Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tien minute met Bonang Mohale: Spreker by #MatiesTuiskoms
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/02/2019

Op 1 Maart was Bonang Mohale, die HUB van Business Leadership South Africa (BLSA) by die #MatieTuiskoms vir 'n gesprek met twee MBA-graduandi van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) oor die onderwerp Sal die Suid-Afrikaanse ekonomie herstel? Nuwe rolle vir ondernemings in die Suid-Afrikaanse publieke omgewing. 

Die gratis byeenkoms is aangebied by die Century City Konferensiesentrum en is gefasiliteer deur Daniel Strauss, MBA-lektor en stigter en direkteur van Stocks & Strauss (Edms.) Bpk., en Nthabiseng Moleko, lektor in Statistiek en Ekonomie vir die MBA Program by die USB en ʼn kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid.

Ons het met die sakeman gesels om meer uit te vind oor die persoon wat erken word as ʼn leierskap-ghoeroe wat die groei van vele groot Suid-Afrikaanse en multinasionale maatskappye soos Shell en Otis verseker het.

Het jy altyd geweet dat jy ʼn sakeman wou wees?

Nee, ek wou ʼn dokter word en het vir vier jaar medies studeer. Daarna het ek ʼn driejaar diploma in Bemarkingsbestuur aan die Instituut vir Bemarkingsbestuur (IMM) verwerf, gevolg deur ʼn nagraadse Gevorderde Diploma in Bemarkingsbestuur oor 18 maande, waarna ek my Raadseksamen afgelê het.

In 1999 het ek die Geoktrooieerde Bemarker [CM (SA)] raadseksamen aan die IMM geskryf.  

Wat het jy gestudeer en hoe het dit jou gehelp om die sakewêreld te betree?

In 1993 het ek die nagraadse Gevorderde Diploma in Bemarkingsbestuur deur die IMM voltooi. My tesis was getitel “Die Toekoms van Gesondheidsorg in Suid-Afrika: Implikasies vir Bemarking in die Farmaseutiese Bedryf". 

In 1999 het ek die Geoktrooieerde Bemarker [CM (SA)] raadseksamen van die IMM geslaag.

OTIS, die hysermaatskappy waarby ek in 1996 aangesluit het, het my ook geleenthede gebied vir persoonlike ontwikkeling, soos die Direkteursontwikkelingsprogram aangebied deur die Carl Duisberg Gesellenschaft namens die Duitse Regering, en die Internasionale Bestuursprogram (OTIS Making Magic Work) aan die Internasionale Instituut vir Bestuursontwikkeling (IMD) in Lausanne, Switserland.

As jy terugkyk oor jou loopbaan, wat beskou jy as een van jou grootste prestasies en hoekom?

In 1998, toe ek die besturende direkteur word van Otis Elevators geword het, verantwoordelik vir Afrika in ʼn tyd toe dit nog seldsaam was dat Suid-Afrikaners ten volle aanspreeklik was vir die Suid-Afrikaanse bedrywighede.

Wie is die sakeman / vrou wat jou inspireer?

Susan, my pragtige vrou van byna 38 jaar, Serialong Mahadibonwe Mohale, my ouma aan vaderskant, Rolihlahla Nelson Mandela, Hoofregter Mogoeng en die voormalige Openbare Beskermer Thuli Madonsela.

Wat is die beste raad wat jy nog ooit ontvang het, en hoekom?

Wanneer jy genooi word vir ete, en iemand anders betaal, moet jy NOOIT die duurste gereg op die spyskaart kies nie! Dit is presies hoe Susan grootgemaak is, asook ons twee pragtige dogters.

Wat is ʼn paar van die dinge waarvoor jy onthou wil word as HUB van BLSA?

Ek wil die krag van die sakesektor weer opbou. Die beste manier waarop ons meen ons dit kan bereik is om te demonstreer dat ons ten volle getransformeer is, dat ons ons land se demografie breedweg weerspieël. As ons ons stem terugkry – dus ons lisensie kry – saam met die burgerlike samelewing en arbeid, kan ons staatskaping en korrupsie verslaan in die publieke sowel as die private sektor, en ʼn inklusiewe vooruitstrewende Suid-Afrika bou.

Die rol van BLSA moet nou beslis wees om die argitektuur van vennootskappe in te span om saam meer te bereik. Dit gaan daaroor om in ons leeftyd inklusiewe sosio-ekonomiese groei te realiseer, want transformasie is ʼn fundamentele breuk met die verlede, ʼn verandering in vorm en karakter. Dis nie net kosmeties nie.

Dit gaan daaroor om begaan te wees oor die beskerming van sleutelinstellings. Dit is instellings wat volhoubaar is, nie die leiers wat net tydelik besetters van die mag is nie. Hier praat ek oor alle Hoofstuk 9 Instellings soos die Kantoor van die Openbare Beskermer, die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC), die Regbank, ens.

Hierdie instellings moet beskerm word, want dis hoe ons ons demokrasie ontwikkel. Dis hoe ons gelykheid ervaar. Besigheid het ʼn belangrik rol om te speel in die beskerming van hierdie instellings.

Dan, laastens, gaan dit oor hoe ons die sakesektor posisioneer as ʼn nasionale bate. Dis ʼn moeilike doelwit want dit is meer filosofies: maar ons sal weet wanneer ons slaag want dit sal die mense van plekke soos Alexandra, wat tans in ʼn bose kringloop van armoede vasgevang is, verplig laat voel om besigheid te beskerm. Hulle sal dit verdedig want hulle sien die sosiale aspek en breër voordele van die sakesektor, soos werkskepping, wat hulle toelaat om hul eiewaarde, selfbeeld, waardigheid en trots te herwin.

Posisionering van die sakesektor as ʼn nasionale bate beteken dat ons gekonfronteer word met omstrede kwessies, dat ons leierskap na vore kom en die hoër weg aan die kant van die engele kies, eerder as om gedryf te word deur eie belang. Dit beteken dat wanneer ons praat van voorgestelde aanpassings van die Mededingingsraad om ekonomiese konsentrasie van besighede aan te spreek, ons verseker dat die voordele van besigheid afwentel na die meerderheid van ons mense, want dit is ʼn uitdaging. Dit gaan oor hoe ons die onderste helfte van die middelklas bereik.