Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-steundienstepersoneel stel norme in oorleg met Europese eweknieë
Outeur: Lina Hörügel and Amanda Tongha
Gepubliseer: 24/10/2018

In Julie 2018 sou die destydse president Nelson Mandela sy 100ste verjaarsdag gevier het, saam met die Universiteit Stellenbosch (US) wat vanjaar sy Eeufeesjaar herdenk.

Op 11 November 1987 het Madiba 'n eredoktorsgraad van die Karl-Marx Universiteit, tans bekend as die Leipzig Universiteit (LU), ontvang. Oliver Tambo, die destydse president van die African National Congress, het die graad namens Mandela ontvang, aangesien die voormalige staatsman toe nog in die gevangenis was.

Op 11 Oktober vanjaar is 'n afskrif van hierdie eredoktorsgraad tydens 'n byeenkoms by die LU, waar 'n strategiese vennootskap tussen die US en die Duitse instelling gevier is, aan die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Duitsland, mnr Phumelele Stone Sizani, oorhandig. Die seremonie het saamgeval met 'n besoek deur sewe US-personeellede wat deelgeneem het aan die Ontwikkelingsprogram vir Steundienstepersoneel wat onlangs deur US Internasionaal van stapel gestuur is.

“ 'Mens kan oor dié eregraad voel nes jy wil, maar niemand kan daaraan twyfel dat as iemand 'n eredoktorsgraad verdien, dit Nelson Mandela is nie," het die Direkteur van die Kantoor vir Internasionale Akademici, dr Sven Poller, by dié geleentheid aan 'n groep van sowat 45 studente en personeel van die universiteit, waaronder die besoekende US-personeellede, gesê. Volgens dr Poller was die besluit om 'n afskrif van die doktorsgraad aan ambassadeur Sizani te oorhandig, die gevolg van die besoek deur die afvaardiging van US-steundienstepersoneel.

Die sewe personeellede, wat Menslike Hulpbronne, Studentesake, US Internasionaal en verskeie fakulteite verteenwoordig het, het drie dae by die LU deurgebring en werkswinkels en afsonderlike vergaderings bygewoon. Voor hulle besoek aan LU het hulle ook by kollegas aan die Katholieke Universiteit Leuven in België besoek afgelê. Daarmee is 'n weeklange normstellingsbesoek aan vennootinstellings in Europa afgerond.

Die Koördineerder: Gemengde Leer aan die US se Fakulteit AgriWetenskappe, me Kathryn Wirth, som haar gesprekke met Leipzig-kollegas in die e-leerdiens soos volg op: “Een van die wonderlike aspekte van die werkskadu was dat die US, sowel as die LU, Moodle as die e-leerplatform gebruik. Dit was werklik goed om te sien hoe dieselfde sagteware op 'n totaal ander manier gebruik word en watter geleenthede daar bestaan om dit te verbeter."

Volgens die Koördineerder: Personeelmobiliteitsprogramme en Vennootskapsprojekte by US Internasionaal, me Lidia du Plessis, komplementeer die nuwe program ander personeelmobiliteitsprogramme wat vir sowel akademiese as steundienstepersoneel aangebied word.

“Ons besef daar is 'n groot behoefte onder steundienstepersoneel vir betrokkenheid by so 'n geleentheid. Deur hierdie program wil ons die konsep van omvattende internasionalisering binne die breër universiteitsomgewing aanmoedig, sodat meer personeellede die geleentheid kry om sulke geleenthede te geniet."

In November bring Leipzig-kollegas besoek aan Stellenbosch vir 'n gesamentlike werkswinkel oor die tema Kennisverenigings in Afrika.

Foto: Mnr Phumelele Stone Sizani (middel) saam met US-personeel tydens hul besoek aan Leipzig Universiteit