Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied transformerende ervaring, hoor voornemende studente by Opedag
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 25/02/2019

“Die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope 100 jaar bekendgeword vir sy gees van samehorigheid, ondersteuning en vriendskap. Stellenbosch bied 'n unieke persoonlike ervaring ter voorbereiding van studente se sukses in 'n diverse en veranderende wêreld."

Met hierdie woorde het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig aan die US, voornemende studente (graad 9–12-leerders) wat die US se jaarlikse Opedag Saterdag (23 Februarie 2019) bygewoon het, 'n voorsmakie gegee van wat hulle kan verwag indien hulle by die instelling sou kom studeer. Schoonwinkel het 'n groep leerders en hul ouers in die US Biblioteek op die Stellenbosch-kampus toegespreek.  Hulle het van regoor Suid-Afrika en selfs sover as Namibië gekom om te kom kyk wat die US hulle kan bied. Opedag-aktiwiteite is ook op die Tygerbergkampus aangebied. Altesame 8 485 leerders het vanjaar vir die Opedag geregistreer.

Van die gewilde inligtingsessies wat in die biblioteek gehou is, het op temas soos Skielik word jy groot! – Is jy voorbereid op die lewe na graad 12: Wat kan jy verwag – en wat sal van jou verwag word?; Behoort @ US – Verblyf op kampus: Privaat verblyf, Jan Tuisbly se karretjie – sal ek ooit voel ek is deel en pas in?; Hoe om jou studies te befonds en Wenke hoe om jou studieprogram te kies  gefokus.IMG_1395.JPG

Prof Schoonwinkel het in sy toespraak aan leerders en hul ouers verduidelik waarom die US 'n goeie keuse besluit sal wees.

“Die Universiteit Stellenbosch lok jaar na jaar die beste kandidate van skole regoor die land omdat dit 'n goeie universiteit is. Ons heg waarde aan ons studente en is daartoe verbind om aan elke student 'n transformerende ervaring te gee."

​Hy het bygevoeg dat die Universiteit regtig hard daaraan werk om mense welkom te laat voel by die instelling. Prof Schoonwinkel het ook die US se fokus op inklusiwiteit, transformasie en diversiteit beklemtoon.

“Ons bly verbind tot diversiteit, meertaligheid en transformasie. Transformasie in 'n strategiese prioriteit vir die Universiteit. ​“Ons vier diversiteit omdat dit ons sterker maak en van die US 'n plek maak waar ons baie van mekaar kan leer."

Prof Schoonwinkel het gesê die US wil toeganklik vir studente van alle agtergronde wees en bied omvattende en hoë-gehalte ondersteuning gedurende hul studies.

Hy het bygevoeg dat die Universiteit aan jongmense die geleentheid wil bied om 'n sleutelrol in Suid-Afrika se toekoms te speel.

  • Hooffoto: Prof Arnold Schoonwinkel spreek voornemende studente en hul ouers toe by die US se Opedag.
  • Foto 1: Voornemende studente verken die Stellenbosch-kampus tydens die Opedag.
  • Fotograaf: Sandra Mulder