Prestigeryke pryse is aan twee staatmaker-wetenskaplikes aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), van die Universiteit Stellenbosch, toegeken vir die aansienlike impak wat hulle navorsing op Suid-Afrikaners se gesondheid gehad het.
Die FGGW se proff Soraya Seedat en Gerhard Walzl het elk onlangs ʼn Goue Wetenskaplike Merietetoekenning ontvang van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR). Dié prys gee erkenning aan uitnemendheid in die gesondheidswetenskappe. Prof Anna-Lise Williamson van die Universiteit Kaapstad het ook ʼn SAMNR Goue toekenning ontvang vir haar werk in die vaksienveld.
Hierdie goue medaljes word jaarliks toegeken aan gevestigde seniornavorsers wat invloedryke wetenskaplike bydraes gelewer het wat ʼn impak op mense se gesondheid gehad het, veral diegene wat in ontwikkelende lande woon.
“Ek voel geëerd deur die erkenning, en was bevoorreg om die ondersteuning van die SAMNR te ontvang vandat ek as ʼn vroeë-loopbaan navorser begin het," sê Seedat, die uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Psigiatrie, wie se navorsing bygedra het tot die velde van psigiatriese en geestesgesondheid. Sy beklee ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Posttraumatiese Stressteurnis, en is ook die mededirekteur van die SAMNR se Eenheid vir Angs- en Stressteurnisse.
Seedat praat ook met lof van die bydraes wat kollegas en medewerkers tot haar loopbaan gemaak het: “Hierdie toekenning is ʼn aanduiding van kollektiewe prestasie van die navorsers met wie ek saamwerk en beklemtoon die medeafhanklikheid om vooruitgang te maak en wetenskaplike uitnemendheid te bereik."
Volgens Walzl, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Biomediese Wetenskappe, gee hierdie prys erkenning aan die werk wat hy en sy span gedoen het in die veld van TB-biomerkers, insluitend werk oor diagnostiek, behandelingsrespons-evaluasie, en die begrip van die beskermende immuunrespons.
“As ʼn span het die Immunologie Navorsingsgroep dit reggekry om groot internasionale befondsing te bekom, vooruitgang te maak in die veld van TB-biomerkers, belowende graduandi op te lewer, in top-joernale te publiseer, patentregte te bekom, en nou aan die voorpunt te staan van die proses om nuwe toestelle in die TB-veld te implementeer," sê Walzl. Hy is ook die direkteur van die Nasionale Navorsingstigting/Departement van Wetenskap en Tegnologie se Sentrum vir Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulose-navorsing.
Sy raad aan jong navorsers is om hulle passie te volg, en kragte saam te snoer met eendersdenkende mense wat dieselfde doelwit nastreef. “Vind die beste mense om by aan te sluit en werk dan baie hard."
Seedat deel sy sentiment: “Volharding is belangrik. Klein inkrementele prestasies sal die weg baan vir groter sukses, maar dit kan tydsaam wees. Bevraagteken jou toesighouers se idees, en moenie bang wees om vrae te vra nie. En moet nooit tevrede wees met minder as wat jou toekom nie!"