Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US weer onder wêreld se top universiteite op Times Higher Education-ranglys
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/09/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy posisie onder die wêreld se voorste universiteite verstewig, soos blyk uit die jongste Times Higher Education (THE) World University RankingsIn die 2019-weergawe, wat pas vrygestel is, word die US in kategorie 301-350 geplaas. Dit is 'n beduidende verbetering op verlede jaar toe die instelling in kategorie 351-400 ingedeel is.

Altesaam 1258 instellings wêreldwyd verskyn op die 2019-ranglys. Die Times Higher Education Wêrelduniversiteite-ranglys bied die volledige lys van die wêreld se beste universiteite wat volgens  onderrig, navorsing, aanhalings, internasionale uitkyk en bedryfsinkomste geëvalueer is. Dié data word deur regerings en universiteite vertrou.

In reaksie op die US se jongste prestasie, het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, gesê: “Die Universiteit Stellenbosch is ingenome met sy nuwe posisie op hierdie leidende en gesaghebbende globale ranglys. Hierdie tipe erkenning verleen ook verdere stukrag aan die verwesenliking van ons nuwe visie en strategiese raamwerk in terme waarvan ons Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wil word, wat wêreldwye aansien geniet as 'n plek van uitnemendheid, innovasie en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word."

Sy het bygevoeg dat ondanks die voorbehoude rakende en tekortkominge van ranglyste, help hulle om studente en akademici van regoor die wêreld na die US te lok en om effektiewe samewerking met ander universiteite, instellings en organisasies te bewerkstelling.

“Ons handhaaf 'n genuanseerde benadering tot universiteitsranglyste in die algemeen - gegewe die huidige realiteite van die instelling, ons land en ons vasteland, sowel as die metodologie van die verskillende ranglyst waaroor daar goed-gedokumenteerde meningsverskille is."

“Nietemin is die US se goeie prestasie op die Times Higher Education Wêrelduniversiteite-ranglys 'n sterk aanduiding dat die Universiteit inderdaad internasionaal erken word. Dit plaas die US onder die top 20% universiteite wat deel vorm van die 2019 Times Higher Education Wêrelduniversiteite-ranglys, en onder die top 1% van alle universiteite wêreldwyd," voeg sy by.

Volgens syfers van Suid-Afrika se Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het die US die afgelope agt jaar die hoogste navorsingsuitset per voltydse akademiese personeellid van alle universiteite in die land gehandhaaf.

  • In 2017 was daar meer as 3 500 internasionale studente uit meer as 100 verskillende nasionaliteite aan die US en het die instelling ook bande meer as 246 bilaterale vennootinstellings in 57 lande op ses kontinente gehad.