Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PanACEA-genootskap bevorder farmakometrika-navorsing
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 07/02/2019

“Ek voel geëerd en aangespoor."

Dít was die reaksie van dr Ahmed Abulfathi, ʼn konsultant- kliniese farmakoloog verbonde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Afdeling Kliniese Farmakologie, toe hy gehoor het die PanACEA- nagraadse genootskap is vir sy PhD-navorsing aan hom toegeken.

Volgens Abulfathi gaan die genootskap hom help met sy navorsing oor die optimering van tuberkulosebehandeling.

Die genootskap, ter waarde van €20 000, het ten doel om die groot tekort aan kliniese navorsingskapasiteit en die gebruik van farmakometrika aan te vul sodat die enorme TB-las in Afrika getakel kan word.   

Die PanACEA-konsortium finansier ʼn aantal MSc- en PhD-studente met die doel om meer gevorderde opleiding te bied aan individue wat in kliniese proewe belangstel. Die oorhoofse doelwit is om ʼn nuwe generasie jong wetenskaplikes te skep wat die globale kapasiteit om kliniese TB-proewe uit te voer, kan uitbrei.

Abulfathi sê die genootskap bied regstreekse mentorskap deur wêreldklas-navorsers in Afrika en Europa. Voorts word blootstelling aan kliniese navorsing gebied, met die klem op vroeë fase 1 en 2- kliniese proewe, asook broodnodige vaardigheid in farmakometrika.

Hy verduidelik sy navorsing soos volg: “Die eerste deel sal die eksterne validasie van ʼn bestaande para-aminosalisielsuurpopulasie (PAS)- farmakokinetikamodel behels. Die tweede stap is om hierdie model met datastelle van twee studies te optimeer. Die derde stap is om kliniese proewe met hoë dosisse PAS wat een keer per dag toegedien word, met behulp van rekenaarsagteware te simuleer. Die vierde stap is om ʼn fase 2-toetsstudie met hoë dosisse PAS uit te voer. Daartydens sal ons die veiligheid, farmakokinetika, farmakodinamika en farmakogenomika van PAS assesseer, waarna ʼn farmakometrika-ontleding gedoen sal word."

Volgens Abulfathi is hy danksy die genootskap gemotiveerd om selfs meer met sy navorsing te doen. “Dis so ʼn opwindende geleentheid," het hy gesê. “Dit beteken ek kan aanhou om die tekort aan kliniese navorsingskapasiteit in Afrika aan te vul, wat uiteindelik kan help om TB-behandeling te verbeter."

Gevra oor sy toekomstige doelwitte en aspirasies in die mediese veld, sê Abulfathi: “Ek wil my rol as ʼn klinikus-wetenskaplike gebruik om oplossings te vind vir siektes wat ons die meeste raak, veral tuberkulose.

“Samewerking met ander navorsingsgroepe lê baie na aan my hart – nie net om wetenskap te bevorder nie, maar om meer plaaslike wetenskaplikes op te lei om kapasiteit uit te brei."