Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekroonde US Regskliniek bied broodnodige ondersteuning aan die plaaslike gemeenskap
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 17/09/2018

Regsadvies en regshulp is dikwels nie toeganklik vir die arm en gemarginaliseerde gemeenskappe van die groter Boland-gebied nie, wat hulle kwesbaar laat vir skending van hul menseregte, soos deur uitsettings, misbruik en twyfelagtige skuldinvorderingspraktyke.

Dit is hier waar die Universiteit Stellenbosch (US) se Regkliniek intree, nie net om regshulp te bied aan diegene wat daarvoor in aanmerking kom nie, maar ook om die gemeenskap te bemagtig deur opvoeding in basiese finansiële vaardighede en verbruikersregte en verantwoordelikhede.

Deur die US Regskliniek se betrokkenheid is belangrike regsimpaksake, soos moontlike presedentskeppende diskriminasielitigasie en tamponbelastingvoorstelle, word die Kliniek erken as ʼn leier op die verskillende gebiede waarop dit werksaam is.

award.jpgTer erkenning hiervan het die US Regskliniek die prestasie-toekenning by die 2018 Afrika-regstoekennings ontvang. Die toekenning gee erkenning aan uitsonderlike prestasie in Afrika se regsgemeenskap. Die Regskliniek is die eerste ontvanger van hierdie toekenning.

Die geleentheid, wat deur Legal Week en die Korporatiewe Raadsvereniging van Suid-Afrika aangebied is, het op Vrydag 7 September 2018 by die Wanderers-klub in Johannesburg plaasgevind.

“Die erkenning deur die Korporatiewe Raadsvereniging van Suid-Afrika van ons prestasies behoort as motivering te dien vir dié individue en firmas wat ons doelstellings deel waar ons, as lede van die Afrika-regsgemeenskap, die belang van toeganklikheid van die wet vir almal op die prys stel en ondersteun. Dit help ons ook aansienlik met ons voortgesette strewe om ons visie te verwesenlik, en hiervoor is ons veral dankbaar," het dr Theo Broodryk, bestuurder van die Regskliniek in sy aanvaardingstoespraak gesê.

Die Regskliniek is werksaam as ʼn volledige prokureurskantoor met ʼn instapregsdiens, en bied regsdienste aan die armes en gemarginaliseerdes.

Hulp word vir ʼn groot verskeidenheid siviele sake aangebied, soos familiereg, skuldverligting en egskeidingsake, met ʼn gespesialiseerde fokus op plaasuitsettings, tans een van die belangrikste regskwessies in die Boland-streek. Uitsettings en gevolglike dakloosheid is ʼn werklike bedreiging vir die menseregte van plaaswerkers en hul kinders, aangesien hulle verstotelinge word met min hoop om ʼn heenkome te vind en hul gesinslewe te beskerm.

Interessante feite:

Tussen Januarie en Augustus 2018 het 1 397 mense van die Regskliniek gebruik gemaak. Hiervan was 626 bestaande kliënte. Van die 771 nuwe kliënte het 468 vir regshulp in aanmerking gekom.
stats_s.png

Die Kliniek kweek ʼn kultuur van burgerlike verantwoordelikheid, en bied werkswinkels aan oor uitsettings, skuldverligting en gesinsgeweld.

Mylpaal-inisiatiewe waarby die Regskliniek in 2018 betrokke was, sluit die volgende in:
  • ʼn Betoog aan die Nasionale Tesourie oor die bestaande lys van BTW-vrye items om sanitêre produkte vir vroue in te sluit. Die gebrek aan toegang tot higiëneprodukte vir vroue weens die hoë pryse van hierdie produkte wat as ‘luukse’ items beskou word, is ʼn groot probleem vir arm, kwesbare en gemarginaliseerde vroue en meisies in Suid-Afrika.
  • ʼn Betoog aan die Regsvereniging van Suid-Afrika om die monetêre jurisdiksie van howe vir klein eise te vergroot in ʼn poging om hierdie howe meer toeganklik en bekostigbaar vir almal te maak. 
  • Die instelling van geregtelike stappe, in vennootskap met Summit en tien ander aansoekers, teen 49 respondente in die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir geregtelike intervensie rakende sekere skuldinvorderingspraktyke waarvolgens krediteurs en invorderingsagentskappe koste, insluitende regsfooie, by debiteurs se rekeninge sowel voor as ná uitsprake kan voeg. 
  • Verteenwoordiging van Hendri Herbst, Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer, in ʼn moontlike baanbrekersaak rakende onbillike diskriminasie toe hy toegang tot ʼn restaurant geweier is omdat sy gidshond hom vergesel het. Daar word gehoop dat hierdie saak die aandag sal vestig op diskriminasie teen mense met gestremdhede, veral teen diegene wat nie toegang tot hulpbronne het nie en dit nie kan bekostig om ʼn regsgeding aanhangig te maak nie. 
“Dit is vir ons as ʼn kliniek belangrik om nie net te litigeer nie, maar ook op enige manier moontlik, deur litigasie of andersins, die doel te bereik om sistemiese regshervorming tot voordeel van arm en kwesbare individue te verseker,” sê Broodryk.

Die Regskliniek bied ook werkswinkels vir plaaslike gemeenskappe en gemeenskapsleiers aan wat op die basiese regte van individue fokus en bewustheid van die toeganklikheid van die Regskliniek verhoog.

“Die Regskliniek is ideaal geplaas om ʼn verskil te maak deur betrokkenheid by impaklitigasie. Deur dít te doen, veral deur dit met sukses te doen, is daar gewoonlik ná die tyd ʼn tasbare verskil ten opsigte van die aantal kliënte en professionele mense wat by ons om advies en hulp kom aanklop. Dit stel ons ook in staat om opleiding te gee oor die resultaat van die suksesvolle litigasie om te verseker dat die impak na die gemeenskap deursypel en nie net van akademiese belang is nie,” sê Broodryk.

Die Regskliniek bied opleiding aan finalejaar-regstudente en kandidaatprokureurs in die praktiese toepassing van die reg. Die studente sien ook kliënte en bied regsadvies onder toesig van prokureurs.

ʼn Belangrike inisiatief wat deur die Regskliniek onderneem word, is die Finansiële Geletterdheid-program. Dit is ʼn interdissiplinêre program wat in samewering met die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied word, waarin studente met die vaardighede toegerus word om opleiding aan plaaslike skole en plase te bied oor onderwerpe verbonde aan finansiële geletterdheid, soos begrotings, die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming. Dit bemagtig gemeenskapslede met die nodige inligting en vaardighede vir reaksie op en/of bestuur van kwessies soos finansiële beplanning, skuldbestuur, verbruikersregte en uitsettingsprosedures en om, waar regsingryping nodig is, die Regskliniek om regsadvies te nader. ​

Die Regskliniek het ʼn opwindende navorsingvennootskap in kliniese regsonderwys met Coventry Universiteit in Engeland gevestig, wat gebruik maak van robotika-tegnologie om regsopvoeding te bied. Studente van die regsonderwysprogram kry opleiding; is betrokke by konsultasies, onderhoude en tribunale; en werk in die algemeen met studente, personeel en kliënte in Coventry. Deur gebruik van wat in wese ʼn ‘groot iPad op wiele’ is, kan hulle beweging oor ʼn afstand beheer en interaksie met personeel oor groot afstande hê.

Die Regskliniek-webtuiste verskaf meer inligting oor hul dienste, regshulpbronne en selfs ʼn aanlyn middeletoets om te bepaal of ʼn individu vir regshulp in aanmerking kom.