Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Emanuel Derman lewer Thys Visser-gedenklesings
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 17/10/2018

​Die 2018 Thys Visser-gedenklesings het Maandagaand afgeskop met die lesing, A Stylized History of Quantitative Finance, deur prof Emanuel Derman van Columbia Universiteit.

Dit is Dinsdag opgevolg deur die tweede in die reeks, Metaphors, Models, Data, Theories and Intuition, en op 18 Oktober deur die derde en laaste lesing, An Introduction to the Volatility Smile in Options Markets.

Die tweejaarlikse lesingreeks deur vooraanstaande internasionale kundiges word ter ere van wyle Thys Visser, 'n dinamiese sakeleier, alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en ʼn groot ondersteuner van die Universiteit Stellenbosch, gehou.

Derman, wat veral bekend is vir sy werk op die gebied van die Black-Derman-Toy-rentekoersmodel en vir die ontwikkeling van plaaslike onbestendigheidsmodelle van die geïmpliseerde onbestendigheidsglimlag, is direkteur van die meestersgraadprogram in finansiёle ingenieurswese by Columbia Universiteit se Departement Bedryfsingenieurswese en Operasionele Navorsing.

Nadat hy sy HonsBSc aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het hy in 1973 ʾn PhD in teoretiese fisika van Columbia ontvang. He is aangewys as die IAFE/SunGard Finansiële Ingenieur van die Jaar 2000, en is in 2002 opgeneem in die Risk Hall of Fame.

Sedert 1995 het Derman baie artikels geskryf oor die wesenlike verskil tussen modelle in fisika en dié in finansies. Derman, tesame met Paul Wilmott, het die Financial Modelers' Manifesto geskryf – ʾn stel beginsels vir verantwoordelike finansiële modellering. Hy het ook Models. Behaving. Badly. geskryf wat in 2011 gepubliseer is, en het artikels in verskeie joernale waaronder Financial Analysts JournalRISKThe Journal of Portfolio Management, en The Journal of Derivatives gepubliseer. Sy memoir, My Life as a Quant: Reflections on Physics and Finance, is in 2004 gepubliseer en is as een van Business Week se top tien boeke van die jaar aangewys.

  • Foto (deur Hennie Rudman): By prof Derman op die foto is (v.l.n.r.) mev Amanda Visser, prof Ingrid Woolard (EBW-dekaan), en mnr Jannie Mouton van PSG wat die eerste lesing bygewoon het.