'n Nuwe studie van die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat bakterieë wat erge longontsteking (legioensiekte) kan veroorsaak, dalk in jou warmwatersilinder (geiser) skuil.
“Ons navorsing werp meer lig op die verband tussen wanneer en vir hoe lank 'n warmwatersilinder (word ook geiser genoem in Suid-Afrika) aangeskakel word en die vermeerdering van Legionella, spesifiek die patogene spesie L. pneumophila, in geisers," sê dr Wendy Stone van die US Waterinstituut. Sy het die interdissiplinêre studie saam met kollegas van die Instituut vir Biomediese Ingenieurswese en twee departemente van die Ingenieurwesefakulteit aan die US onderneem.
Die doel van die studie, wat onlangs in die Energy for Sustainable Development vaktydskrif verskyn het, was om te bepaal of horisontale warmwatersilinders of geisers (wat algemeen in die meeste Suid-Afrikaanse huishoudings voorkom) 'n omgewing skep wat die groei van Legionella – wat in temperature tussen 27 en 42°C floreer – bevorder.
Volgens Stone is daar geen inligting in Suid-Afrika oor die voorkoms van Legionella in huishoudelike warmwatersilinders wat gewoonlik gestel is om water tot 65°C te verhit, beskikbaar nie. Omdat temperature so laag as 40°C egter geskik is vir gebruikers, kies baie mense wat finansieel sukkel om die temperatuur van hul geiser laer te stel of om dit heeltemal af te skakel om te bespaar.
Om die teenwoordigheid van Legionella te bepaal, het die navorsers stukkende warmwatersilinders oopgesny net nadat hulle gebreek het om monsters en biofilmskraapsels van die binnekant van die silinder te neem. Afgesien daarvan het hulle ook mikrobiologiese tegnieke gebruik om te bepaal of daar by die gebruikspunt Legionella voorkom in die water afkomstig vanaf vyf aktiewe warmwatersilinders. Hulle het dit met koue water van dieselfde bron vergelyk as kontrole.
Volgens Stone was die bakteriese neerslae in die pype wat die geiser en die krane verbind, net so 'n groot bron van kommer as die bakterieë wat in die watersilinder gevind is.
Die navorsers het ook 'n termiese model van 'n horisontale silinder ontwikkel om die laagvorming van die warm water na te maak en om die snelheidsvelde wat die beweging en groei van Legionella beïnvloed, te bepaal. Twee vloeitoestande is nagemaak: (1) geen vloei na die silinder, en (2) 5 liter per minuut vloei in en uit die silinder.
“Ons uitslae toon dat die laer oppervlaktes van die silinder waar die temperature onder 45°C bly, 'n ideale omgewing vir Legionella skep om in te groei," sê Stone.
“Die koue kraan het geen Legionella getoon tydens kwantifisering nie, wat daarop dui dat die waterverwarmer – hetsy binne-in die warmwatersilinder self of in die afvoerpype wat direk uit die silinder vloei – die ideale temperature bied om groei te bevorder.
“Die waterverwarmer en sy warmwater-verspreidingstelsel skep moontlik ideale temperature vir Legionella om in te groei."
Volgens Stone sal die dalende temperature in die pype wat weg van die waterverwarmer loop, 'n termies optimale omgewing skep waarin die bakterieë kan groei. Sy voeg by dat hierdie bio-lagies in die pype van tyd tot tyd aan hoë temperature blootgestel sal word wanneer die water baie warm word, soos wanneer iemand stort of bad of hul hande, gesigte of die skottelgoed was. Dit mag daartoe lei dat die pype gesteriliseer word as die uitvloei-temperature hoog genoeg is.
“Die gemiddelde uitvloei-temperatuur in waterwaterstelsels wat deur 'n tydskakelaar beheer word, is gewoonlik laer as dié waarvan die temperatuur net deur 'n termostaat (wanneer die geiser aanskakel om weer warm te word sodra dit afkoel tot onder 'n sekere temperatuur) beheer word. Die kort blootstellingsperiodes aan hoër temperature gedurende tye van gebruik mag nie genoeg wees om te keer dat Legionella in die pype groei nie.
“Hoewel die modelle en data van binne die verwarmers inligting oor die spesifieke area en die teenwoordigheid van Legionella verskaf, lê die ware epidemiologiese uitwerking in die bakterieë wat huishoudelike krane bereik."
Stone wys daarop dat gesonde mense feitlik geen risiko loop om Legionella-besmetting deur die lae bakteriese konsentrasie in krane op te doen nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskou egter longkwale en swak immuunstelsels as groot risikofaktore vir die opdoen van legioensiekte.
Sy sê omdat die simptome van legioensiekte dikwels met meer algemene vorme van longontsteking verwar word, word die omvang van die siekte in Suid-Afrika moontlik onderskat omdat min mense van die siekte bewus is en dit moontlik deur tering en al die ander mediese toestande wat met verswakte weerstand verbind word, verbloem word. Die presiese uitwerking, veral op mense met swak weerstand, is onbekend.
“Omdat Legionella in warmwatersilinders ontdek is, beplan ons om nog baie meer werk te doen om die uitwerking daarvan op mense vas te stel."
Volgens Stone word die siekte deur die inaseming van waterdruppels versprei, soos wanneer jy stort of jou gesig in die wasbak was. Dit word nie deur inname deur die mond versprei nie.
“Hierdie navorsing toon dus dat ons die risiko deur beter regulering van ons geisers kan verminder en dat dit geen risiko inhou om kraanwater te drink nie."
Oor maniere om die risiko van besmetting te verminder, sê sy die ontwerp van waterafvoerstelsels vanaf die geiser, temperatuurstellings en aan- en afskakelgewoontes speel almal 'n uiters belangrike rol om die risiko van Legionella-groei tot 'n minimum te beperk.
“Deur modelle te bou en te toets sodat ons kan verstaan waar die bakterieë groei en hoe ons dit kan reguleer, kan ons bydra tot bestuur van hierdie las – al wat nodig is, is eenvoudige ingenieurs- en gewoonte-aanpassings," voeg sy by.
- Bron: Stone, W., et al. A potential source of undiagnosed Legionellosis: Legionella growth in domestic water heating systems in South Africa. Energy for Sustainable Development Vol. 48 (2019): 130–138.
Hooffoto: Legionella pneumophila-spesie.
Foto 1: Slymlae/biofilm wat aan die binnekant van die geiser teen die bodem waar die element vasheg, kleef.
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Wendy Stone
Waterinstituut
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 5805
E-pos: wstone@sun.ac.za
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Mediabestuurder
Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: viljoenm@sun.ac.za