Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vensters 2019 bekoor duisende ondanks sterk wind
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 05/02/2019

Nie eens uitdagings soos 'n stormsterk wind wat verhoë aan flarde geruk het en 'n nukkerige aanlyn-verkoopstelsel kom 'n demper op die gees by Vensters 2019, die jaarlikse straatteater-geleentheid wat Vrydagaand (1 Februarie) op die kampus van die Universiteit Stellenbosch aangebied is, plaas nie.

Hoewel sommige vertonings vir lang tye gestaak moes word om eers die skade wat die sterk wind aan die verhoë aangerig het, te herstel, het die nuwelingstudente steeds daarin geslaag om die verbeelding van die sowat 15 000 besoekers aan te gryp met hul energieke buitelug dans- en musiekvertonings wat op verskeie verhoë regoor die kampus gehou is. Die bekoring van die aand se vreugdevolle en toweragtige atmosfeer sal almal wat Vensters bygewoon het, sekerlik nog lank bybly.

Te oordeel aan die uitgelate giggels van die studente, familielede, mense uit die gemeenskap en selfs besoekers van buite Stellenbosch, die voete wat op maat van die polsende musiek getik het en al die groot glimlagte, het Vensters 2019 eenvoudig gerock … met die Universiteit Stellenbosch se koshuise wat hulself weer eens oortref het. Die strate was vol mense en die energie was tasbaar. Elke vertoning is luid toegejuig en die skare kon nie anders as om sommer saam te dans nie. “Ek dink die eerstejaars het net soveel pret as die mense in die gehoor gehad," sê Kelly Shepherd, kommunikasiebeampte van Connect, wat die Vensters-geleentheid gereël het.

Sy sê hulle is regtig in hul skik met hoe die aand verloop het ten spyte van al die uitdagings. “Die parade-orkes wat deur die strate marsjeer het, het 'n opwindende en vreugdevolle atmosfeer geskep. Besoekers het ook die koswandellaan baie geniet. Dit het pragtig gelyk met die bome en stalletjies wat in liggies getooi was, die lug gevul met die heerlike kosgeure en die reusagtige VENSTERS-letters wat die prentjie voltooi het en die agtergrond van talle besoekers se selfies was. Dit was fantasties om te sien hoe mense bymekaarkom om 'n verskil te maak deur hul kaartjies te koop en meer te leer oor sosiale kwessies. Sowat 15 000 kaartjies is verkoop, maar ons wag nog op bevestiging van die presiese getal."

Verskeie kunstenaars soos vlamwerpers, goëlaars en die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging, oftewel die Maties Ballroom and Latin American Dance Society (MBLDS), se optredes langs die koswandellaan het ook tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Vensters-vennote Hippokrates, 'n koshuis op die Tygerbergkampus, en die Silene Private Studente-organisasie, is vir hul moeite beloon toe hul vertoning as die wenner van Vensters 2019 aangewys is.

Cailin Perrie, Connect se voorsitter, het Vensters as “een van die ongelooflikste ervarings om van deel te wees" beskryf. “Dit maak 'n mens altyd baie nederig om te sien hoe bereidwillig studente, organisasies, fakulteitslede en gesinne is om hul tyd en energie aan iets te wy wat tot die verbetering van iemand anders se lewe sal lei. Vensters het vanjaar alles wat gemeenskaps- en studentebetrokkenheid en maatskaplike opheffing behels, saamgevat en ek is trots daarop om 'n deel daarvan te wees," het Perrie gesê.

Connect funksioneer binne die Sentrum vir Studenteleierskap en -strukture en sy hoofdoelwitte is verbind aan die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die US se Eeufeesvieringe in 2018. Volgens haar is die organisasie se hoofdoelwit om studente meer bewus te maak van die sosiale impak wat hulle deur hul deelname aan studente-aktiwiteite op kampus kan hê.

Connect wil die US-kampus meer inklusief en toeganklik maak vir almal. Deur die Sosiale Impak-projekte aan Vensters te koppel, word studente meer bewus van hul omgewing en so word 'n gemeenskapsgebaseerde vennootskap gevestig," het Perrie gesê.

Die opbrengs van Vensters word aangewend om die koste van die vertonings te dek en die wins sal tussen die koshuise verdeel word om vir hul sosiale impak-aktiwiteite te gebruik. ​