Me Susan Njeyiyana, 'n lektor in die Departement Algemene Taalwetenskap, het onlangs die Belowende Jong Taalwetenskaplike toekenning ontvang vir 'n plakkaat wat sy aangebied het by die toonaangewende 20ste Internasionale Taalwetenskapkongres wat in Kaapstad aangebied is.
Njeyiyana is doof en gebruik Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) as haar eerste taal, terwyl sy ook Engels en Setswana verstaan en onderrig gee in SASL vir L2 eerstejaarstudente in die departement.
“Dit was ʼn ongelooflike gevoel om hierdie toekenning te ontvang. Aanvanklik kon ek nie glo dat myne gekies is uit al die baie uitstekende plakkate wat uitgestal is tydens die konferensie nie. Ek was beslis aangenaam verras en dit het my ambisie om verder te studeer, versterk," sê sy.
Haar plakkaatonderwerp stam uit haar honneursgraad wat fokus op navorsing wat sy uitgevoer het om te bepaal of daar bewys is van “dialekte in die SA Gebaretaal in skole vir Gehoorgestremdes".
Die geskiedenis van opvoeding vir dowes strek terug na die apartheidsera, toe baie skole vir dowes deur verskillende godsdienstige groepe gestig is; sommiges deur nonne van Ierland, ander deur nonne van Duitsland, asook deur die NG Kerk".
Die eerste skool vir dowes in Suid-Afrika is in 1863 geopen deur die Ierse Dominikaanse Orde. Sy haal Philemon Akach aan wanneer sy verduidelik: “Hierdie eerste skool het van sy ontstaan voorsiening gemaak vir alle rassegroepe en het gebaretaal as medium van onderrig gebruik."
Die nonne wat by hierdie skool onderrig gegee het, was van Ierland en hul gebaretaal-onderrig het sy oorsprong gehad in Frankryk in die 18de eeu.
“In my studies het ek gevind dat baie gebaretale die fenomeen van gebaretaalgebruikers dokumenteer wat hul leksikale items aangepas het om verskeie redes. Die fokus van hierdie studie was om op sogenaamde 'skool-lekte' te fokus, ʼn term wat verwys na die oordrag van gebaretaal in skole vir dowe kinders."
Met verwysing na Gary Quinn (2010), wat assistent-professor was by die Heriot Watt Universiteit in Skotland, verduidelik sy dat nes Quinn, wat die rol van skool-lekte in streeksvariëteite in Britse Gebaretaal (BSL) bestudeer het, sy geïnteresseerd daarin is om die impak van hierdie skool-lekte op leksikale variasie in SASL na te vors.
“Ek het gevind dat die deelnemers aan die studie sommige leksikale items van hul skool-lekte behou het. Die data dui aan dat die retensie van skool-lekte afneem; met ander woorde daar is meer verandering. Die redes hiervoor is die afskaffing van apartheid, en die gebruik van soortgelyke variasies en SASL kurrikulum-implementering sedert nuwe tekens en taalwetenskaplike terminologie deur verskillende groepe in Suid-Afrika geskep is."
Haar eie kinderdae het haar en haar belangstelling as akademikus ook gevorm. Njeyiyana, wat in Soweto gebore is, is een van vier sibbes waarvan drie doof is. Sy het die Dominikaanse Skool vir Dowes in Hammanskraal bygewoon en matriek voltooi aan die St. Vincent Skool vir Dowes.
“Uit my persoonlike ondervinding as dowe kind wat moes beweeg tussen twee verskillende skole vir dowes was dit duidelik dat gebare wat ek by Hammanskraal geleer het baie anders was as dié van St. Vincent. Deur my navorsing wil ek die oordrag van gebare tussen individue van een ruimte na ʼn ander ondersoek, waar sommige van die 'ouer' tekens blykbaar verdwyn en vervang word met nuwe gebare omdat daar meer taalkontak is."
“Vandag is daar geen apartheid meer nie en ons het toegang tot sosiale media waar dowe mense van enige plek visueel met mekaar kan kommunikeer oor groot afstande, wat meer geleentheid skep vir gebaretale om mekaar te beïnvloed, wat ons ʼn ryke variasie in gebaretale gee."
