Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrees het Dag Zero help voorkom
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/12/2018

Waarskuwings oor krane wat op Dag Zero leeg sou loop, het 'n veel groter impak op Kapenaars se waterverbruik gehad as waterbeperkings.

Dít is een van die vernaamste bevindinge van 'n studie deur navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK). Die studie is onlangs in die aanlyn-weergawe van die vaktydskrif Water Research gepubliseer. Die gedrukte weergawe sal in Februarie 2019 verskyn.

“Ons bevindinge dui daarop dat Kapenaars sterker op die waarskuwing van leë krane as op waterbeperkings gereageer het. Ons slim watermeter-data gekombineer met kostedata van die Stad Kaapstad dui op 'n merkwaardige sukses aan die kant van inwoners om hul verbruikspatrone oor 'n relatief kort tydperk te verander," sê een van die navorsers prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US. Booysen het die navorsing saam met Martine Visser van die UK se Skool vir Ekonomie en Ronelle Burger van die US se Departement Ekonomie gedoen.

“Uit ons studie blyk dit dat hoewel vrees 'n riskante strategie vir die Stad Kaapstad was, dit moontlik die mees suksesvolle intervensie was om Kapenaars se gedrag rakende waterverbruik te verander."

Booysen en sy medenavorsers het gekyk na die volgorde van gebeure wat in 2017 en 2018 tot Kaapstad se beweerde “Dag Zero" gelei het. Verder het hulle sleutelgebeure met gedragsveranderinge van huishoudings waar waterverbruik met behulp van warm en koue slim watermeters gemeet is in verband gebring. Warm watermeters (oftewel Geasies) is vanaf Junie 2015 tot Desember 2016 in Mpumalanga, Gauteng en die Wes-Kaap geïnstalleer, terwyl koue watermeters (oftewel Dropulas) vanaf Oktober 2016 tot Augustus 2017 in Kaapstad geïnstalleer is.  Warm watermeters het die navorsers in staat gestel om die warm waterverbruik in die drie provinsies te meet.

Booysen sê hulle het die warm waterverbruik in Kaapstad met dié van Mpumalanga en Gauteng vergelyk, want hoewel hierdie provinsies nie deur droogte geaffekteer is nie, het hulle baie van dieselfde dryfvere vir verandering as Kaapstad ondervind.

Hy voeg by dat aangesien huishoudings met Geasies en Dropulas hoofsaaklik uit die hoogste inkomstegroep kom, en waarskynlik meer ingelig is en op bewaringsboodskappe reageer, het hulle hul bevindings geverifieer deur hul data te vergelyk met dié van die Stad Kaapstad se huishoudelike gebruikers se totale waterverbruik, sowel as dié in die hoogste inkomstegroep onder die Stad se waterverbruikers. Booysen wys daarop dat hierdie huishoudings ook die meeste water gebruik.

Hy sê hul studie toon daar was 'n toename in waterverbruik ná die eerste week van September 2017 toe vlak 5-beperkings geïmplementeer is en ná 31 Januarie 2018 toe vlak 6B-beperkings ingestel is.

“Op hierdie stadium het huishoudings met slim watermeters 250L water per dag gebruik. Dit is gelykstaande aan 7,5 kiloliter per maand (Kaapstad se gemiddelde was 300L per dag per maand). Die perverse effek van die teenstrydigheid in die vlak 5-beperkings kan moontlik die toename in verbruik tot meer as 350L per dag (of 10,5 kiloliter per maand) aan die einde van die September-skoolvakansie verklaar."

Wat die verskil in waterverbruik tussen Kaapstad en die twee ander provinsies betref, sê Booysen dat dit vanaf middel Augustus 2017, ná die bekendstelling van die Water Resilience-plan, gedaal het, maar ná die tweede week van September tot 'n verskil van 9L per dag gestyg het.

Hy meen drie gebeure in die eerste twee weke van Augustus kan moontlik die oënskynlike afplatting en die daaropvolgende afname in die laaste gedeelte van Augustus verklaar: die nasionale regering het die Stad Kaapstad gekritiseer oor sy trae reaksie op die droogtekrisis; die Stad het gedreig om waterbeperkingstoestelle te installeer vir diegene wat baie water gebruik; en die jaarlikse blommeskou aan die Weskus is weens die droogte gekanselleer.

