Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Linda Luvuno sorg vir die natuur
Outeur: Carolyn Cramer
Gepubliseer: 01/04/2019

"Ek het altyd die deernis en toewyding bewonder waarmee Moeder Theresa mense kon help," verduidelik Linda Luvuno, wat op 2 April haar doktorsgraad in bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch  ontvang het. "Ek het gedroom dat ek 'n verpleegster gaan word, en soos sy mense kon help."

Luvuno het in eMpophomeni in Howick grootgeword, en sodoende die grasvelde van KwaZulu-Natal leer liefkry. Later jare sou sy die impak van uitheemse indringerspesies daarop begin besef het. Dit het haar lewe in 'n ander rigting gestuur.

"Ek het grootgeword in 'n plattelandse gemeenskap waar gras eintlik lewe is. Dit word vir verskillende redes gebruik. Daarom kan houtagtige plante 'n vreeslike invloed op 'n gemeenskap hê. Ek't besef dat ek nie 'n verpleegster hoef wees om mense op 'n praktiese manier te help nie. Daar's baie maniere waarop mens kan bydra tot 'n beter samelewing. Ek't besef navorsing is een so 'n manier."

Luvuno het haar navorsing gedoen onder die vaandel van die Sentrum vir Komplekse Veranderende Stelsels in Oorgang en die Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

Haar navorsing het gefokus op die toenemende verspreiding van houtagtige plante in graslande en die sosiaal-ekologiese impak wat dit op Suid-Afrikaanse gemeenskappe het. Sy hoop haar bevindinge sal help om beleid en bestuurspraktyke te beïnvloed oor die hantering van indringerspesies in graslande.​