. “Ek gaan oor Wiskunde praat," het hy in 'n amusante toon aan die graduante gesê om die belangrikheid van hierdie vak, wat nie ewe geliefd by almal is nie, uit te lig. “Die studie van Wiskunde is nie beperk tot ruimte en tyd nie. Wiskunde word vandag gedoen, net soos dit 1 000 jaar gelede en selfs 2 000 gelede die geval was. Dit word oral in die wêreld gedoen. Die ontdekkings van elke era is gegrond op dié van die vorige era. Dit beweeg altyd vorentoe. Wiskunde vorm die grondslag van die vakgebied Wetenskap-ingenieurswese en raak die samelewing op 'n verreikende en onverwagse manier." Trefethen, wat duidelik baie passievol oor Wiskunde is, sê hy is al van sy kinderdae af verlief op Wiskunde. Hy het al op 19-jarige ouderdom met Wiskunde begin werk.
Die inhuldigingswoord by gradeplegtigheid:
Met 'n verstommende navorsingsuitset het die gerekende wiskundige wetenskaplike, professor Lloyd N. Trefethen, die wêreldwye popularisasie van wiskunde bevorder. Hy ondersteun reeds langer as 30 jaar al numeriese wiskunde in Suid-Afrika en dra sodoende by tot 'n broodnodige skaars vaardigheid in die land. Hy verwerf sy eerste graad in Toegepaste Wiskunde summa cum laude aan Harvard-kollege, en sy magister- en doktorsgrade aan Stanford. Hierna bring Trefethen twee jaar by die bekende Courant-instituut aan die Universiteit van New York deur as nadoktorale genoot van die Amerikaanse Nasionale Wetenskapstigting. Ná aanstellings by die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) en Cornell-universiteit, aanvaar hy 'n professoraat aan die Universiteit van Oxford, Verenigde Koninkryk, waar hy steeds grense verskuif as hoof van die Numeriese Analisegroep. Die bydraes van hierdie nie-amptelike wêreldkurator van numeriese wiskunde omvat meer as 100 navorsingsartikels, agt boeke en vele praktiese innovasies. Dít sluit in 'n artikel oor hidrodinamiese stabiliteit wat in 1993 in die tydskrif Science verskyn het en al meer as 1 500 keer aangehaal is, en sy Numerical Linear Algebra van 1997, wat sedertdien die standaard-nagraadse handboek op die gebied geword het. Boonop vind talle navorsers baat by die gerief en berekeningskrag van sy ambisieuse Chebfun-projek, 'n oopbron-toevoeging tot die toonaangewende kommersiële berekeningspakket MATLAB. In teenstelling met baie van sy eweknieë, waag Trefethen dit ook graag buite die grense van sy vakgebied op terreine soos die fisika en gesondheidswetenskappe, waar hy bestaande kennis met nuwe insigte bevraagteken. Een voorbeeld is sy wiskundige analise van die Faraday-hok, die verskynsel wat mikrogolwe keer om deur die roostervenster van 'n mikrogolfoond te ontsnap, maar terselfdertyd lig deurlaat. Straks die mees dramatiese voorbeeld is sy heromskrywing van die liggaamsmassa-indeks as 'n maatstaf vir menslike vetsug, waaroor internasionaal berig is. Immer vrygewig met sy kundigheid, het hy 'n langdurige band met Suid-Afrika gesmee om ontluikende wiskundige wetenskaplikes landwyd te ondersteun. Nie net neem hy ons vakkundiges oorsee onder sy vlerk nie, maar hy is ook 'n gereelde besoeker op plaaslike bodem. Hy is bekend vir sy spesiale moeite om met ons akademici sowel as studente om te gaan – van 'n strawwe nasionale lesingtoer van twee weke tot 'n aantal besoeke aan Stellenbosch as aktiewe deelnemer aan die simposium van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde (SANUM). Sy lang lys eerbewyse sluit in sy verkiesing as genoot van die Royal Society, die Internasionale Vereniging vir Bedryfs- en Toegepaste Wiskunde (SIAM) en die Amerikaanse Wiskundige Vereniging. Toonaangewende toekennings soos die Naylor-prys van die Londense Wiskundegenootskap in 2013 en die George Pólya-prys vir voortreflike uiteensetting in wiskundige skryfwerk in 2017 spreek boekdele oor sy statuur. Die Universiteit is trots om Lloyd N. Trefethen te vereer met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, vir sy merkwaardige vakkundigheid én sy verstommende navorsinguitsette te bevordering van die wêreldwye popularisering van wiskunde; vir die uitdaging van konvensionele waarhede deur nuwe insigte; en vir sy ruimhartige kennisoordrag van die afgelope 30 jaar om 'n nuwe generasie wiskundige wetenskaplikes in Afrika te help ontwikkel.
Saam met die Desember 2018-gradeplegtighede (die twee plegtighede maak die 2018 akademiese jaar uit), sal 308 doktorsgrade in totaal toegeken word. Dit is effens meer as die 305 in 2017. Die Universiteit ken altesame 3 128 grade en diplomas – insluitende 953 meesters- en 158 doktorsgrade – toe by sy ses April-gradeplegtighede wat van Dinsdag, 2 April tot Vrydag, 5 April by die Coetzenburgsentrum gehou word.
Kategorie
Sleutelwoorde honorary degrees; transformasie; transformation |