Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale impak deur Matie Gemeenskapsdiens en Vrywilligerdiens
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 09/10/2018

Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling Sosiale Impak het onlangs sy algemene jaarvergadering (AJV) gehou. Die AJV is 'n platform vir verslagdoening oor die aktiwiteite van die MGD se drie programme – die primêregesondheidsorg-, matriek- en eenstopvrywilligerprogram – die afgelope jaar, en bied ook 'n geleentheid om die impak daarvan te vier.

Ter aansluiting by die jaarverslag wat deur Renee Hector Kannemeyer, Hoof: MGD en Adjunkdirekteur: Sosiale Impak, voorgelê is, het studente en vennote ook oor hulle indrukke van deelname aan MGD se programaanbod gesels.

 

Primêregesondheidsorgprogram

Die primêregesondheidsorg- (PGS-)program bied studente in die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 'n geleentheid om werklike kliniese ervaring met lede van die gemeenskap op te doen. Wade du Plessis en Nthabiseng Xashimba, albei MBChB-studente, het gepraat oor hoe hierdie program hulle studie en lewens verryk het. “Die program het my 'n rede gegee om my graad klaar te maak. Dit het my heeltyd herinner waarom ek gekies het om medies te studeer, en waarom ek moet aanhou, selfs al raak dinge moeilik. Dit het 'n instrument geword om my die sagter vaardighede vir interaksie met pasiënte te leer. Die PGS-program beteken baie vir die gemeenskap, sowel as vir die studente," het Wade gesê. Nthabiseng het die volgende bygevoeg: “Deur die PGS-program het ek reeds in my eerste jaar goed gedoen waarvan ek eintlik nou eers in my derde jaar leer, wat 'n mens se selfvertroue as 'n toekomstige mediese praktisyn help bou. Ons skakeling met die pasiënte gaan oor méér as net hulle patologieë. Dis 'n konstante herinnering aan die rede waarom ek hier is. Nou weet ek ook wat fisioterapeute en arbeidsterapeute doen, want ek kon met die studente in die aanvullende gesondheidswetenskappe gesels."

 

Matriekprogram

In vennootskap met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding bied MGD se matriekprogram onderwys en opleiding aan volwasse leerders wat hulle matrieksertifikate wil verwerf. Elizabeth Rhoda, 'n volwasse leerder, het vertel hoe sy elke dag in die program iets nuuts geleer het: “Dankie aan die toegewyde onderwysers vir hulle ondersteuning. Dankie aan MGD wat volwasse leerders hierdie geleentheid bied." Belangstelling in en inskrywings vir die matriekprogram neem stelselmatig toe.

 

Eenstopvrywilligerprogram

Om 'n kultuur van vrywilligerdiens onder studente van die Universiteit Stellenbosch te skep, bied die eenstopvrywilligerprogram studente die geleentheid om deur klusters of koshuise op sowel Stellenbosch- as Tygerbergkampus by vrywilligerprojekte betrokke te raak. Die student Georgina Barker, wat deelgeneem het aan 'n inisiatief om bande met die kinders van Cloetesville te smee, het gesê: “Hierdie uitreikaksie het my geleer dat kinders geliefd wil voel, en wil weet iemand is daar vir hulle. Ons moet almal 'n verskil maak waar ons kan en ander se lewe probeer beter maak – dís waarom hierdie uitreikprojek belangrik is. Ek het geleer om myself te wees by die kinders, en om te let op wat ek sê en hoe ek ander behandel."

 

Vir meer oor impak, raadpleeg die MGD-jaarverslag by: https://www.sun.ac.za/si/en-za/Documents/MGD/SU%20Social%20impact%20MGD%20Annual%20Report%20(AFR)%202017.pdf