Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties vier Loslitdag
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 13/09/2018
Loslitdag, wat vanjaar sy 23ste jaar beleef, het ’n Suid-Afrikaanse tradisie geword wat die Universiteit Stellenbosch (US) elke jaar heelhartig ondersteun. Dit was daarom gepas dat die universiteitsgemeenskap op Vrydag 7 September die dag met ’n spelegeleentheid, in vennootskap met die Stellenbosch Werksentrum vir Volwasse Persone met Gestremdhede, gevier het. Die gebeurtenis wat die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede saam met Dis-Maties gereël het, is op Rooiplein gehou en die tema was “Wees ’n alledaagse Held vir Mense met Gestremdhede”.

Departemente en afdelings van die US het spanne ingeskryf wat in verskeie items teen mekaar meegeding het, gevolg deur die verwerking van die punte en die aankondiging van die wenner. Pryse is ook toegeken aan die bes geklede span en die beste dansers. Justice Force, die Regskliniek se inskrywing, het die spelespantoekenning ingepalm, terwyl die toekenning vir die bes geklede span deur Finansies se Super Moms-span opgeraap is. Soos verwag, het die Stellenbosch-werksentrum die prys vir die beste dansspan verower, nadat hulle almal met hul begeesterde dansitem beïndruk het. Die US was ook trots om die gasheer te wees van ’n Blinde Rolbalklub-span van die Westelike Provinsie wat teen twee US-spanne deelgeneem het in vriendskaplike wedstryde wat afsonderlik van die hoofkompetisie gehou is. Afgesien van die speletoekennings, het die studentevereniging Dis-Maties ook ’n prys vir voorspraak, ondersteuning en navorsingswerk in verband met gestremdheid toegeken, wat aan Luigia Nicholas gegaan het.

Die Adjunkdirekteur van die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste, Mumtaj Parker, het die geleentheid geopen en die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, het hom by die Direkteur: Transformasie, Monica du Toit, en ’n personeellid, Ulf-Dieter Koepp, aangesluit om die pryse teen die einde van die geleentheid uit te deel. Spesiale dank gaan aan mnr Bongani Mapumulo vir sy rol as seremoniemeester en die vele vrywilligers wat by die speletafels gewerk het. Baie dankie ook aan almal wat die geleentheid ondersteun het deur Loslitdagplakkers-plakkers te koop en die wedstryde as toeskouers bygewoon het.
 
Foto: Anton Jordaan​