Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaring deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJRA)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 05/02/2019

Verklaring deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJRA)

Akademiese vryheid moet omarm en verdedig word en nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Dit was die konsensus wat Vrydag (25 Januarie) by 'n vergadering van verteenwoordigers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) op Stellenbosch bereik is. Die vergadering is gereël nadat verskeie Israeliese akademici hul van die Recognition, Reparation, Reconciliation: The Light and Shadow of Historical Trauma-konferensie wat einde 2018 by die US gehou is, onttrek het. Die konferensie is deur prof Pumla Gobodo-Madikizela, wat die navorsingsleerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie aan die US beklee, gereël.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het sy spyt uitgespreek oor die Israeliese akademici se besluit om nie die konferensie by te woon nie. Hy het ook die Universiteit se volgehoue verbintenis tot die beginsels van vryheid van spraak en akademiese vryheid beklemtoon en gesê: “As 'n navorsingsintensiewe universiteit met wêreldwye belange, sal ons voortgaan om akademici van regoor die wêreld – insluitende geleerdes van Israel – by die US te verwelkom. Ons sal ook aanhou om saam met hulle uitmuntende navorsing met betekenisvolle sosiale en akademiese impak te lewer."

Die konferensie het 'n wêreldwye netwerk van akademici en praktisyns byeengebring om oor kwessies rakende geskiedkundige verwonding en die gevolge daarvan deur die generasies heen te beraadslaag. Akademici van Israel het egter nie deelgeneem nie omdat die manier waarop die Universiteit met anti-Israeliese aktiviste omgegaan het, hulle ontuis laat voel het. Hierdie persepsie van uitsluiting was nie doelbewus nie en die US het sy spyt hieroor asook oor die verlies van die belangrike stemme van die Israeli's by die konferensie uitgespreek.

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, het ook die vergadering tussen SAJBD en die US bygewoon. Sy het beklemtoon dat die Universiteit se pogings daarop gemik was om te verseker dat die konferensie vreedsaam en veilig verloop ná oproepe om Israeliese deelnemers uit te sluit, en dat dit nooit die US se doel was om akademiese vryheid te ondermyn of om die Israeliese deelnemers ontuis te laat voel nie.

Die US bied elke jaar talle akademiese geleenthede aan wat deur akademici van regoor die wêreld bygewoon word. Die Universiteit, sal – net soos in vorige jare – voortgaan om Israeliese akademici te verwelkom as deel van die Universiteit se verbintenis tot internasionalisering en om sy visie van uitnemendheid om een van die voorste sentrums vir hoër onderwys navorsing te wees, te bevorder.