Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Natuurwetenskappe spog met twee Havenga-pryswenners vir 2018
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 15/10/2018

Twee wetenskaplikes van die Fakulteit Natuurwetenskappe het vanjaar die gesogte Havenga-prys vir onderskeidelik Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die Havengprys is 'n jaarlikse prestigeprys vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike vlak en kan net een maal aan 'n individu toegeken word. Dit is op 21 September 2018 tydens 'n glansgeleentheid in Stellenbosch oorhandig.

Vanjaar se ontvangers is Prof. Emile van Zyl, uitgelese professor in Mikrobiologie, en Prof. Ben Herbst, emeritus professor in Toegepaste Wiskunde.

Die Havengaprys vir Lewenswetenskappe is aan Prof. Van Zyl toegeken vir navorsing oor meer as 'n dekade op die gebied van omgewingsvriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe. In die jare 2000 het hy in samewerking met internasionale medewerkers stamme van bakkersgis in die laboratorium gesekp wat voldoende sellulase-ensieme produseer om sellulose af te breek en dan die vrygestelde suikers in een stap in etanol te fermenteer, 'n proses wat as gekonsolideerde bioprosessering bekend staan. Dit was destyds 'n wêreldeerste.

Prof. Van Zyl sê biobrandstowwe sal altyd 'n belangrike rol speel in die soektog na hernubare brandstofbronne vir veral swaarvoertuie, en vir die mariene- en lugvaartsektor: “Die kommersiële produksie van biobrandstowwe uit nie-eetbare plantoorblyfsels belowe om meer volhoubaar, omgewingsvriendelik en koste-effektief te wees, sonder om met voedselproduksie mee te ding. In die toekoms sal sellulose-etanol die beter en die meer bekostigbare alternatief word, veral in ag genome die indirekte koste van aardverwarming wat nie regtig by die gebruikskoste van fossielbrandstowwe ingereken word nie".

Die Havengaprys vir Fisiese Wetenskappe is aan prof. Herbst toegeken ter erkenning van 'n akademiese loopbaan vwat oor veertig jaar strek. Gedurende dié tydperk was hy vir meer as 15 jaar betrokke by die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade. Sedert 1998 was hy ook ten nouste betrokke by die vestiging van die jaarlikse Suid-Afrikaanse Simposium vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde. In 2015 het dié symposium sy 40ste bestaansjaar gevier met 'n uitgesoekte lys internasionale sprekers. Vandat is die SANUM-konferensie 'n gevestigde internasionale konferensie vir numeriese wiskundiges vanoor die hele wêreld.

In reaksie op die toekenning het Prof. Herbst gesê hy is dankbaar vir die erkenning, hoewel toekennings nog nooit deel van sy verwysingsraamwerk was nie: “Alles wat ek gedoen het, het ek gedoen uit passie en nuuskierigheid. En waar ek met entoesiasme gewerk het, saam met kollegas en studente wat vir my oneindig baie beteken het, was dit beloning genoeg."

Tydens die geleentheid het hy ook erkenning gegee aan sy ma, mev. Lenie Herbst, wat op 91-jarige ouderdom die geleentheid bygewoon het. Sy het heel tereg ook 'n rondte applous ontvang.

Nog 'n US akademikus, prof. Marlene van Niekerk, het die CL Engelbrechtprys vir Afrikaanse Literatuur vir haar digbundel, Kaar, ontvang; Prof. Lizette Joubert, hoofnavorser by die Landbounavorsingsraad se Infruitec-Nietvoorbij-navorsingsinstituut en buitengewone professor in voedselwetenskap aan die US, het 'n erepenning vir haar navorsing oor ​rooibos en heuningbos ontvang.

Op die foto's, prof. Emile van Zyl (links) en prof. Ben Herbst. Foto: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Foto: Anton Jordaan