Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Zambezi-vallei binnekort te warm vir tsetsevlieë
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 23/10/2018

'n Nuwe studie, gebaseer op 27 jaar se data van die Mana-poele Nasionale Park in Zimbabwe, dui daarop dat temperatuurstygings oor die afgelope drie dekades reeds 'n groot afname in die plaaslike populasie tsetsevlieë veroorsaak het.

Hierdie analise wat vandeesweek in PLOS Medicine gepubliseer is, is die eerste stap in die proses om 'n verband tussen temperatuur en die risiko van slaapsiekte in Afrika te bewerkstellig.

Tsetsevlieë is bloedsuiende insekte en die draer van die tripanosoom-parasiet wat slaapsiekte by die mens, regoor sub-Sahara Afrika veroorsaak. Sonder behandeling kan die siekte fataal wees. Parasiete van hierdie genus veroorsaak ook nagana, diere-Afrika-tripanosomiase (AAT), in vee. Die mees onlangse globale skattings dui daarop dat AAT jaarliks verantwoordelik is vir omtrent een miljoen beesvrektes.

Die studie, “Climate change and African trypanosomiasis populations in Zimbabwe's Zambezi Valley: A mathematical modelling study", is gegrond op jare se laboratorium- en veldwerkmetings van digtheid van voorkoms van die vlieë in die 1990s, en die bykans voortdurende dokumentering van klimaatdata sedert 1975. Al bogenoemde data is deur navorsers wat by die Rekomitje Navorsingstasie in die park werksaam was, gedokumenteer.

Oor byna drie dekades het die tsetsevlieë wat op vee in die park gevang is, afgeneem van meer as 50 vlieë per bees per vangsessie in 1990, tot minder as een vlieg per 10 vangsessies in 2017. Sedert 1975 het die gemiddelde dagtemperatuur met bykans 1°C gestyg, en gemiddeld met ongeveer 2° C gedurende November, die warmste maand van die jaar.

Navorsers van die Liverpool Skool vir Tropiese Medisyne ( bekend as LSTM), die Suid-Afrikaanse Sentrum van Uitnemendheid vir Epidemiologiese Analise en Modellering (SACEMA), en die Natuurlike Hulpbronne-instituut by die Universiteit van Greenwich, het 'n wiskundige model ontwikkel wat toon dat onlangse stygings in temperatuur verantwoordelik kan wees vir die gepaardgaande afname in die voorkoms van tsetse. Die resultate toon dat omgewings soos die Zambezi-vallei in Zimbabwe binnekort te warm sal wees vir tsetsepopulasies om te oorleef.

“Indien hierdie gevolg wat ons by Mana-poele waargeneem het regoor die hele Zambezi-vallei voorkom, behoort die oordrag van tripanosome drasties af te neem in hierdie laagliggende streek," verduidelik Dr Jennifer Lord, 'n nadoktorale genoot by die LSTM en hoofouteur van die artikel.

Alhoewel dit goeie nuus vir die Zambezi-vallei is in terme van die siektesituasie, beteken hoër temperature ook dat sommige hoërliggende, koeler dele van Zimbabwe nou meer geskik vir die tsetsevlieg gaan word.

Prof. John Hargrove, senior navorsingsgenoot by SACEMA, sê die effek wat onlangse en toekomstige klimaatsverandering op die verspreiding van tsetsevlieë en ander vektore, veral muskiete het, 'n onderwerp is waaroor daar nog baie onduidelikheid bestaan: “Ons weet byvoorbeeld nie of die herlewing van malaria in die hooglande van Oos-Afrika in die 1990s veroorsaak is deur stygende temperature, 'n toename in die parasiete se weerstandigheidsvlakke teen bestaande middels, of 'n afname in beheermaatreëls nie," verduidelik hy.

“Oor die algemeen verstaan ons nie regtig hoe klimaatsverandering die verspreiding van aansteeklike siektes in sub-Sahara Afrika gaan beïnvloed nie, hoofsaaklik weens 'n gebrek aan empiriese data," voeg hy by.

Rekomitjie research station small.jpg
 

Die navorsing oor tsetse en tripanosomiase wat die afgelope 59 jaar by die Rekomitje-navorsingstasie gedoen is, verskaf egter langtermyn datastelle vir beide die voorspellingsvoorkoms van tsetsevlieë, en klimaatsverandering. Die navorsingstasie is binne 'n beskermde gebied geleë waar daar reeds sedert 1958 geen landboubedrywighede is nie. In 1984 is die gebied as 'n UNESCO Wêrelderfenisgebied verklaar. Aangesien byna niks anders behalwe die klimaat verander het nie, bied die data van dié gebied die ideale geleentheid om 'n temperatuurgedrewe model vir die veranderinge in tsetsepopulasies te ontwikkel.

Anders as soogdiere en voëls, kan insekte soos tsetsevlieë nie hul eie liggaamstemperatuur reguleer nie en word hulle ontwikkeling en sterftesyfer dus grootliks deur omgewingstemperatuur beïnvloed. Papies kan nie by volgehoue temperature laer as 16 of hoër as 32°C oorleef nie. Bykomend hiertoe kan 'n tsetsepopulasie net in 'n gebied vestig indien daar genoegsame gasheerdiere en die gepaste plantegroei is om hulle te onderhou, verduidelik prof. Hargrove.

Hy waarsku egter dat die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe en die Kruger Nasionale Park in Suid-Afrika voorbeelde is van plekke met geskikte gashere en habitat vir tsetse in oorvloed: “In die vroeë 19e eeu het tsetsevlieë in hierdie gebiede voorgekom, maar marginaal, omdat die winters te koud was. Met die massiewe runderpes-epidemie in die 1890s, toe die oorgrote meerderheid gehoefde diere gevrek het, het tsetsevlieë uit hierdie gebiede verdwyn en nooit weer hervestig nie. Maar indien die temperature aanhou styg, is daar 'n gevaar dat hulle weer hier kan hervestig."

Terwyl die siektes wat deur tsetsevlieë oorgedra word geen gevaar vir die wildlewe inhou nie, (aangesien hulle oor millennia by mekaar aangepas het), sal beheermaatreëls ingestel moet word indien tsetsevlieë in dié gebiede hervestig. Volgens Prof. Hargrove kan vee met profilaktiese middels teen tsetse beskerm word, maar soortgelyke middels bestaan tans nie vir mense nie. Die enigste manier om beide vee en mens te beskerm, is om die tsetsevlieg sélf te teiken.

Op die foto, Tsetsevlieë is bloedsuiende insekte en die draer van die tripanosoom-parasiet wat slaapsiekte by die mens veroorsaak. Hulle kom uitsluitlik in sub-Sahara Afrika voor. Foto: Judy Gallagher CC 2.0 https://www.flickr.com/photos/52450054@N04/42453576002

 

Medianavrae

Dr. Jennifer Lord

Liverpool Skool vir Tropiese Medisyne

E-pos: Jennifer.Lord@lstmed.ac.uk

Tel: +44 7963 491478

 

Prof. John Hargrove

E-pos: jhargrove@sun.ac.za

Tel: +27 (0)82 301 9551

 

Prof. Stephen Torr

E-pos: Steve.Torr@lstmed.ac.uk

Tel: +44 7745 235288

 

Prof. Glyn Vale

Voormalige direkteur: Tsetse- en Tripanosomiase-Krisisbeheer, Departement Veerartsenykundige Dienste, Zimbawe

E-pos: gvale@healthnet.zw

Tel: +263 4 304902 (Harare, Zimbabwe)