Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontvang nasionale toekenning vir wetenskapskommunikasie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/09/2018

Dr Rehana Malgas-Enus, 'n opkomende navorser in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, is op Woensdag (26 September 2018) met ʼn toekenning van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) vereer vir die rol wat sy speel om wetenskapskommunikasie te bevorder en wetenskap en tegnologie vir die publiek meer toeganklik te maak. Sy het die NNS se Excellence in Science Engagement-toekenning ontvang. Die jaarlikse NRF-toekenningsgeleetheid erken en vier Suid-Afrikaanse navorsingsuitnemendheid.

Die Excellence in Science Engagement-toekenning gee erkenning aan navorsers by Suid-Afrikaanse universiteite en wetenskapsrade wat oor 'n lang tyd buitengewone bydraes lewer tot openbare betrokkenheid en openbare begrip van wetenskap. Dit moedig ook akademici aan om die publiek se betrokkenheid by en begrip van alle wetenskappe (insluitende tegnologie, innovasie, sosiale wetenskappe, geesteswetenskappe en inheemse kennis) te verbeter.

Malgas-Enus sê dit is vir haar ʼn eer om hierdie spesiale toekenning te ontvang.

“Ek is met nederigheid gevul dat hulle my pogings op hierdie wonderlike manier erken het. Ek wil ook my hartlike dank uitspreek teenoor my instelling om my bydrae tot uitreik te erken deur my vir hierdie spesiale toekenning te nomineer. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning en aanmoediging."

Malgas-Enus se passie vir wetenskapuitreik het daartoe gelei dat sy die Universiteit Stellenbosch Chemie Uitreik-inisiatief (oftewel SUNCIO) gestig het wat die wetenskapslaboratorium na minderbevoorregte skole neem.

Sy doen verskeie openbare wetenskapuitreike per jaar deur motiveringspraatjies met jong meisies te hou, die “laboratorium" na minderbevoorregte skole in geteikende gebiede te neem om wetenskap te bevorder, en artikels in gedrukte media te publiseer en radio-onderhoude te doen om wetenskap te bevorder en meer toeganklik te maak vir die algemene publiek. Sy het ook vier Praktiese Chemie-stelle ontwerp sodat leerders by skole wat nie 'n laboratorium of hulpbronne het nie, maklik die voorgeskrewe  fisiese wetenskappe eksperimente in hul klaskamers kan voltooi.

Malgas-Enus het in 2013 die RME-NANO-navorsingsgroep gestig wat fokus op die ontwerp en toepassing van organiese en anorganiese nanodeeltjies in areas soos die behandeling van afvalwater en bloedstolling. Benewens die NNS-toekenning, het sy ook die Claude Leon Merietetoekenning vir die beste dosent, die Rektorstoekenning vir Algemene Prestasie en die Kaapse Konsortium vir Hoër Onderwys se befondsingstoekenning vir uitreik ontvang.

Sy het artikels in die voorste tydskrifte in haar vakgebied gepubliseer en was ook studieleier en medestudieleier vir magister- en doktorale studente.

Malgas-Enus sê sy wil haar mede-opkomende navorsers aanmoedig om nie net wêreldklasnavorsing te doen nie, maar ook by te dra tot uitreik op 'n manier wat die grootste impak hê en ʼn verskil kan maak in gemeenskappe.

By dieselfde geleentheid is proff Michael Samways (Departement Bewaringsekologie en Entomologie) en Simon Schaaf (Pediatrie en Kindergesondheid) met spesiale toekennings vereer omdat hulle 'n A-graderings van die NNS ontvang het.

  • Foto: Dr Rehana Malgas-Enus (regs) saam met Dr Therina Theron, Senior Direkteur van die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling, by die toekenningsgeleentheid.