Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Forward? Forward! Forward... uitstalling open by US
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 07/12/2018

Die Universiteit Stellenbosch se prestige-kunstentoonstelling wat die instansie se Eeufeesjaar herdenk, het op 5 Desember 2018 by die Universiteit Stellenbosch Museum geopen met die titel “Forward? Forward! Forward...". Hierdie unieke groepfeestentoonstelling beklemtoon die belangrike rol van kuns met die tema van die toekoms van hoër onderrig.

Die geleentheid is geopen deur die Universiteit Stellenbosch se Rektor en Vise-Kanselier, prof Wim de Villiers. “Die toekomsgerigte tema van hierdie uitstalling lê my na aan die hart. Met my inhuldiging in April 2015 het ek gesê dat ek 'n trotse Matie-alumnus is. Maar ek besef al te goed dat die Universiteit van vandag nie die Universiteit van gister is nie, en dit sal ook nie – en moet ook nie – die Universiteit van môre wees nie. Die lewe is dinamies; niks bly dieselfde nie, wat beteken dat ons die opwindende geleentheid het om voortdurend te verander, om voortdurend te transformeer. Dít is dus waarop ons moet fokus – om vorentoe te beweeg. Ek het 'n beroep op die universiteitsgemeenskap gedoen om 'saam vorentoe' te beweeg en het onderneem om dit die hoofdryfkrag van my ampstermyn te maak."

20181205_0029.jpg
 

Die tentoonstelling sluit die kunswerke in van meer as sestig kunstenaars wat die werke wat die toekoms van hoër onderwys, plaaslik en in Afrika, aanpak en ook tegelykertyd die toekoms van die Universteit Stellenbosch herbedink.

Die uitstalling is die eindproduk van 'n oop uitnodiging aan kunstenaars en meer as 250 vernuwende en boeiende voorstelle wat as katalisator vir debat en diskoers oor die toekoms van die universiteit en onderwys dien, is voorgelê. Hierdie voorstelle is deur 'n keurpaneel bestaande uit Ashley Walters, Robyn-Leigh Cedras, Maurice Mbikayi, Ulrich Wolff en Elizabeth Miller-Vermeulen beoordeel.

Volgens die kurators, Ulrich Wolff en Elizabeth Miller-Vermeulen, behels die reaksie 'n boeiende reeks opwindende kunswerke wat verskillende temas in 'n verskeidenheid media uitbeeld.

In hul vertolking van dié toekomsgerigte tema het kunstenaars onder meer kwessies soos identiteit en kulturele perspektief, mentorskap, geletterdheid, kennisterreine, mens-tot-mens-verbintenis, taal, kampus-magstukture en maatskaplik-sosiale stelsels aangepak.

Skeppende uitdrukkings en kunswerke behels onder meer installasie, skilderkuns, collage, tekeninge, fotografie, video, kortfilms, animasie, drukmedia en beeldhou.

20181205_0213.jpg
 

Volgens prof De Villiers, “draai ons nou ons blik na die toekoms. Ons betree die tweede eeu as 'n openbare universiteit en hierdie uitstalling help ons om te dink oor die toekoms van die Universiteit Stellenbosch en hoër onderwys oor die algemeen op ons vasteland. Ons het onlangs 'n nuwe visie vir die Universiteit aanvaar, naamlik om 'Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder'.

“Ek wil dankie sê aan die kunstenaars wat bygedra het. Soos Edgar Degas gesê het, 'Kuns is nie wat jy sien nie, maar wat jy ander laat sien'. Dankie dat julle jul werk met ons deel en sodoende ons visie verbreed oor wat 'saam vorentoe' van ons verg."

As deel van die aand se verrigtinge, het 'n paneelbespreking met dr Morne Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die US, prof Lize van Robbroeck, professor in visuele kunste en vise-dekaan: Kunste aan die US, en dosent in fotografie en nuwe media aan die US, mnr Ashley Walters, plaasgevind. Die paneel was dit eens dat kuns 'n universele taal is wat uitdrukking gee aan wat dit beteken om 'mens' te wees. Kunstenaars kyk terug, maar ook vorentoe wat ons toelaat om die toekoms deur die lens van kunstenaars te sien. Die stimulering wat kuns bied, asook die nuuskierigheid daarvaan verbonde, is wesenlik belangrik. Die toeskouers van kuns dra ook by tot die boodskap wat dit uitbeeld.

'n Herdenkingskatalogus deur die Universiteit Stellenbosch Museum wat die tentoonstelling belig, sal in Februarie 2019 beskikbaar wees.  

'n Stel essays deur skrywers verbonde aan die Instituut vir Toekomsnavorsing onder leiding van dr Mostert ondersteun “Forward? Forward! Forward..." se toekomsgerigte kuns op 'n transformatief-samewerkende grondslag, wat bydra tot die gesprekvoering oor die futuristiese tema in hierdie Eeufeesjaar.

Die kunstenaars wie se werk uitgestal word, sluit onder andere in Zyma Amien, Willem Boshoff, Chris Soal, Sthenjwa Luthuli, Liza Grobler, Lhola Amira, Johann Louw, Jaco van Schalkwyk, Tangeni Kambudu, Emma Willemse, Willie Bester, Gordon Froud, Stephané E. Conradie, Victor Mofukeng, Dan Halter, Ingrid Bolton, Conrad Botes, Sharlé Matthews, Heleen de Haas en Ley Mboramwe Makalele samewerking, Claudette Schreuders, Lehlohonolo Mkhasibe, Hannalie Taute, Strijdom van der Merwe, Ashley Walters, Sinalithemba Ntuli, Tamlin Blake, Ilené Bothma, Lhola Amira , Norman O`Flynn, Jaco Sieberhagen, Lunga Kama, Pierre le Riche, Ydi Coetsee, Spier Arts Academy and Marlise Keith collaboration, Anya Ramparsad , Thabo Motseki, Heidi Fourie en Jessica Storm Kapp.

  • “Forward? Forward! Forward..." is tot 30 April 2019 te sien.
  • Vir meer inligting, kontak Ulrich Wolff (021 808 3029) en Elizabeth Miller-Vermeulen (083 700 9669).  

Foto deur Danie Nel