Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leierskapsontwikkeling: US en Discovery span saam
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/11/2018

​Ongeveer 60 bestuurders gaan jaarliks opgelei word om professionele leierskap te voorsien by primêre gesondheidsorgklinieke in Mpumalanga en die Noord-Kaap as deel van ’n nuwe program wat in die Departement Verpleeg- en Verloskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) met filantropiese steun deur die mediesefondsverskaffer Discovery van stapel gestuur is.​

Die opleiding het in 2018 begin nadat ernstige kommer in jaarinspeksieverslae van ’n nasionale moniteringsliggaam uitgespreek is oor die nienakoming van gesondheidsorgstandaarde by klinieke oor die hele land heen, sê prof Ethelwynn Stellenberg, wat die nuwe projek lei.

Die projekspan het reageer op ’n oproep deur die Discovery-fonds vir befondsing in Menslike Kapasiteits- en Vaardigheidsontwikkeling en vervolgens ’n aansoek om die finansiering van die opleiding ingedien. Discovery het daarna meer as R1,5 miljoen oor drie jaar bewillig.

Die behoefte aan die opleiding is geïdentifiseer nadat veral klinieke in Mpumalanga en die Noord-Kaap swak prestasieverslae ontvang het van die Kantoor vir die Nakoming van Gesondheidstandaarde (OHSC), wat statutêr verplig is om die gehalte van gesondheidsdienste landwyd te verseker.

Sedert 2012 het die moniteringsliggaam deurgaans swak leierskap- en korporatiewe beheer-en-bestuur en benedepeil operasionele bestuur by primêre gesondheidsorgklinieke oor die hele land aangeteken.

In sy 2014/2015-oorsig van 358 sodanige klinieke is meer as 73% as klinies swak en nienakomend beskou. Die volgende jaar is daar ook geen verbetering aangeteken nie.

Daar is toe besluit dat dringende ingrepe nodig was om die probleme met swak leierskap en bestuur wat die gehalte van personeel se dienslewering by die klinieke beperk, aan te pak.

Die opleidingsprogram is daarna by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gevestig om die vereiste vaardighede te voorsien aan distriks- en operasionele bestuurders by primêre gesondheidsorgklinieke wat nie aan die vereiste versorgingstandaarde voldoen nie.

Die bestuurders word geleer hoe om gepaste beleide en metodes te ontleed en te formuleer om deurlopende verbetering in diensgehalte te verseker. Hulle word ook ingelei in bestuurspraktyke, met inbegrip van finansiële bestuur; hoe om hul menslike hulpbronne te bestuur en arbeidsvraagstukke te hanteer; en hoe om risiko’s te evalueer en daarvoor te beplan. Modules dek verder die instelling van infeksiebeheer- en rampbestuursmaatreëls.

Tot dusver het altesaam 58 bestuurders vir die program ingeskryf – 30 van Mpumalanga en 28 uit die Noord-Kaap – en die diversiteit van die kursusgangers wat deur die provinsiale gesondheidsowerhede gekies word, is ’n sleutelprioriteit. Oor die drie jaar van die projek sal 180 bestuurders opgelei word.

Die program staan as die Program vir Kapasiteitsbou in Leierskap en Bestuur in Primêre Gesondheidsorg bekend, en die projek gebruik ’n gemengde onderwysmetodologie, waaronder kontaksessies en telematiese satellietuitsendings, asook deurlopende ondersteuning van dosente via die SunLearn-e-leerplatform oor die foon of op Skype.

Die program, wat in Mei van stapel gestuur is, het afgeskop met twee vyfdagwerkswinkels wat in die twee provinsies gehou is om aangesig-tot-aangesig-kontak tussen die kursusgangers en die fasiliteerders van die US moontlik te maak.

Dit is gevolg deur ’n reeks sessies van drie uur lank waarin opleidingsmodules via afstandsonderrig uitgesaai is. Die eerste twee sessies het in Junie en Augustus plaasgevind, met ’n derde in Oktober.

​Die geleentheid vir die befondsing van die projek het ontstaan ​​nadat die Discovery-fonds die beskikbaarheid van filantropiese finansiering geadverteer het vir projekte wat versorgers in hul werk kan steun, asook breër sosiale ontwikkeling bied.

Professor Stellenberg erken die belangrike geleentheid wat die Fonds se steun vir die bestuurskapasiteitsbouprogram bied en maak die breë praktiese voordele daarvan duidelik:

“Die doel is om plaaslike operasionele bestuurders by hierdie klinieke te help om goeie leiers te wees,” sê sy.

Die eerste jaarverslag oor die programvordering word teen die einde van die jaar in Desember verwag. ​