Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
KAS skenk US boek oor demokrasie aan nege SA publieke universiteite
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/12/2018

'n Boek geredigeer deur mede-skrywer prof Ursula van Beek, die stigter en Direkteur van die Transformasienavorsingseenheid (TRU) in die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, sal nou beskikbaar gestel word aan nege publieke universiteite in Suid-Afrika danksy die Konrad Adenauer Stiftung (KAS). 

“Met hul ruim skenking help KAS ons om die noodsaaklikheid om teoretiese en empiriese benaderings te kombineer wanneer met komplekse politieke, sosiale en ekonomiese kwessies gehandel word, oor te dra aan ʼn groter studente- en personeelgemeenskap. Die boek doen verslag oor ʼn projek gebaseer op vergelykende metodologie, waar diepte-gevallestudies verwys na empiriese bevindings, om sodoende die uiterste noodsaaklikheid van die opbou van teorie met verwysing na data, en omgekeerd, te illustreer," sê Van Beek.

Democracy under Threat: A Crisis of Legitimacy? is die jongste toevoeging tot ʼn reeks van vier boeke oor die demokrasie geproduseer by TRU. TRU fokus op die ondersoek van die Suid-Afrikaanse demokrasie in vergelyking met die Suider-Afrikaanse streek en globale kontekste gesien uit ʼn politieke, ekonomiese en sosiale perspektief.

Volgens me Christina Teichmann, Projekbestuurder by KAS se kantore in Kaapstad, is die doel van hierdie skenking om KAS se werk voort te sit om “demokrasie, goeie bestuur en die oppergesag van die reg te bevorder deur politieke opvoeding en opleiding, nie net in Duitsland nie, maar wêreldwyd".   

“Hierdie boek maak ʼn belangrike bydrae in hierdie verband deur waardevolle insigte te verskaf in die huidige stand en kwaliteit van die demokrasie in verskeie lande regoor die wêreld. Deur hierdie boek te skenk aan universiteite in Suid-Afrika hoop KAS om ʼn bydrae te maak om die belangrike navorsingsbevindings van prof Van Beek en die ander bydraende skrywers meer toeganklik te maak vir studente en universiteitspersoneel."

KAS het tot stand gekom aan die einde van die Tweede Wêreldoorloog en die einde van Nazi-heerskappy in Duitsland om aan die land se bevolking ʼn beter begrip van die demokrasie, hul rol as aktiewe burgers sowel as hul regte en verantwoordelikhede te verskaf.

“Daar is besluit dat hierdie soort opvoeding deur ʼn politieke stigting gedoen moes word, met elke lid geaffilieer by ʼn politieke party, om sodoende ʼn wye spektrum politieke sienings te verskaf," verduidelik Teichmann.

“Ons Stigting is vernoem na Konrad Adenauer, die eerste demokratiese verkose Kanselier van die na-oorlogse Duitsland. Behalwe die verskaffing van politieke opvoeding en opleiding in Duitsland het KAS in die 1960s met sy internasionale werk begin en het vandag 100 kantore en meer as 200 programme wêreldwyd. Ons werk in Suid-Afrika sedert die 1980s en verskaf ʼn platform vir ingeligte debat oor aktuele politieke sowel as sosio-ekonomiese kwessies deur seminare, werkwinkels, konferensies en gesprekke vir geselekteerde teikengroepe aan te bied, in samewerking met plaaslike vennote soos politieke partye, universiteite, dinkskrums, ondernemings, die media en die burgerlike samelewing."

Soos voor die Tweede Wêreldoorlog word die demokrasie vandag regoor die wêreld weer bedreig.

In Suid-Afrika dui die jongste opname van Afrobarometer dat “terwyl die meerderheid Suid-Afrikaners steeds demokrasie verkies bo enige ander vorm van regering" is ʼn groeiende aantal individue gewillig om “die demokrasie te verhandel vir ʼn outoritêre regime indien laasgenoemde werk, behuising en beter opvoeding kan verskaf".

“Baie Suid-Afrikaners voel dat die demokrasie niks opgelewer het nie, aangesien hul lewens nie verbeter het sedert die einde van Apartheid nie. Boonop het staatskaping en korrupsie op die hoogste vlak mense se vertroue in regeringsinstellings en demokratiese prosesse weggekalwe. Dit het gelei tot wydverspreide ontvanklikheid vir radikale en nie-demokratiese boodskappe, wat dikwels ʼn sterk rasse-ondertoon het," sê Teichmann.

Dit is egter nie net Suid-Afrika wat ʼn afname in ondersteuning vir die demokrasie as regeringstelsel ondervind nie.

Volgens Van Beek is “baie van die probleme wat Suid-Afrika vandag in die gesig staar – of dit verband hou met globalisasie of nie – nie uniek aan ons land nie, maar raak dit ook ander jonger demokrasieë regoor die wêreld, en selfs dié wat goed gevestig is". Die Verenigde State onder die heerskappy van President Donald Trump is net een voorbeeld.

“Met ander woorde, ons worstel nie alleen met probleme nie, maar as lede van ʼn globale gemeenskap kan – en behoort ons – te leer uit ander se mislukkings en suksesse. Ons boek dien as ʼn waarskuwing en werp lig op hoe gewetenlose charismatiese leiers hul eie mense mislei met beloftes van ʼn beter lewe vir almal, wanneer hulle in werklikheid mag, en die behoud daarvan, nastreef. Die metode is sonder uitsondering  gebaseer op die skep van en verdieping van verskille tussen 'ons' en 'hulle', waar die ander onderskei word van 'ons' deur ras, etnisiteit, geloof of klasse-status en uitgebeeld word as die bron van ons probleme," sê Van Beek.

Teichmann hoop dat, deur die boek te deel met personeel en studente aan Suid-Afrika se hoër opvoedingsinstellings, “akademiese lesers ʼn groter begrip ontwikkel van die meervoudige bedreigings wat demokrasieë, jonk en oud, tans ervaar."

“Ons beleef ʼn opkoms van charismatiese leiers en populistiese regse partye wat beloof om maklike antwoorde op komplekse vrae te verskaf en slegs fokus op nasionale belange. Die boek getuig daarvan dat, afgesien van sy vlak van volwassenheid, die demokrasie nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie, maar dat burgers dit aktief moet beskerm en bewaar teen elemente wat poog om dit te ondermyn," het Teichmann bygevoeg.