Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Makupula Sekondêr begin 'n groentewinkeltuin
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 27/11/2018

Met spinasielote wat deur die grond stoot en skoenlappers van papier wat die wandelgange van Makupula Sekondêre Skool in Stellenbosch versier, is die Kayamandi Groentewinkel-tuin op 24 November geopen.

Die Kayamandi Groentewinkel-tuin (K.V. Store) is 'n uitvloeisel van die Jongentrepreneurskapprojek (YEP), 'n gesamentlike inisiatief deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die HU Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe Utrecht in Nederland. Die studente het in spanne saamgewerk om kursusmateriaal vir 'n slypskool in entrepreneurskap te ontwikkel wat op hoërskoolleerders van plaaslike skole gemik is. By die slypskool wat in Julie gehou is, is sakeplanne ontwikkel en die vier beste idees het vestigingkapitaal van R4 000 per groep gewen om hul planne uit te voer.               

Volgens mnr. Adolph Neethling, YEP-programkoördineerder en lektor in die Departement Ondernemingbestuur aan die US, het drie van die wenplanne uit Makupula Sekondêr gekom.           

K.V. Store was een van die groepe wat gewen het. Hul sakeplan het genoem dat hulle bekommerd is oor hul gemeenskap se gesondheid en dat hulle groente by hul skool wil plant. Hulle wil dan die vars produkte uit die tuin teen lae pryse aan Kayamandi-inwoners verkoop om hul gesondheid te verbeter en die mense van die gemeenskap te bemagtig.           

“Die uitdaging met sommige van hierdie gemeenskapsinisiatiewe is egter dat die gemeenskapsbegunstigde dikwels sukkel om die planne wat met die steun van die universiteitsvennoot gegenereer is, te implementeer," het mnr. Neethling gesê.

Ansonette Esterhuizen, 'n tweedejaarstudent in BCom Bestuurswetenskappe, wat die K.V. Store-span gehelp het om hul idee te ontwikkel, het besluit om aan te hou om die span te mentor. Benewens die prysgeld wat deur besighede uit Nederland geborg is, het Ansonette 'n borgskap bekom vir meeste van die implemente wat nodig is vir 'n groentetuin met drupbesproeiing. 

“Ná die slypskool het ek besef die studente gaan leiding nodig hê om hul konsep te implementeer en ek het besluit om hulle te help om hierdie doelwit te bereik deur hulle by te staan met mentorskap, beplanning en om borge te vind. Ek was gelukkig genoeg om drie borge te vind wat die meeste van die tuintoerusting en -gereedskap geborg het, onder meer 'n drupbesproeiingstelsel en nuwe geute vir die skool (Intelichem), 'n 5 000-liter JoJo-tenk (4evr Plastics) en skadunette om die tuin mee te omring (Delta4 Financial Services)."            

Borge en ondersteuners het die amptelike opening van die tuin oor die naweek bygewoon.          

By dié geleentheid het mnr. Paul Jaspers van die HU Sakeskool Utrecht die studente aangemoedig om innoverende entrepreneurskap te gebruik om die armoedeketting te breek en om die verandering te wees wat die wêreld nodig het.     

Me. Bulisa Dyushu-Gophe, onderwyserkoördineerder by Makupula Sekondêre Skool, het ook die leerders aangemoedig om gebruik te maak van elke geleentheid wat hul toekoms kan verbeter.

“Ek was so geïnspireer deur die leerders se aanbiedings (ná die kursus)," vertel sy. Al kom die leerders uit 'n gemeenskap wat sukkel met werkloosheid, armoede en 'n hoë misdaadsyfer, gee hierdie tuin hoop, het sy bygevoeg en al die betrokkenes bedank.      

“Dit is nie net 'n projek vir ons nie," het sy gesê. “Dit is iets groots."     

'n Groep van 15 meisies is betrokke by die K.V. Store. Volgens Tapelo Mashiyi, een van die leerders, is hulle baie trots op wat hulle vermag het.