Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-Unie vereer wêreldbekende US indringerbioloog
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 28/01/2019

Prof. Dave Richardson van die DWT- NNS Sentrum van Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch (US), en 'n wêreldklas navorser op die gebied van indringerbiologie, is die ontvanger van die 2018 Kwame Nkrumah toekenning vir wetenskaplike uitnemendheid.

David Richardson-15_small.jpg

Hierdie toekenning is een van drie wat jaarliks deur die Kommissie van die Afrika-Unie gegee word om uitstaande wetenskaplikes van die Afrika-kontinent te vereer vir hulle  prestasies, ontdekkings  en innovasies. Hierdie toekenning wat in 2008 ter herdenking van die bekende Pan-Afrika leier, dr. Kwame Nkrumah ingestel is, sluit ook prysgeld van US$100 000 in.

Prof. Richardson is 'n uitgelese professor in die US se Departement Plant- en Dierkunde, die James Marsh buitengewone professor by die Universiteit van Vermont in die VSA, asook direkteur van die SIB, een van die mees produktiewe en invloedryke navorsingsgroepe ter wêreld  op die gebied van biologiese indringers. Biologiese indringing bedreig toenemend die biodiversiteit en ekosisteemfunksionering van Afrika en die res van die wêreld.

Prof Richardson sê hy voel besonder geëerd om met hierdie toekenning vereer te word: “Ek hoop dat dit sal help om 'n groter bewustheid te skep ten opsigte van die massiewe probleem wat indringerspesies wêreldwyd is, en die noodsaaklikheid van innoverende oplossings om die eskalering van die impak wat dit op biodiversiteit, sowel as op die menslike bestaan het, teen te werk."

Hy het ook die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Universiteit Stellenbosch geloof vir hulle onderskeie bydraes en dit wat hulle belê in hierdie studieveld deur middel van die finansiering van die SIB: “Die Sentrum het gelei tot die totstandkoming van 'n ontsaglike poel van kennis en vakkundigheid wat oor dissiplines heen strek en wat diverse kwessies rakende biologiese indringing in Afrika, die hoof kan bied."

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê die toekenning is welverdiend en bevestig net weer eens Prof. Richardson se aansienlike bydraes tot die vakgebied van indringerbiologie: “Onder sy leierskap het die SIB sterk gegroei. Boonop is hy 'n goeie rolmodel vir jong navorsers," het sy bygevoeg.

Die toekenningsgeleentheid vind plaas op 10 Februarie 2019 by die the Afrika-Unie se Konferensiesentrum in Addis Ababa, Etiopië, tydens die sitting van die Unie se staatshoofde.

Meer oor prof Richardson

Prof Richardson word beskou as een van die mees invloedryke outeurs in hierdie vakgebied. Sy navorsing fokus op biologiese indringings, spesifiek die dinamika van plantindringers soos bome en bosse. Hy het hoofsaaklik op indringerspesies in Suid-Afrika gewerk, veral in die fynbos en savanna-biome. Hy het ook oor indringerspesies in ander dele van Afrika en die wêreld gepubliseer, oor globale patrone en neigings in biologiese indringings, en oor die ontwikkeling van 'n fundamentele teoretiese basis vir indringerwetenskap.

Een van sy grootste bydraes tot indringerwetenskap is deur die ontwikkeling en toepassing van nuwe modelsisteme vir om al die diverse perspektiewe wat in ag geneem moet word om indringerspesies te verstaan en te bestuur, uit te klaar. Sy bydraes ten opsigte van die ekologie van dennebome en Australiese akasias word wyd erken as die grondbeginsels in indringerbiologie.

Prof. Richardson het ook baie van sy tyd en energie bestee aan die formulering van praktiese riglyne vir beter bestuur van indringers. In hierdie verband word hy gereeld deur bewaringsorganisasies en regeringsdepartemente gekonsulteer, en hy dien op verskeie komitees wat verband hou met omgewingsbestuur in Suid-Afrika en oorsee.

Hy is tans een van slegs 'n handvol Afrika wetenskaplikes wat deur Clarivate Analytics as 'n “Highly Cited Researcher" aangewys is. Dit plaas hom in die top 1% van navorsings wie se werk wyd aangehaal word, en wat sodoende bydra om van die wêreld se grootste uitdagings aan te spreek. Hy het al verskeie toekennings ontvang, -waaronder die Hans Sigrist-prys (2006), Die John F.W. Herschel-medalje van die Royal Society of South Africa (2012), en die Havenga-prys vir Lewenswetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2013).

Die US se prof. Linus Opara het dieselfde toekenning in 2016 gewen.​

Op die foto, prof. Dave Richardson: Foto: Anton Jordaan