Wanneer ʼn mens met Njeyiyana praat, is haar passie vir haar werk as opvoeder duidelik. Dit is daarom verbasend om te hoor dat sy onseker was oor watter studierigting om te volg nadat sy in 1993 matriek geslaag het.
“Ek was onseker oor watter rigting om te studeer en het uiteindelik 'n kursus in Grafiese Ontwerp voltooi, wat ʼn refleksie van my kreatiewe aard is. My vermoë en talent as SASL digter is deur Sign Language Education and Development (SLED) raakgesien, waar ek een van die stigterslede geword het en vir 16 jaar gewerk het. Tydens my tyd daar het ek die geleentheid gekry om SASL in diepte te bestudeer, wat daartoe gelei het dat ek SASL onderrig het aan groepe horendes en opgelei is as fasiliteerder vir volwasse leergeleenthede," verduidelik sy.
In 2014 het sy ʼn kortkursus oor SASL digkuns aan die Universiteit van die Witwatersrand bygewoon.
“Dit is waar my passie vlam gevat het. ʼn Paar jaar later het ek besluit om my studies verder te neem en besluit om my honneursgraad in die linguistiek van Suid-Afrikaanse Gebaretaal te voltooi. Ek het skaars my studies voltooi, toe ek gehoor het van die geleentheid om by die Universiteit Stellenbosch te werk. Ek het onmiddellik die geleentheid aangegryp en aansoek gedoen. Ek was aangenaam verras toe ek verneem het dat ek by die span sou aansluit."
Njeyiyana, wat getroud is en twee kinders het, woon tans nog in Gauteng maar beplan om eersdaags na die Wes-Kaap te verhuis.
In Suid-Afrika, net soos in baie ander lande oor die wêreld, is dowe persone ʼn “linguistieke minderheid" en word “dikwels oorgesien".
“Soos met baie ander kleiner groepe is die natuurlike ding wat groot gemeenskappe doen om hulle eenkant te stoot. En dit is baie waar van die dowe gemeenskap. Toeganklikheid is ons grootste hindernis as dowe gemeenskap wat betref toegang tot inligting, opvoeding, sosiale geleenthede en die wêreld om ons. Ons ontvang inligting op visuele wyse en het nie die keuse om te hoor, soos wat jy die keuse het om ʼn ander taal te leer nie," sê Njeyiyana.
Diegene wat in staat is om te hoor het egter wel die keuse om aan te pas en in te pas by dowes deur gebaretaal te leer.
“En dit is hoekom ek hier is, om daardie brug, hoe klein dit ook al mag wees, te bou tussen die dowe en die horende wêrelde, deur SASL in die Departement Algemene Taalwetenskap aan Universiteit Stellenbosch te onderrig. Dis gaan nie daaroor om 'die arme dowes te help nie', maar handel oor die skep van ʼn ruimte waar ons werklike gelykes is."
Sy hoop dat haar prestasies tot dusver ander dowe persone sal aanmoedig om ʼn akademiese loopbaan te oorweeg.
“Ek wil aan die dowe jeug toon dat dit moontlik is om ʼn dowe akademikus te wees, en my manier om hulle sover te kry om ʼn instelling van hoër onderrig na skool by te woon, is deur die Leer- en Onderrig-ondersteuningsmateriaal waarby ek betrokke is by Universiteit Stellenbosch. Hierdie projek ontwikkel onderrigmateriaal vir die onderrig van SASL in die klaskamer by skole vir dowes. Soos met horende kinders wat ʼn gesproke taal aanleer, is dowe kinders nou eers in staat om SASL as vak te neem. Ek het ʼn passie om SASL literatuur te ontwikkel en meer spesifiek my kennis van SASL digkuns te deel deur werkswinkels en interaksie met die kinders."
Foto: Me Susan Njeyiyana, 'n lektor in die Departement Algemene Taalwetenskap, het onlangs die Belowende Jong Taalwetenskaplike toekenning ontvang vir 'n plakkaat wat sy aangebied het by die toonaangewende 20ste Internasionale Taalwetenskapkongres wat in Kaapstad aangebied is. (Lynne Rippenaar-Moses)