Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vasbeslote US dosent loods ambisieuse fondsinsameling om Dowe dogtertjie te help
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 20/03/2019

Vanessa Reyneke, 'n Projekkoördineerder in die Departement Algemene Taalwetenskap, en haar man, Johan, het 'n ambisieuse projek geloods om R300 000 in te samel om te verseker dat hul tweejarige Dowe dogter twee kogleêre inplantings tegelykertyd kan kry.

ʼn Kogleêre inplanting is “ʼn klein elektroniese toestel wat die gehoorfunksie van ʼn beskadigde binne-oor gedeeltelik herstel". Terwyl gehoorstukke klank versterk, vervul ʼn kogleêre inplanting die rol van die binne-oor om klankseine aan die gehoorsenuwee van die brein te lewer. ʼn Inplanting herstel nie normale gehoor nie, maar kan aan ʼn Dowe persoon ʼn bruikbare verteenwoordiging van klanke in hul omgewing lewer en help hom of haar om spraak te verstaan.

Mediese hulpskemas betaal slegs vir een kogleêre inplanting per persoon per jaar en operasies duur tussen vier en ses uur. Om te verhoed dat hul dogter die trauma van grootskaalse chirurgie twee jaar na mekaar moet ondergaan, het die gesin besluit om die dapper stap te doen om albei kogleêre inplantings tegelyk te laat inplant tydens een operasie. Nog ʼn rede vir die dringendheid is die feit dat Karli se gehoor daagliks agteruitgaan.

Met die operasie geskeduleer vir Mei het die gesin nou slegs ses weke oor om die R300 000 in te samel om die tweede toestel se inplanting sowel as die hospitalisasie te dek.

Vanessa verduidelik dat die gesin die eerste keer opgemerk het dat alles nie reg was met die dogtertjie se gehoor nie toe sy minder as 4 weke oud was. 

“Ons het met toenemende kommer opgemerk dat Karli nie gereageer het op die luide geblaf van honde en ander geraas nie," sê Vanessa, wat ook Doof is.

Bewus van wat dit mag beteken het die Reynekes die baba van byna een maand oud vir toetse geneem. Dit het bevestig wat hulle vermoed het – Karli het bilaterale matig-ernstige tot diepgaande sensorineurale gehoorverlies, ʼn gekompliseerde terme vir diepgaande doofheid. Sy sou reageer wanneer jy haar naam uitgeroep het en was in staat om vir ons te sê dat sy klanke soos die voordeurklokkie of ʼn geklop aan die deur kon hoor."

En toe, drie maande voor Karli se tweede verjaarsdag, het die Carel du Toit Sentrum ʼn skenking van splinternuwe voorpunt-tegnologie van die Hear the World Foundation ontvang. Dit was nie slegs die nuutste nie, maar ook die beste en eerste keuse gehoortoestelle vir kinders wêreldwyd. En Karli was een van die uitverkorenes om hierdie geskenk te ontvang.

“Die gehoortoestelle het Karli toegelaat om sowel hoë en lae frekwensies beter te hoor en het dit vir haar moontlik gemaak om haar gesproke woordeskat uit te brei, tesame met haar gebaretaal. Ons was vreeslik opgewonde oor wat dit vir haar sou beteken."

ʼn Paar weke later het Karli egter ʼn opbou van was in haar ore beleef en ʼn hoë koors ontwikkel. Sy is gediagnoseer met middeloor-infeksie en die dokter het hulle aangeraai om noodbuisies in die oor in te sit om die opbou van vloeistof in die middeloor te verlig.

“Baie vloeistof het steeds uitgevloei lank nadat die buisies geïnstalleer is. Nadat haar oor herstel het, het ons die gehoortoestelle weer aangesit, maar besef sy kon ons nie hoor wanneer ons met haar gepraat het nie, selfs wanneer sy naby ons was. Ons was nie seker of die middeloorinfeksie haar gehoorverlies vererger het nie."

“Na die middeloor-infeksie het ons Karli vir nog ʼn toets geneem en dit het bevestig dat sy die gehoorvermoë wat sy voor haar siekte gehad het, verloor het. Ons was platgeslaan want die gehoortoestelle wat aan haar geskenk is was nie meer vir haar effektief nie. Dit het duidelik geword dat ons kogleêre inplantings ernstig sou moes oorweeg."

Al die lede van Vanessa se gesin is doof, dus het hulle ʼn sterk Dowe-kultuur in hul huis. Hulle is trots dat Karli reeds vlot is in SA Gebaretaal.

“Dit bly ʼn moeilike besluit om Karli, wat so jonk is, aan so ʼn groot operasie bloot te stel, maar ons weet dat ʼn kogleêre inplanting haar mag help om die geluide in haar omgewing te hoor en haar in staat sal stel om gesproke taal te hoor, wat ons glo vir haar meer lewensgeleenthede sal bied."

“Soos elke ander ouer wil ons graag vir ons dogter lewenskwaliteit verseker. Ons wil graag hê sy moet die geleentheid hê om ʼn hoofstroom-skool by te woon, waar sy interaksie sal hê met horende en Dowe persone, sodat sy in albei wêrelde kan funksioneer." 

In Januarie het die gesin die # Hear Karli Hear # fondsinsamelingsveldtog geloods op die ADDaBIT platform. Sedertdien het hulle R34 450 ingesamel. Die gesin kort dus nog R264 550. 

Die R300 000 sal slegs die aanvanklike groot kostes dek. Sodra die toestel aangebring is, sal Karli sessies moet bywoon om die brein te leer om die klanke wat deur die kogleêre inplanting gehoor word, te interpreteer. Sy sal vir weeklikse spraakterapiesessies en oudiologiese evaluerings moet gaan. Boonop is daar die koste van die onderhoud van die toestelle soos batteryvervanging, filters of die vervanging van die prosessor-kabel indien dit beskadig word.

“Navorsing uitgevoer deur oudioloë dui aan dat Dowe kinders van geboorte tot 11 jaar kan wag vir ʼn kogleêre inplanting maar daar is baie navorsing wat aandui dat hoe jonger ʼn kind die inplanting ontvang, hoe vroeër word hulle blootgestel aan en kan hulle gesproke taal aanleer." 

As jy 'n bydrae kan maak tot die koste om vir Karli gelyktydige kogleêre inplantings in albei ore te verseker, besoek asseblief  https://addabit.com/fund/hearkarlihear om 'n donasie te maak.

Foto: Vanesssa Reyneke (ver regs) met haar dogter Karli en haar man, Johan. Die familie probeer om R300 000 in te samel om hul tweejarige Dowe dogter te help om twee kogleêre inplantings tegelyk te laat inplant. Sodoende sal hulle ook verhoed dat Karli se gehoor daagliks agteruitgaan. (Voorsien deur die Reyneke familie)