Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoogtepunte van die US se Eeufeesjaar
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/12/2018

​In ʼn onlangse videoboodskap aan belanghebbendes kyk prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), terug op 2018, die instelling se historiese eeufeesjaar. Hier is sy toptienhoogtepunte:

  1. Die US lewer omtrent 10% van alle doktorsgrade in die land op (305 in die 2017 akademiese jaar, wat in Maart 2018 voltrek is), en Suid-Afrika het 26 openbare universiteite.
  2. Gemiddeld voltooi 8 uit 10 studente hulle studies aan die US, en sak net 1 uit 10 eerstejaars uit – die heel beste prestasie in die land, volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  3. Danksy hierdie goeie akademiese reputasie, lok die US topstudente. Agt uit tien van nuwelingeerstejaars kom na Maties met ʼn graad 12-gemiddeld van meer as 70%.
  4. Die US is ook bekend vir sy buitemuurse aktiwiteite. In 2018 het Matie-rugbyspanne omtrent ál wat ʼn trofee is verower, en is die Universiteitskoor weer as die beste ter wêreld in die amateurkategorie aangewys.
  5. Maties lewer ʼn positiewe bydrae tot die samelewing. Die US Regskliniek het byvoorbeeld vanjaar ʼn prestasietoekenning ontvang vir hulpverlening aan behoeftige gemeenskappe. En by ʼn projek buite Grabouw het US-studente inspeksies onderneem om die gehalte van bekostigbare behuising te verbeter.
  6. Die Universiteit het vanjaar R500 miljoen in voorgraadse beurse en lenings uitbetaal, waarvan sowat ʼn vyfde uit sy eie hoofbegroting gekom het. Die US se gradeplegtighede sou die helfte kleiner gewees het as dit nie vir hierdie finansiële bystand was nie. “Baie dankie aan almal wat deure vir studente open, en hulle boonop kos op die tafel help sit," het prof De Villiers gesê. Meer as R1 miljoen is tot dusver ingesamel met US-studente se Move4Food-veldtog, wat nou tot April 2019 verleng is.
  7. Die US se Kampusvernuwingsprojek vorder goed. Die Jan Mouton Leersentrum verrys vinnig uit die grond, en die Universiteit se opgeknapte teaterkompleks – wat nou die naam van die bekroonde digter en dramaturg Adam Small dra – is heropen.
  8. Die US het in 2018 sy amptelike ontstaan 100 jaar gelede herdenk. Die instelling het talle hoogtepunte gevier, maar ook lesse uit sy verlede geleer sodat die hele universiteitsgemeenskap saam vorentoe kan gaan. “Aan elke huidige en oudstudent, personeellid, skenker en vriend van die Universiteit, dankie vir jou waardevolle bydrae."
  9. Die US het in 2018 ʼn nuwe visie en strategiese raamwerk gekry, waarmee die instelling die toekoms met vertroue kan aandurf. “Ons is op koers om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word, en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word."
  10. Die US vestig volgende jaar ʼn multidissiplinêre skool vir datawetenskap. “Dis die regte ding om te doen namate die Vierde Industriële Revolusie nie net die wêreld verander nie, maar ook ons werk in die kennis-sektor."

Die Rektor sluit sy boodskap só af: “Sterkte met die laaste verpligtinge van 2018 – waar jy jou ook al in die wêreld bevind. Geniet die rustyd wat voorlê tydens die komende feesseisoen, en alles van die beste vir 2019! Ons sien uit na die eerste jaar van die US se tweede eeu."