Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eenheid vir Gelykwaardigheid versterk sy bemiddelingsprogram
Outeur: Dumile Mlambo
Gepubliseer: 05/10/2018

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EvG) het onlangs 'n groep van 16 Universiteit Stellenbosch (US) personeellede as bemiddelaars verwelkom nadat hulle die US Werkplek Bemiddelingskursus suksesvol voltooi het. Die kursus is oor vyf dae aangebied in samewerking met  Francois Botha, 'n bemiddelaar en verhoudingsstrategeet  in die Kantoor vir Inklusiwiteit en Verandering by die Universiteit van Kaapstad.

Gedurende die kursus het die groep uitgebreide opleiding ontvang in die bemiddeling van meerparty- en groepgeskille wat fakulteite, personeel en studente insluit.

Die groep het ook geleer oor die unieke aard van konflik in 'n akademiese omgewing en hoe om dit op te los. Uit verskeie fakulteite, afdelings en departemente sal hierdie bemiddelaars nie net die Universiteitsgemeenskap help om hul konflik in spesifieke situasies aan te spreek nie; maar  belangriker, om kohesie en wedersydse respek te bevorder.

Die eenheid sê hoewel daar verskeie maniere is om konflik by die werkplek te bestuur, beskou die US se beleid oor onbillike diskriminasie en teistering bemiddeling as die voorkeurstrategie vir die hantering van onbillike diskriminasie, teistering, seksuele teistering en viktimisering. Bemiddeling groei vinnig as een van die voorkeur alternatiewe benaderings tot konflikoplossing in die 21ste eeu, insluitend in die Hoër Onderwys-sektor in Suid-Afrika. Ons erken egter dat sekere sake nie met bemiddeling opgelos kan word nie.

Volgens die hoof van die EvG, Jaco Greeff Brink, was  90% van die bemiddelingsessies wat deur die eenheid behartig is (sedert hul ontstaan in 2016) suksesvol en was 'n ooreenkoms of 'n vriendskaplike oplossing bereik.

Hy voeg by dat die EvG sy bemiddelingsprogram in die 2018 akademiese jaar wil versterk om persoonlike ontwikkeling, konflikoplossing en interpersoonlike verhoudings te verbeter.

"Ons is opgewonde om die groep te verwelkom in ons poel van opgeleide bemiddelaars en hoop dat hulle die vaardighede en strategieë wat deur die loop van die kursus aangeleer is,tot voordeel van die US kan gebruik," het Jaco gesê.

Een van die kursusgangers het gesê dit was die verrykendste ervaring waaraan hulle nog ooit blootgestel was.

"Ek het die afgelope paar jaar my entoesiasme verloor om deel te wees van hierdie instelling, maar ek kan sien dat sulke eenhede steeds gefokus is op individuele groei en medemenslikheid", lees die opmerking op 'n kursusevaluering.

Nog een het gesê dat hulle die manier waarop die kursus gefasiliteer is, waardeer het en gesê dit was baie prakties en interaktief, en het hul grense verbreed.

"Bo alles, het die opleiding vaardighede gekweek wat ek in verskillende kontekste kan gebruik. Dit het ook die geleentheid gebied om selfrefleksie te doen", lees “n volgende  opmerking.

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid bevorder gesamentlike optrede vir sosiale geregtigheid, diskoers rakende sosiale asimmetrieë by die US en implementeer ook 'n omvattende MIV-strategie. Die Eenheid koördineer, fasiliteer en bevorder bewustheid oor seksualiteit, geslagsgeweld, MIV / Vigs en diskriminasie. Die Eenheid ontwikkel, koordineer en implementeer die US se Onbillike Diskriminasie en Teisteringbeleid, EndRapeCulture 2017 Verslagbevindinge en die US MIV / Vigsbeleid. Besoek ons  by Huis Simon Nkoli House ( Victoria Straat 39) vanwaar ons 'n gesentraliseerde diens vir studente en personeel in die hantering van gevalle van onbillike diskriminasie en verskillende vorme van teistering bied.​