Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top Sielkunde-student verower gesogte Kanseliersmedalje
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 13/12/2018

Dr Xanthe Dawn Hunt (27) van Pietermartizburg in KwaZulu-Natal,  is, voordat sy die gesogte Kanseliersmedalje gisteraand (13 Desember) tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se sewende gradeplegtigheid in die Coetzenburg-sentrum ontvang het, voorgestel as die student wat deur akademiese personeel aan die US as 'n “akademiese fenomeen" en die “allerbeste student wat ons nog in jare mee te make gehad het" beskryf.  Dié beskrywing stem ooreen met die bewondering vir haar uit die geledere van wêreldleiers op 'n onlangse internasionale kongres oor gestremdheid in Europa waar hulle haar as 'n “genie' beskryf het.XantheHunt-3.jpg"Ek dink dit is baie vriendelik en vrygewig. Ek sien myself egter nie so nie. Ek sien myself eerder as baie hardwerkend en ek studeer altyd ontsettend hard," verduidelik  Hunt, wie ook 'n doktorsgraad in die Sielkunde  by dieselfde plegtigheid ontvang.

Hunt is vanjaar die ontvanger van die Kanseliersmedalje wat jaarliks aan 'n finalejaarstudent, of 'n nagraadse student, toegeken word wat nie net akademies uitnemend gevaar het nie, maar ook op verskillende wyses tot die kampuslewe bygedra en hard gewerk het aan die ontwikkeling van mede-kurrikulêre eienskappe. 

Sy het gesê die geheim vir haar sukses is die gelukkige posisie waarin sy was om baie mentors te hê, veral gedurende haar studies in sielkunde. 

"PhDs is altyd soort van die oomblik waar jy 'n bydrae lewer deur iets oorspronkliks te skep, en dit is gebou op jare en jare se leiding van mentors en onderwysers, sowel as die klasse wat ek bygewoon het," sê sy.

​Sonder veel moeite het Hunt reeds sowat 30 publikasies die lig laat sien wat volgens prof Awie Greeff, voorsitter van die Departement Sielkunde, meer is as wat talle akademici in die Sielkunde in hulle ganse loopbane ooit kan lewer.

Sy is ook die eerste meestersgraadstudent in die geskiedenis van die Departement wie se graad tot 'n PhD opgegradeer is, en dié is as geslaag aanvaar met geen aanpassings nodig nie.

Nog 'n noemenswaardige hoogtepunt tydens haar PhD-studies was toe sy vir 'n kursus in Biostatistiek op meestersvlak ingeskryf het, ondanks die feit dat sy nie Wiskunde in matriek gehad het nie.  Aanvanklik wou die kursuskonvenor haar nie tot die kursus toelaat nie, maar het tog na 'n ruk met huiwering ingestem om wel te doen.  Hunt het die kursus cum laude geslaag en haar punte was die tweede hoogste in die klas.

"Ek het nie wiskunde op hoërskool gehad nie, want dit was nie nodig op daardie tydstip nie. Statistiek is baie visueel. Jy gebruik grafieke en daar is altyd 'n visuele manier om die statistiek of teorie daar agter te verstaan. Dit het my deurgetrek dat ek kon sien wat ek leer en in visuele terme daaraan kon dink," verduidelik Hunt hoe sy daarin geslaag het om haar wiskunde cum laude te slaag.

Sedert sy haar studies in 2010 by die US begin het, was Hunt die ontvanger van onder meer die US Politieke Wetenskaptoekenning vir Uitnemendheid vir 'n Top Presterende Eerstejaarstudent; die Departement Engels se Toekenning vir Uitnemendheid vir 'n Top Presterende Eerstejaarstudent en die Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid Top Fakulteitpresteerder (is drie keer aan haar toegeken). Die prestige Babette Taute Engels-studiebeurs is ook aan haar aangebied.

Wat verstommend is, is dat Hunt elke vak waarvoor sy ingeskryf het cum laude geslaag het met die uitsondering van net een praktiese module.  In die eerste vyf jaar van haar studieloopbaan het sy 'n gemiddeld van 82,08% gehandhaaf.

Haar navorsing omsluit gestremdheidstudies, openbare gesondheid, monitering en evaluering van vroeë kinderjare-ingryping en akademiese kommunikasie. Sy beskik oor 'n baccalaureusgraad in die Geesteswetenskappe, 'n honneursgraad in Joernalistiek en in Sielkunde, 'n meestersgraad in Biostatistiek, en nou 'n PhD in Sielkunde.

Tydens die duur van die studie vir haar honneurs-, magister- en doktorsgraad het Hunt saam met verskeie lede van die Departement Sielkunde hoofsaaklik as projek-assistent gewerk – later was sy meestal by een van die navorsingseenhede betrokke.

In haar voorgraadse jare was sy lid van haar koshuis se a cappella-koor en het werk verrig as 'n portuurtutor binne haar koshuisgemeenskap en later ook in buite verband.  Sy was ook as vrywillige raadgewer betrokke by gemeenskapsgebaseerde projekte in die Stellenbosch- en Franschhoek-gebiede.

Benewens al haar akademiese gawes is Hunt buitengewoon hardwerkend en 'n voortreflike spanspeler.  Medestudente vind haar altyd behulpsaam en sy is uiters gewild onder die personeel in haar department.  Sy bied ook gereeld praatjies en lesings aan en is 'n uitstekende kommunikeerder.

Sy het reeds 'n kontrak gesluit vir haar PhD om aanstaande jaar deur Palgrave as boek gepubliseer te word.  Sy beoog ook om vroeg in 2019 'n uitstalling oor haar doktorsgraad in die Holocaust-sentrum in Kaapstad aan te bied.

  • Hooffoto: Dr Xanthe Hunt staan saam die Rektor, prof Wim de Villiers, wat in 1986 die eerste mediese student by die US was wat ook die Kanseliersmedalje ontvang het.
  • Foto 1: Dr Xanthe Hunt ontvang die Kanseliersmedalje.
  • Fotograaf: Stefan Els