Booysen sê 'n week ná die aankondiging van die rampplan op 4 Oktober 2017, het die verskil tussen die streke begin toeneem en is 21L per dag bereik in die eerste week van November, wat op 'n aansienlike vermindering in Kapenaars se waterverbruik dui.

Teen middel November, ná die ingryping van die premier en die nasionale minister, het die verskil aan die begin van die vakansie (6 Desember 2017 - 7 Januarie 2018) tot 6L per dag afgeneem.

“ ʼn Week nadat vlak 5-beperkings ingestel is, het die warm waterverbruik in Kaapstad aansienlik toegeneem en die verskil tussen die twee groepe het in die daaropvolgende vier weke vinnig tot 2L per dag verminder. Dit dui op verminderde besparings na die implementering van vlak 5-beperkings.

“Ná die vakansie, wat met die implementering van vlak 6-beperkings saamgeval het, het die verskil tussen die groepe geleidelik toegeneem en is 33L per dag bereik in die laaste week van Januarie 2018, aangesien Kapenaars minder water gebruik het in reaksie op die dreigende krisis en die instelling van vlak 6B-beperkings."

Booysen sê die koue waterverbruik van huishoudings met Dropulas was soortgelyk aan die van die Stad Kaapstad.

“Maar na die tweede week in Januarie was daar ʼn geleidelik toename in verbruik tot vlakke hoër as voor die vakansie. Dit was ooreenstemming met 'n toename in die huishoudelike data van die Stad Kaapstad. Hierdie toename het ʼn piek bereik kort nadat die Stad vlak 6B-beperkings aangekondig het. ʼn Verdere vermindering het gevolg op die implementering van vlak 6B-beperkings op 1 Februarie, waarna waterverbruik ʼn plato bereik het en effens toegeneem het met die aankondiging op 22 Februarie dat Dag Zero tot Julie uitgestel is."

Hoofstroommedia en sosiale media

Die navorsers het ook reaksies in die hoofstroommedia en op sosiale media op aankondigings van die regering ontleed deur te kyk na uitdrukkings wat met waterbeperkingsvlakke en die vrees vir die droogte en sy gevolge verband gehou het.

Hulle het gesoek vir woorde soos “Vlak 5 of Vlak 5-beperkings of Vlak 5-waterbeperkings of waterbeperkings", “versamelpunte", “ramp", “krisis", “Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag", “gebottelde water" en “boorgat".

“Ons wou aspekte rondom die groeiende toename in die publiek se omgang met die waarskuwing van leë krane identifiseer ten einde te verstaan hoe Kapenaars die stortvloed kennisgewings en nuus tydens die krisis gehanteer het," sê Booysen.

Hy voeg by dat hulle hul soektogte tot Augustus 2017 - Oktober 2017 beperk het omdat hul data daarop gedui het dat daar in hierdie tydperk 'n sterk en konstante afname was in waterverbruik in huishoudings wat deel van hul steekproef was.

“Ons ontleding van die terme wat gedurende hierdie tydperk gebruik is, toon die reaksie was die grootste toe 'n driefase-rampplan wat oor die rampspoedige gevolge gewaarsku het aangekondig is en nie toe beperkings of tariefverhogings ingestel is nie."

“Gedurende die week voor die daling in waterverbruik was daar 'n toename in uitdrukkings wat met paniek oor die droogte verband gehou het. Daar was 'n afname in terminologie oor vlak 5-beperkings. Skerp stygings in die frekwensie van woorde rakende paniek oor die droogte het egter nie met die aankondiging oor vlak 5-waterbeperking op 3 September oorvleuel nie."

Booysen sê dié stygings skep die indruk dat die aankondiging van strenger waterbeperkings moontlik ʼn geringer effek gehad het as die mediawaansin en bangmaakstories wat op die vrystelling van die rampplan vir kritiese watertekorte gevolg het. Dié plan het gefokus op die risiko van krane wat leeg sou loop, die moontlikheid dat mense by versamepunte in rye sou moes staan vir waterrantsoene, en die verhoogde bedreiging van brande en siektes in digbewoonde nedersettings.

  • Bron: Booysen, M.J.; Visser, M; Burger, R. Temporal case study of household behavioural response to Cape Town's “Day Zero" using smart meter data. Water Research 149 (2019) 414-420.

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Thinus Booysen

Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4013

E-pos: mjbooysen@sun.ac.za

       UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za